Ons word nie in ons vormingsjare noodwendig geleer dat seksuele intimiteit of seks lekker is nie. Inteendeel. Seks word soms gebrandmerk as vuil, onbetaamlik, sondig en goedkoop.
Dit word ontstellend min kere as ’n genotvolle aktiwiteit voorgehou. Die “les” is eenvoudig: Jy doen dit nie; jy praat nie daaroor nie; jy eksperimenteer beslis nie daarmee nie.
Verder moet ’n meisie sorg dat die belustige jong manne uit haar broekie bly. Dis haar plig om “nee!” te sê, om die verantwoordelike een te wees.
Die gevolg? Meisies droom van ’n sprokiestroue, ’n eerste huis, klein pienkvoetjies. Dan trou sy met haar ridder – en skielik, oornag, ja, letterlik binne een nag, moet sy van ’n preutse soetkoekie in ’n guitige tertjie verander.
Sy moet vol selfvertroue uitroep: “Welkom in my paradys!” En sommer dadelik weet hoe sy genot moet uitdeel en self ervaar. Oornag moet sy weet hoe om haar man na hoë hoogtes van ekstase te lei.
Hoe kán sy dit regkry, sy wat so preuts grootgemaak is?
Vroue ontdek selde wat vir hulle lekker is. Mans, daarenteen, word van kleins af blootgestel aan die lekker gevoel wat ’n normale, fisiologiese ereksie inhou.
Meisies word geleer om teen seks te “waak”. Hulle vereenselwig nie seks met plesier nie, maar met skuld en skaamte. Vroue se aangeleerde gedrag is om nie te eksperimenteer nie. Die brein, haar belangrikste seksorgaan, draai jare lank briek aan.
Nog ’n deel van die probleem is dat vroue se model van seksuele genot dikwels op ’n man se idee van ideale seks geskoei is: seks op aanvraag. Elke keer ’n orgasme. En verkieslik alles binne enkele minute, en boonop gelyktydig.
Vir die meeste vroue is koestering en ’n emosionele verbintenis met haar geliefde broodnodig voordat sy eers aan ’n orgasme dink.
Seksuele intimiteit is een van die suiwerste vorms van kommunikasie tussen huweliksmaats
Tydens die eerste paar jaar saam moet hulle aangemoedig word om uit te werk waarvan elkeen hou en wat hulle van hul sekslewe verlang. Hulle moet weet: Wat is vir elkeen belangrik; wat bring plesier; wat is vir elkeen aanvaarbaar; hoe, waar en wanneer moet seks plaasvind; wat is elkeen se voorwaardes; waar lê elkeen se persoonlike, ononderhandelbare grense.
Voorkeure kan met verloop van tyd verander, maar een saak bly onveranderd: Jy is altyd in beheer van jou seksuele plesier, selfs as ’n getroude persoon. Dit bly belangrik dat paartjies gereeld, en gemaklik, hieroor moet kommunikeer.
Ons moet daaroor praat
Familiestrukture het met verloop van jare baie verander. In vroeër jare het geslagte saamgewoon en wysheid gedeel. Oumas en oupas het stories om die kombuistafel vertel – sommiges in ’n fluisterstem. Daar was volop lewenswyshede, en soms het Ouma raad uitgedeel met ’n stoute vonkel in haar oog.
Die verandering in leefstyl het die kuns van stories vertel grootliks laat verdwyn. Op dié manier het mans en vroue seksueel geïsoleerd geraak. Ons kan doodgewoon nie meer oor intimiteit gesels nie. “Ons praat mos nie daaroor nie, dis privaat!”
Ons bly dus stil en sukkel alleen voort, te skaam oor ons onbekwaamheid. Ons leer nie by ander vroue of vertrouelinge nie, ons deel nie in hul ervaring en kennis nie.
Waarom gaan soek jy nie ’n hartsvriendin of twee uit met wie jy oor seks kan gesels nie? Doen dit gereeld. Maak ’n afspraak en kom met mekaar ooreen om sommer weekliks in die eerste huweliksjaar saam te kuier. Om dan slegs oor seks te gesels.
Praat oor wat pla, oor sake wat sukkel. Deel ook die eureka!-oomblikke met mekaar, die dinge wat vir jou werk. Sodra ’n vrou besef dat sy dieselfde probleme en belewenisse as ander het, kan sy daaruit begin leer, en ook leer om ander te bemoedig.
Pamela Costa, ’n TedTalk-spreker, vertel dat sy en haar vriendinne gereeld bymekaarkom om oënskynlik joga te doen. Maar intussen gesels hulle dik stukke …
Kyk of luister ’n bietjie hier hoe dit gedoen word.
Hierdie artikel is oorspronklik geskryf deur Marlena du Toit op 4 April 2021. Lees gerus ook, ‘Ek wil vroue nou help om seksueel gelukkig te wees,’ vertel bekende ginekoloog.