Toe Bianca Percent (37), ’n verpleegkundige in Kaapstad, in 2014 met die paramedikus Nathan Percent getrou het, het hulle nie gedink dat daar soveel struikelbokke op hul pad sou beland nie.
Hulle was oorstelp ná hul baba Emma se geboorte. Maar daarna het twee swangerskappe in ’n miskraam geëindig.
‘Sy hart breek elke keer’
Bianca vertel vandag van hul reis met onvrugbaarheid: “In 2022 het ons die groot (en duur) sprong geneem toe ons by Groote Schuur-hospitaal se in vitro-kliniek geregistreer het. In vitro-bevrugting (IVF) beteken letterlik “bevrugting in ’n glasbuis”.
“Ek, Nathan, en ons familie was buitengewoon opgewonde en daar was by ons geen twyfel dat dit sou werk nie.
LEES OOK: Geen hoop vir baba met breinkanker, maar God hou sy beloftes
“Ons eerste IVF-siklus het geëindig in ’n chemiese swangerskap (waar die eiersel vanself opgehou groei het) en die volgende vier rondes het niks opgelewer nie. Ná ritse en ritse bloedtoetse, hormoonbehandelings en sonars, en die gepaardgaande druk wat dit op ’n egpaar plaas, was ons verpletter.
“Ek het nie besef hoe die hele proses vir Nathan raak nie, totdat hy my eendag laat roep het en gesê het hy kan nie langer hierdie erge hartseer hanteer nie. Hy het gevra of ons nie maar hierdie hoofstuk sal afsluit nie, want sy hart breek elke keer as ’n negatiewe swangerskaptoets ons hoop en drome verpletter.”
’n Massiewe massa
Twee jaar later, tydens ’n roetine-ondersoek, merk Bianca se ginekoloog ’n massiewe massa op een van haar eierstokke op.
Bianca vertel: “Gelukkig spesialiseer my ginekoloog in onkologie. Sy het verduidelik dat die groeisel, die baarmoeder en die eierstokke uitgehaal sou moes word. Daarna is ’n volledige histerektomie op 15 Julie vanjaar uitgevoer.
“As verpleegster was ek bewus van die pyn wat op my gewag het en die herstelproses wat voorgelê het. Maar toe die tumor tydens die operasie skeur, en die inhoud daarvan deur my buik versprei, het my diagnose na ovariële kanker verander, fase 1C.”
Nathan en Bianca het hul gevoelens hieroor openlik met mekaar bespreek. Hulle het mekaar beloof om oor alles wat dalk nóg oor hul pad sou kom, openhartig met mekaar te wees.
Hul eerste uitdaging was vier rondes van twee verskillende soorte chemoterapie.
‘Ondersteuning maak enige reis makliker’
Die chemoterapie-kliniek se kleurryke voorkoms en warm glimlagte het hulle verras. Bianca vertel: “Ons het ’n morbiede atmosfeer verwag; die plek is immers vol siek, hartseer mense. Gelukkig was ons verkeerd!
“Ons het báie ondersteuning in daardie kliniek gekry.
“Ek het geleer dat elke mens verskillend op chemoterapie reageer; pasiënte se kankerreise verskil van mekaar. My grootste les? Moet nooit by TikTok of ander sosiale media-bronne na mense se chemoterapie-stories kyk nie. Dis negatief en ontstellend.
“Ja, dit is so dat die eerste week ná elke chemoterapie-sessie iets verskrikliks is; niemand kan dit ontken nie. Daardie gevoel van doodmoeg wees, en die pyne in jou beenstruktuur, slaan jou soos ’n baksteen teen jou lyf. Danksy die medikasie wat ek ontvang het, was die gevreesde naarheid egter onder beheer.
“En tuis was Nathan omtrent ’n superster met sy ondersteuning.
“Ek het geleer om deur die dag met God te gesels, om hulp te vra én herhaaldelik dankie te sê. Soveel mense het my ondersteun, vir my gebid en my aangemoedig om aan te hou bid vir herstel.
“Nathan se ma het daarop aangedring dat ons voor die eerste chemoterapie-sessie by haar huis moet nagmaal hou. Ons hele familie, regoor die land, het per WhatsApp-video hierby aangesluit. Dit was báie spesiaal.
