Esthea Moll
“My God is so groot, so sterk en so magtig. Daar is niks wat my God nie kan doen.”
Dit is die woorde wat my die afgelope twee jaar dra. Ek is ’n onderwyseres by Retief Hoërskool in Kestell, maar woon in Bethlehem.
Ons ry in ’n rygroep elke oggend skooltoe. Een oggend net voor Kestell se afdraai het ’n lorrie agter in ons vasgery. Ons was vyf in die motor. Langs my het my vriendin gesit en sy het bitterlik seergekry. Ek kon nie veel onthou want ek het ’n hoofbesering gehad. My vriendin is oorlede by die hospitaal en sy het ’n pragtige dogtertjie wat nog nie eers twee jaar oud is nie en ʼn wonderlike man. Hoe is dit moontlik?
Ek het my nek gebreek en hul het my na Bloemfontein gevlieg. My seuntjie was sewe maande oud en my man en moes reëlings tref sodat hul so vinnig as moontlik in Bloemfontein kon kom.
Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie. My vriendin het vir my gesing toe ons op toneel was: “My God is so groot, so sterk en so magtig. Daar is niks wat my God nie kan doen”. Dié woorde kan ek wel onthou en dis vir my baie spesiaal.
Ek het ’n nekoperasie ondergaan en die herstelproses was lank en uitdagend maar my wonderlike man en gesin het my ondersteun. Ek kon vir vier maande nooit my seuntjie self optel nie en my man het letterlik alles vir my gedoen.
Ons moes die verlies van ons vriendin wat oorlede is verwerk en na ʼn bietjie meer as ’n maand aan die einde van Desember 2017 is twee van ons kosbare vriende ook oorlede in ’n motorongeluk. ʼn Mens het begin vra hoekom want almal was so bitterlik jonk. Is dit God se plan?
Ons gesin en vriende het ’n eina beleef wat ons nie in woorde kon beskryf.
Op 13 April 2018 was my man na die Maluti Mighty Men-konferensie. Ek het hom gegroet en nooit gedink dat dit ons laaste keer sal wees. Op 14 April het ek die oproep ontvang Harald is oorlede. Hoe kon so iets moontlik wees? Ons is skaars twee jaar getroud ons seun is 11 maande oud. Ek wou skree! Hoe kon God dit toelaat? Ek was kwaad maar het later geleer dat God nooit iets op jou pad sal plaas wat Hy weet jy nie kan hanteer. Wian het een jaar oud geword ’n week later sonder sy pappa.
Op 28 November 2019 gaan my seuntjie ’n opehartoperasie ontvang. My man is oorlede aan hart-probleme. Ek het wonderlike familie en vriende wat my help en ondersteun maar die belangrikste is God hou vir my en Wian in die holte van sy hand en Hy sal ons nooit los. Ek weet verseker Hy het ’n groot plan met ons lewe en dat Hy ons in oorvloed gaan seën.
Ek kan vandag getuig dat my God groot is. Al is ek deur diep waters, weet ek verseker ek sou dit nie kon oorleef sonder God in my lewe nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.