Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide

’n Liedjie vir ons drome

DEUR FRANCINE PRINS

As die lewe maar agtergrondmusiek gehad het! Met ’n drum roll kon aankondig wanneer jy ’n blink gedagte het. Of meevoerende musiek speel as jy die eerste keer jou groot liefde se hand vashou.

Maar nou het die lewe nie ’n klankbaan nie, en is dit maar bra onvoorspelbaar. Dit speel selde uit soos dit in ons drome lyk.

Maar tog hou ons aan droom oor wat die lewe nog kan bring. En dikwels word daardie drome tog waar. Ons kom dit soms nie eens agter nie, want drome-wat-waar-word is dikwels vermom in alledaagsheid. Alles waaroor ons gedroom het is daar, dit is net bedek deur die stukkies doodgewoon waaruit die lewe mos maar bestaan.

LEES OOK: Marciel Hopkins: ‘God droom dat jy van jou liggaam moet hou’

Ek het nog altyd gedroom daaroor om ’n ma te word. Ek het uitgesien na die vreugde van die moederskapreis, die liefde en die verwondering.

Maar ek het nie gedroom oor die honderd planne wat jy moet beraam om ’n kleuter besig te hou nie! Ook nie die konstante oppas of die soms vervelige oomblikke nie.

Ek het nie gedroom oor die swaar verantwoordelikheid wat ouerskap op jou laai nie. Maar ook nie oor hoe lig die liefde van ’n kind jou lewe maak nie. Ek het nie gedroom oor die eentonigheid van sommige dae nie, maar ook nie oor die diepte van verwondering as my baba die wêreld ontdek nie.

Ek het nie gedroom hoe diep ek in my geduld moet gaan delf wanneer my kleuter my frustreer nie. Maar ook nie hoe my hart sal bokspring as klein handjies om my nek gryp vir ’n hartstogtelike drukkie nie.

LEES OOK: My droom van hoop

Soms vergeet ek dat my droom waar geword het. Soms sien ek nie raak hoe baie my lewe lyk soos die prentjies in my drome nie.

Maar ander kere tref dit my.

As ek langs my dogtertjie sit terwyl sy ontdek hoe ’n speelding borrels in die badwater maak. Of haar oë vol sterre vir my kyk. Of as ek daardie koddige krulletjie agter haar oor indruk. Dan hoor ek dit. Saggies, maar duidelik genoeg vir dié wat ore het om te hoor: die ewige deuntjie van die lewe se agtergrondmusiek.

  • Francine Prins is redakteur van LiG se gedrukte tydskrif en sosiale media. Volg haar skryfwerk by #weeslig en #francineprins

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.