“Voor elke sessie wou my skoonma ook eers vir ons bid. Dit het baie kalmte en vrede gebring.
“Familie en vriende het elke keer se sessie, wat ses ure geduur het, met hul besoeke opgekikker, en met hul oproepe en video-gesprekke. En wanneer Nathan kon saamkom, het ons Scrabble gespeel.
“Die dag toe ek my hare afskeer, het my ma dieselfde gedoen. Op my broer se troudag het hy en feitlik al die mans hul kop kaal geskeer om te wys hoeveel hulle omgee.
“Ondersteuning maak enige reis makliker.”
Nog voor die chemoterapie afgehandel is, het Bianca haar swaarkry begin verander na iets positiefs. Sy vertel: “Ek móés eenvoudig ’n verskil maak, oral waar ek beweeg. Ek wou nie net op myself konsentreer nie.
“Aanvanklik, toe alles nog nuut en seer was, was ek bloot vriendelik met almal wat ek teëgekom het. Buitestanders weet nie altyd watter hartseersituasies ander moet deurmaak nie.”
’n Spontane ommekeer
Omdat Bianca graag soveel moontlik vroue wou bereik met die boodskap dat ovariële kanker vroeg opgespoor moet en kan word, het sy ’n Facebookblad genaamd Bee’s Tee’s ontwerp. “Ovariële kanker is so ’n stil vabond,” sê sy. “En vroue kom dit dikwels te laat agter. Gereelde mediese ondersoeke help met vroeë opsporing. Deur Bee’s Tee’s doen ek nou bewusmakingswerk, verkoop ek goeiekwaliteit T-hemde en versprei ek positiwiteit.
“My vriendin Kim Riley het voorgestel dat ons T-hemde ontwerp en verkoop. Sy was bewus van ons doktersrekenings wat maandeliks opstapel. Sy het haar eie kleremaatskappy, maar sy wou geen sent wins hê nie.
“Die klerebedryf is egter vér van my beroep af. Gee my ’n siek mens en ek sal hom/haar versorg. Maar ek en Kim het T-hemde met positiewe boodskappe ontwerp – van babafrokkies tot grootmenshemde, en hopelik ook kappie-tops vir die winter. Toe ons binne die eerste week ’n bestelling vir 40 hemde kry, was ons in ekstase.
“Omdat my ouma Sylvia in 2014 weens borskanker gesterf het, lê Oktober as borskankerbewustheidmaand my na aan die hart.
“Toe hoor ek van Project Flamingo, waar vrywillige verpleërs en dokters in hul vrye tyd staatspasiënte opereer ten einde die lang lys pasiënte met ’n verskeidenheid soorte kanker, wat hoofsaaklik deur vroue opgedoen word, te verminder. Net daar het ek besluit dat Oktober se wins na Project Flamingo sou gaan.”
Eensklaps het dit toe nie meer oor haarself gegaan nie, want haar fokus het na Bee’s Tee’s verskuif, en die verskil wat dit in die lewe van ander vroue met kanker bring.
“Die oomblik toe ek besef hoe bevoorreg ek is om ’n mediese fonds en sóveel ondersteuning te kon hê, het hierdie ommekeer spontaan plaasgevind.
“Ek kan met groot empatie na ander mense en hul probleme luister, en ek kan hulle ondersteun. In teenstelling hiermee sal ek my eie probleme ‘overthink’ – en dan paniekerig raak. Gelukkig is Nathan my kalmte, my hele ondersteuningstelsel, wanneer my wêreld uitmekaarval.
“Ek het ook ’n groep vriendinne, en ons ondersteun mekaar daagliks.”
Bianca en Nathan se dogtertjie Emma Sylvia Percent is haar en haar man se groot vreugde. “Sy is vernoem na my ouma Sylvia. Emma is ’n klein babbelkous, sy is intelligent, en sy bring ’n glimlag oral waar sy gaan. Onlangs het sy vir die eerste keer met ’n skok besef sy sal altyd ’n alleenkind wees. Maar omdat ons gesin mekaar voluit ondersteun, weet ek ook dit sal oukei wees.”
- Loer gerus na www.beestees.co.za en Project Flamingo op Facebook.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.