Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ons gesin is ’n kleurvolle, saamgeweefde tapisserie van liefde’

Ek sou my nooit kon indink dat ek vandag hierdie verhaal sou vertel nie, maar so is dit. En ek verruil dit vir niks in die wêreld nie.

My storie klink só: Toe ons in 2016 getroud is, wou my man Cornelius en ek dadelik met ’n gesin begin. Maar ná toetse en toetse en nogmaals toetse het ons besef dat ’n gesin ons nie beskore sou wees nie. Ons het wel aanhou hoop.

In 2019 het ons besluit om ’n kindjie aan te neem. Ek sal nooit my pa se woorde vergeet toe ons dit vir hom en my ma vertel nie. “Carol,” het hy gesê, “dit maak nie saak of die kind pienk, blou of geel is nie, ek sal die beste oupa ooit wees.”

Maar toe kom 2020 en Covid-19 slaan toe, en alles word vir eers op die lange baan geskuif. Die Here het egter sy eie planne vir ons gehad. Toe die streng inperkingsmaatreëls weer verslap is, het ons by my ouers in die Karoo gaan kuier. Soos ons dit gewoonlik op ’n Sondag daar doen, het ons gesin kerk toe gestap.

LEES OOK: ‘God leef!’ vertel ma ná aanneemseun haar opspoor

Die gemeente het toe net ’n nuwe pastoor ontvang, wat natuurlik nie van ons seer geweet het nie. Hy het begin preek, en die Heilige Gees het hom gelei om vir verskillende mense te bid.

Ek het in daardie stadium gedink dat ek ’n diep verhouding met God gehad het, en ek het toe sommer vir Hom in daardie stil oomblikke gesê dat ek nie omgee wat vandag hier gesê word nie. Dis Middelburg, en ek sal nié vorentoe gaan dat daar vir my gebid word nie.

Pastoor Dirk het begin om vir mense te bid wat hulle in verskillende soorte nood bevind. Toe het hy gesê: “Hier is mense wat siek is …”

“Ja, Here,” het ek dit stilweg beaam, “my baarmoeder is siek, maar ek gaan net hier bly sit.”

‘A baby for you’

Maar wie kan God se werk keer? Die volgende oomblik het die pastoor gesê dat daar ’n getroude paartjie in die kerk is met ’n begeerte na kinders. En dat hulle al lank daaroor bid.

Hoe ontsnap jy hieruit; die boodskap was dan vir óns? Ons het toe vorentoe gegaan, daar is vir ons gebid, die pastoor het ons voete gesalf, en my baarmoeder en ons elkeen se voorkop.

Toe ons ná die diens by die kerk uitgaan, het ’n ouerige tannie my en Cornelius aan die hand getrek. Sy het vertel dat terwyl die pastoor vir ons gebid het, sy iets gesien het:  “A spring blossom with a baby for you inside.”

Daarna het ek deurentyd met die woorde “a baby for you” in my hart geloop.

In 2021 het ek al twee my ouers vanweë Covid-19-verwante siektes aan die dood afgestaan.

‘As God so sê, wie is ons …?’

Iewers in September 2022 het ek een aand wakker geword, en Abba het duidelik met my gepraat. Hy het my aangesê om ons ekstra kamer in ’n babakamer te omskap.

My eerste reaksie?

“U is seker lekker laf!”

Maar ek het Cornelius wakker gemaak en hom alles vertel. En sý eerste reaksie?

“As God so sê, wie is ons om daarteen te stry?”

Toe begin ons babagoedjies koop, alles in neutrale kleure, want ons het nie geweet wat Abba vir ons beplan nie. Op 9 Oktober, die oggend ná kerk, het ons die laastes gaan koop – ’n baba-bad en ’n baba-stoeltjie.

“Ek wil hiermee vir elke vrou, elke gesin bemoedig, moet nooit ophou bid, glo en vertrou nie. Al sê die mediese wêreld dit is nie moontlik nie, God weet altyd beter en is in beheer,” sê Carol oor haar gesin. Op Carol se skoot is Olerato (regs) en Lily toe hulle nog babas was. Foto verskaf

‘Wat van doeke?’

Daardie aand, terwyl ons ’n bordspeletjie speel, het my foon gelui. ’n Stem het gesê: “There is a little black boy; do you want him?”

Natuurlik wou ons hom hê!

Ek het dadelik my een vriendin gebel, wat deurentyd hard saam met ons gebid het, en ek het haar gevra of sy asseblief vir my formulemelk sal bring, ek sal later verduidelik. Gou het sy my teruggebel en gevra: “Wat van doeke?”

Twee ure later het ek, my man en Olerato op ons bed gesit. Die trane het oor my wange geloop. My “a baby for you” het uiteindelik aangekom. Alhoewel ons daarna hartseer beleef het omdat ons teenkanting gekry het van familie, vriende en selfs van kerke, het ons geweet dat dit God se plan vir ons is.

In Januarie 2023 het ons by Cornelius se nefie in die hospitaal gaan kuier. Met ons vertrek het ek niemand in die wagkamer gesien nie. Maar toe ek weer kyk, toe sit sy daar – ’n vrou, wat ons storie geken het. Nadat ons ’n rukkie met haar gesels het, het sy gesê sy weet van my begeerte na ’n dogtertjie. En, het sy bygevoeg, sy weet vir seker dat ons voor die einde van die jaar een sal hê.

Toe is sy net weg.

‘Natuurlik!’

Die maande het gekom en gegaan en ons het Olerato se groei en die bereiking van sy mylpale geniet en gevier. Op 11 Oktober het ek gehoor van ’n dogtertjie wie se mamma aan kanker gesterf het. Naarstiglik het ek probeer om Cornelius by sy werk in die hande te kry, maar hy was besig.

Toe ons uiteindelik kon praat, het hy net gesê: “Natuurlik!”

Donderdag 12 Oktober 2023 was ’n reënerige dag. Ons was baie opgewonde oor wat die dag sou oplewer. Uiteindelik het die maatskaplike werker, terwyl ’n woeste storm buite gewoed het, my dogtertjie Lily Botchelo in my arms gesit.

My vriendin het later gekom om Lily te ontmoet, en sy het my aan die vrou in die wagkamer se woorde herinner.

Vandag is Olerato ’n besige, slim driejarige. En Lily ’n pikante, lief-vir-sing, amperse tweejarige.

Met hierdie getuienis wil ek elke vrou bemoedig, elke gesin, wat in dieselfde bootjie verkeer as dié waarin ons was. Ek wil vir julle sê: Moet nooit ophou bid, glo en vertrou nie. God weet wat die beste is. Hy is altyd in beheer.

En ek onthou gereeld dié woorde: “We’re not just a family; we’re a community, a village, a tapestry of love, woven together with threads of different colors, textures, and patterns.”

  • Die Du Toit-gesin woon in Bloemfontein.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF