Lael* Malherbe se siekte-storie het met ’n hoofpyn begin. ’n Kloppende, aanhoudende pyn wat sy probeer ignoreer het. Dit sou tog net iets kleins wees – ’n bietjie moegheid, of ontwatering ná ’n hokkiewedstryd.
Sy was ’n atleet en ’n akademiese presteerder. Siekte was nie deel van haar plan nie …
Binne enkele weke het haar lewe verander. Vir die meisie wat eens vol energie was, was dit skielik ’n stryd om op te staan. En dit was maar die begin van ’n geveg wat haar geloof sou toets soos nooit tevore nie.
’n Lewe vol belofte
Lael was nog altyd ’n gedrewe mens. Sy vertel: “Ek het geglo dat ek enigiets kan bereik as ek my daarop toespits.” Sy was destyds ’n leerder aan Eunice High School in Bloemfontein, ’n skool wat bekend is vir akademiese en sportprestasies. Lael het hokkie gespeel. Sy het die Vrystaat in binnenshuisehokkie verteenwoordig terwyl sy op skool was. Sy het ook elke jaar die Midmar-myl geswem.
LEES OOK: Nege maande om te leef, en nou is my kind nege jaar ‘skoon’ van kanker
Haar akademiese prestasies was net so indrukwekkend. “My gemiddeld was altyd in die hoë sewentigs en tagtigs,” vertel sy.
Daar was geen grense aan haar potensiaal nie, en sy het geweet dat haar talent en haar harde werk haar sou beloon. “Dit het gevoel asof ek die wêreld aan my voete het.”
Maar toe kom die eerste tekens dat iets nie reg is nie.
Die eerste waarskuwing
In 2017 het Lael aan ’n nasionale binnenshuisehokkietoernooi in Kaapstad deelgeneem. Sy was 15 jaar oud. Gedurende die toernooi het sy hoofpyn ontwikkel. Dit was nie “gewone” hoofpyn nie; dit het met naarheid, balansprobleme en ligsensitiwiteit gepaardgegaan. “Ek het gedink ek is gedehidreer,” vertel sy vandag. “Ek moes net ’n bietjie rus.”
Maar terug by die huis het haar toestand versleg. Haar koors het gestyg. Sy kon nie eet nie. Selfs loop was ’n stryd. Haar ouers het haar dadelik hospitaal toe geneem.
Die dokters het alles probeer om die fout te kry – MRI-skanderings, bloedtoetse, noem maar op. Maar daar was geen duidelike antwoorde nie. Dit was ’n tyd vol onsekerheid en vrees vir Lael en haar mense. “Dit het gevoel asof ek in ’n donker tonnel is, sonder ’n lig aan die einde.”
Uiteindelik was daar ’n diagnose: Dit was ’n breingewas.
“Ek het nie geweet hoe om daarop te reageer nie,” vertel Lael. Die chirurg het verduidelik dat die gewas op ’n sensitiewe plek sit. Hy het bygevoeg: “Ons kan nie nou opereer nie. Ons moet dit monitor.”
Lael moes drie maande wag. Dit was drie maande vol vrees en vrae. En baie gebede.
Die donkerste dae
Lael vertel dat sy haar van haar vriende en familie onttrek het. “Ek wou nie hê mense moet my as ’n slagoffer beskou nie.” Snags het sy wakker gelê en op die internet na inligting oor breingewasse gesoek. Die statistieke was skrikwekkend. Haar geloof is tot die uiterste toe getoets.
Twyfel het soos gif deur haar begin spoel, en sy het gewonder of God nog vir haar lief is.
“Ek glo Hy het my geantwoord om my te wys dat niks my uit sy hand kan ruk nie. Nadat twyfel en vrees my dag en nag aangeval het, het ek allerlei tekens in die natuur begin raaksien: ’n Mot het voor my kom sit en sy vlerke oopgemaak, en die patroon op sy vlerke was in die vorm van ’n hart; klippe, waterpoele, skulpe – oral waar ek gegaan het, het ek hartvorms gesien.”
Haar ouers, wat albei in die bediening is, het bly bid. Ma Ursula vertel: “Ons het geweet God is groter as hierdie diagnose.” Hulle het vas geglo dat ’n wonderwerk moontlik is.
Ná drie maande is hulle terug hospitaal toe vir die opvolgondersoek. Hulle was vol hoop. Maar die uitslag het almal geskok: Die gewas was nou dubbeld so groot.
Die dokter het aanbeveel dat hulle dadelik ’n biopsie doen. Dit was ’n risiko, maar dit was noodsaaklik. “Die operasie sou drie ure duur,” vertel Lael. Uiteindelik was dit sewe ure lank. Haar ouers het in die wagkamer gesit en deurentyd gebid.
Toe die verpleegster uit die teater kom, het sy net gesê: “Alles gaan goed.” Hulle was oneindig verlig.
Maar Lael kon ná die operasie nie beweeg nie. Sy moes weer leer sit, leer loop en selfs leer om haar arms te lig. “Dit was die moeilikste ding wat ek nog ooit moes doen,” vertel sy.
Die pad na herstel
Haar liggaam was swak, maar haar gees was sterk. “Ek het geweier om toe te laat dat hierdie siekte my onderkry,” vertel sy.
Die herstelproses was tydsaam: Eers vyf minute sit, dan haar tone beweeg. Maar stadig, dag ná dag, het sy sterker geword.
“Dit het maande geduur voordat ek weer normaal gevoel het.” Maar sy het nie moed opgegee nie, inteendeel. Drie maande ná die operasie het sy die Midmar-myl binne 32 minute voltooi. Dit was ’n reuse-oorwinning.
Sy sê sy het aan Filippense 4:13 vasgehou: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Toe die finale uitslae van die biopsie kom, was almal stomgeslaan. Die gewas was nie kankeragtig nie. Dit was die wonderwerk waarvoor hulle gebid het. Die gewas het boonop in die volgende klompie maande begin krimp.
Elke dag ’n geskenk
Lael se lewe het nooit teruggekeer na hoe dit was nie; dit het ’n nuwe betekenis gekry. “Ek beleef nou elke dag as ’n geskenk,” vertel sy. Sy weet immers hoe vinnig dinge kan verander.
“Daar was ’n tyd toe ek net weer wou loop.” Nou kyk sy terug op die pad en sien hoe ver God haar gebring het.
Lael het ná skool ’n graad in teologie verwerf en vandag is sy by kinderbediening betrokke.
Haar boodskap aan ander is eenvoudig: “Moenie toelaat dat jou beproewings jou definieer nie. God kan enigiets gebruik om jou sterker te maak.”
* Lael beteken “aan God toegewy”.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.