Om te luister na verhale oor hoe God, te midde van tragedie en trane, hoop in iemand anders se lewe bring, bou jou geloof op. En sulke stories bemoedig dié wat self platgeslaan is. Dis waarom LiG ’n YouTube-kanaal geskep het. Sulke verhale moet eenvoudig vertel word!
“Toe sy begin vertel van daardie laaste oomblikke saam met haar kind … Dís waar ons so begin huil het,” onthou Conette le Roux en haar kollega Maryke Hansen.
Dié twee LiG-spanlede vertel van hul belewenis om video-onderhoude vir LiG se nuwe YouTube-kanaal te soek en op te neem. Dis getuienisse van mense wat te midde van bittere hartseer en ellendige tye hul geloof in die lewende God behou het. En geleer het hoeveel hoop en lig daar tóg in die donkerste tye te vind is.
Maryke vertel: “Dis vir ons ’n groot voorreg om mense die kans te gee om hul hart oop te maak. Mense wat nie akteurs is nie, en van wie die meeste introverte is, het met ons kom praat.”
Conette sê: “Hulle vertel hul storie, want hulle reken as hulle net een ander mens kan inspireer om op God te bly vertrou, is hul getuienis die moeite werd.”
’n Reeks video’s
Conette is LiG se webredakteur. Sy het haar sedert 2020 daarop toegespits om lesersgetuienisse by www.lig.co.za te publiseer. Dié getuienisse het soos ’n spreekwoordelike veldbrand versprei, en dit het vir haar ’n roeping geword om nog sulke stories te soek en dit te publiseer. Elke maand lees en/of kyk meer as 250 000 mense hierdie getuienisse.
Dikwels stuur lesers self hul hoop-storie sodat LiG dit aan meer mense kan oorvertel. Conette publiseer dan hierdie storie, of vang dit vas op video. Sy sê sy pak dié taak met ywer en vreugde aan.
Vroeër vanjaar het die vervaardigers van VIA TV (DStv-kanaal 147) vir Conette gevra om inhoudsvervaardiger te wees vir ‘n reeks video’s van hierdie getuienisse. Dit was ’n geleentheid om mense se lewensverhaal, en die eer wat God daaruit kry, aan ’n veel groter gehoor te bring.
Maryke is LiG se projekkoördineerder, en sy het ingespring om met die beplanning en administrasie te help, al die reisreëlings te tref, en die vrae te probeer beantwoord oor wat om aan te trek!
En só is die YouTube-kanaal LiG: God se krag in my krisis gebore.
‘Julle is nou op heilige grond’
“Dit was ’n volle 37 uur lank my taak om net te luister,” vertel Maryke oor die eerste reeks onderhoude. “In ’n stadium, tydens die opname van die video’s, kon ek voel hoe my hele binnekant begin bewe. Ek het toe besef die Here is naby. “Daar was ook ’n keer toe ek sommer in trane uitgebars het. Ek het daar in die donker ateljee gesit, daar was nie vensters nie, nie ’n luggie wat trek nie. Daar was gordyne teen die een muur. Toe, skielik, sien ek hoe een gordyn begin beweeg, so asof ’n wind daaroor waai. Dis onmoontlik dat daar wind in daardie ateljee kon wees. Onmiddellik het ek die Here in my hart hoor fluister: ‘Julle is nou op heilige grond.’”
Die LiG-span moes na roerende verhale luister. Daar was baie hartseer. “Ek voel egter nie ‘swaar’ nadat ek die stories aangehoor het nie,” sê Conette. “Ek voel nader aan die Here.
“Ons weet die lewe is moeilik. Maar hierdie mense het my geïnspireer om vas te hou aan die hoop en lig wat daar in God is.
“As jy God het, het jy altyd hoop.”
Lewenswysheid, hoop en troos
Die voorreg om ’n kanaal soos LiG: God se krag in my krisis te skep, is onder meer daarin geleë dat die wysheid en geloofservaring wat mense deur hul swaarkry verwerf het, ook die kykers seën.
Conette en Maryke dink terug aan die wyshede wat hulle kon aanhoor. “Weet jy wat het ’n tienjarige kankerlyer vir ons gesê? Sy het toe pas van haar 25ste bestralingsessie af gekom en sy het gesê: ‘Daar is baie mense wat slegter daaraan toe is as ek.’”
Hulle onthou ’n ma wat agt jaar lank ’n moeilike stryd teen infertiliteit gevoer het. “Hulle het uiteindelik ’n seuntjie gehad, wat voor sy vierde verjaardag aan ’n seldsame siekte gesterf het.
“Daardie ma het vir God gesê: ‘Hy is nou Joune.’
“En God het haar geantwoord: ‘Hy was nog altyd Myne.’
“Ons het weer ’n ewigheidsperspektief gekry. Ons het opnuut besef wat belangrik is in die lewe, en hoe dankbaar ons moet wees.
“Gelowiges is nie van swaarkry gevrywaar nie. Maar deur die swaarkry is God by ons.”
Om God se hoop te bring
“In die proses om die episodes vir ons kanaal te skep, het die Here my aan my eie storie herinner, en aan sy hand daarin,” vertel Conette.
“Ek het as kind dikwels by my ouma en oupa op Kroonstad gekuier. Wanneer ons saans saam Bybel lees, het my oupa altyd vir my gesê: ‘Conette, jy moet eendag ’n dominee word.’
“Dan het ek my arme broer en niggie laat sit sodat ek vir hulle uit Psalms kon voorlees!”
Conette het toe nie ’n dominee geword nie, maar sy help om God se hoop na ander te bring. Om sy goeie nuus die wêreld in te stuur, een kosbare getuienis op ’n slag.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.