Uit Polokwane vertel Antonette Koekemoer van kinderjare sonder haar biologiese ouers, hoe sy later met haar ma versoen geraak het – maar hoe sy haar ook weer té vroeg moes groet nadat sy vermoor is.
Ek het baie verwerping in die lewe ervaar omdat ek as klein kindjie vervreemd geraak het van my biologiese ma en nie my biologiese pa geken het nie.
Op ’n vroeë ouderdom is ek eers in pleegsorg geplaas, daarna is ek vir ’n kort rukkie na Abraham Krielkinderhuis voor ek terug is na my pleegouers. Ek beskou myself as baie gelukkig om binne ’n liefdevolle pleegsorghuis te kon grootword. Ek dank die Here nog elke dag vir hulle.
Ek was al die jare vervreemd van my sussie; ek het haar eers op 18-jarige ouderdom ontmoet. My ouer boetie het op ’n baie jong ouderdom aan dwelms verlaaf geraak en leef vandag nog op straat. Elke keer wanneer ek hom sien, krimp my hart ineen.
LEES OOK: ’My monster was my eie ma, maar my aangenome seuntjie help my genees’
‘Ek moes my ma vergewe’
Vandat ek 18 was, het ek en my biologiese ma ons verhouding begin herbou. In die proses van mekaar weer vind, moes ek haar vergewe, anders sou die seer my heeltemal ingesluk het. Uiteindelik het ons baie geheg geraak aan mekaar, onafskeidbaar.
Nadat my biologiese ma, Lindie, se tweede man in 2015 oorlede is, het sy iemand baie spesiaal ontmoet. Hulle is in 2017 getroud en uiteindelik was Pa Obie iemand wat ek as stiefpa kon aanvaar. Hy het nie kinders van sy eie gehad nie en was baie lief vir ons; ’n mens vol lewensvreugde.
Ek en my ma het wonderlike tye saam gehad, daar was soveel jare om op te vang! Ons het naby mekaar gewoon en het mekaar geniet; sy was my beste vriendin. Intussen het my ma ’n geliefde persoon in die gemeenskap geraak, ’n skouer vir baie mense al het sy self die seer van die lewe geken.
Middel Augustus 2022 het ek en sy ’n baie lekker ma-en-dogterdag gehad. Ek het haar nog daardie Saterdag 15 Augustus gesien, maar twee dae later kry ek die hartseer oproep: “Jy moet kom, Mamma is dood.”
Die moeilikste ding wat ek nog ooit in my lewe moes doen was om my ma se bebloede liggaam te sien.
Die prentjie van haar lewelose liggaam, wreed vermoor, is vasgebrand in my gedagtes. Dit was asof alle lewe uit my uitgegaan het. Dis ’n tipe seer en rou wat ek nie kan beskryf nie.
Die verdagte in haar moordsaak is kort daarna in hegtenis geneem en sedertdien is dit hofsaak op hofsaak. Twee jaar later is hy steeds nie gevonnis nie. Dis ’n ánder tipe gevoel om jou ma se moordenaar in die oë te kyk en te weet hy het iets so kosbaar van jou gesteel. Dit voel soos die steel van tyd en kosbare oomblikke saam met haar, en die steel van liefde en herinneringe-maak. Ons het heeltemal te min tyd saam met mekaar gehad.
‘Trauma verander jou denke’
So ’n drastiese gebeurtenis verander ’n mens; dit verander jou denke en hoe jy dinge in die lewe sien. Voor ek myself kon kry, het ek in my ma se skoene ingeklim en so goed as moontlik na Pa Obie begin omsien.
Hy kon my ma se dood glad nie verwerk nie. Vyf maande ná haar dood het hy ’n wrede plaasaanval beleef. Dis net deur die Here se genade dat hy oorleef het. Hy het hard probeer om weer moed te skep, maar na dit alles was dit net ’n afdraande pad met sy gesondheid én sy gemoedstoestand.
Ek het elke aand na werk gaan sorg dat hy kos het, huis skoongemaak, hom so goed moontlik ondersteun. Hy was altyd so bang hy verloor my ook; hy’t geglo ek is die naaste persoon wat hy van my ma oor het.
Tien dae voor ons my ma se eerste sterfdatum sou herdenk, het ons op hom afgekom; leweloos in dieselfde huis, net ’n paar treë van waar sy gesterf het. Die eensaamheid en rou oor my ma was net te erg vir hom.
Ek moes binne een jaar twee mense begrawe wat baie na aan my was. Eers ná Pa Obie se dood het die seer en donkerte my begin insluk, want ek was so besig om my ma se plek vol te staan dat ek nie kon rou nie. Dis ’n seer wat ek niemand toewens nie.
Ek verlang na hulle, maar deur hierdie hele proses het God my getrou gedra. Daar was dae wat ek nie eens kon opstaan nie, maar Hy was daar. Ek het geleer dat as alles om jou donker is, dit makliker is om die lig te sien. My lig is Jesus Christus.
Ek het intussen aan ’n boek oor my lewensverhaal begin skryf – hoe verwerping en seer ’n mens kan verwoes, maar ook hoe ek die liefde vir my ma gevind het. En hoe om te vergewe, en om myself te vergewe.
Diep binne-in my brand die begeerte om alles wat in my lewe gebeur het, te gebruik om ander mense te help. Daarom studeer ek nou trauma- en Bybelse berading. Alles wat in my lewe gebeur het, mag nie verniet wees nie!
Mense vra my dikwels: ‘Haat jy nie vir God nie?’ My antwoord is maklik: Nee, want ek weet hierdie dinge was nie sy wil nie.
Dis soms moeilik om vas te hou, maar as jy aan Jesus bly vashou, selfs al is dit net aan die soom van sy kleed, is dit meer as genoeg. God is groot en dit alles is sy bevestigde plan vir my lewe.
Ek is gelukkig getroud met ’n wonderlike man wat my deur alles ondersteun. Sonder hom sou ek dit nie kon doen nie.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.