Veiligheid, gesondheid, vreugde, en ’n lewe in oorvloed.
Dít is enkele dinge wat ouers hulle kinders gun.
Maar wie bid dit van God vir hulle kinders af? Is dit nie wat ouers in die eerste plek veronderstel is om te doen nie?
Soms het ’n ma en ’n pa wel ’n bietjie leiding nodig, aanmoediging selfs, om te begin en om aan te hou bid. En waar is daar ’n beter bron as die Bybel? God se Woord, waarin ons gebed-woorde vind wanneer ons s’n opraak.
LiG het ’n aantal Skrifgedeeltes uitgesoek wat jou in jou gebede vir jou kind kan lei. Lees dié gedeeltes biddend deur – en bid dit dan, oor en voor jou kind.
Deur Karen van der Berg
- 1 Johannes 5:14-15 “En nou kan ons met vrymoedigheid na God gaan, omdat Hy ons gebede verhoor as ons enigiets volgens sy wil vra. En aangesien ons weet dat Hy ons gebede verhoor as ons iets só vra, weet ons ook dat ons kry wat ons van Hom vra.”
Bid dat jou kinders in elke situasie waarlik biddende mense sal wees. Godskinders wat die krag van gebed begryp en aangryp.
- Efesiërs 6:7 “Al is julle slawe, doen julle werk met lus, soos vir die Here en nie vir mense nie.”
Bid dat jou kind se hart in gelyke pas sal klop met die Here se wil. Vir ’n hart wat altyd bereid is om die Here te dien. Dat hy of sy alles wat hulle aanpak, sal doen asof hulle dit vir Hom doen.
- Psalm 19:8 “Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe.”
Bid vir liefde vir God se Woord. Bid dat hulle sal grootword om God se Woord te koester en lief te hê, en die behoefte sal hê om die Woord beter te leer ken. Bid dat God se Woord die spil sal wees waarom hulle lewe draai.
- 2 Petrus 3:18 “Sorg daarenteen dat julle steeds toeneem in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”
Bid vir steeds groeiende wysheid by jou kinders. Hulle gaan in hulle lewe in heelwat situasies beland waartydens hulle hierdie soort wysheid sal nodig hê.
- Lukas 16:10 “Wie in die kleinste dinge betroubaar is, is ook in die groot dinge betroubaar; en wie in die kleinste dinge oneerlik is, is ook in groot dinge oneerlik.”
Bid vir eerlikheid en integriteit. Mense wat oor hierdie deugde beskik, is van groot waarde vir almal wat met hulle te doen kry. Dit is mense op wie se woord jy altyd kan vertrou; hulle is steunpilare vir hulle geliefdes en die gemeenskap.
- Psalm 51:12 “Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig.”
Bid vir ’n rein hart. In die Bybelse konteks dui ’n rein hart dikwels op ’n “onverdeelde” hart, ’n onwankelbare Christus-fokus. In dié tyd voel dit soms asof alle morele waardes kwyn, dat bedrog en korrupsie aan die orde van die dag is en dat daar min waarde aan moraliteit geheg word. Bid dat dit by hulle anders sal wees.
- Filippense 4:19 “En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.”
Bid vir tevredenheid, vergenoegdheid. Te midde van ’n heersende kultuur van “nóg en nóg en méér en méér”, is dit maklik om in ’n gewoonte te verval om ontevrede te wees oor dit wat jy het. Om materiële dinge met alle mag en krag na te jaag. Om afgunstig te wees op ander wat kwansuis méér het. En om perspektief te verloor op hoeveel jy éintlik ontvang het.
- Galasiërs 5:22-23 “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing …”
Bid vir die vrug van die Gees in hulle lewe. Dit is aan hierdie vrug wat hulle as God se kinders uitgeken sal word. En dit in ’n wêreld wat ’n dringende behoefte aan rolmodelle het wat hierdie waardes en gedrag aanhang en uitleef.
- Esegiël 11:19 “Ek sal hulle ’n ander hart gee en ’n nuwe gees onder hulle laat posvat. Ek sal die kliphart uit hulle liggaam verwyder en hulle ’n hart van vleis gee.”
Bid vir ’n sagte hart. ’n Sagte hart sien ander se nood raak. Dit het deernis en medelye.