Die Jirre is my eie Wagter
ek sal nóóit enagge gebrek sitte ly nie
Hy lat ek innie groen weivelle ga’lê
Narie koel waters toe
Vat Hy vir my om te ga’ rus
Só begin skrywer, digter, storieverteller en kultuurman Elias P Nel van Kraaifontein in die Kaap se omdigting van die bekende Psalm 23. Hy doen dit in die Boesmanlandse dialek van Gariepafrikaans, en dis opgeneem in sy nuwe bundel, Die Jirre is my Wagter (Lux Verbi). Hierin word enkele Psalms en Spreuke in dié besonderse streektaal omdig, asook tekste uit Lukas, Johannes, Handelinge, Romeine en Openbaring.
LEES OOK: ‘Jou moeilike emosies is nie sonde nie,’ sê skrywer ná man se parkinsonstryd
In die voorwoord skryf die 64-jarige Nel dat hy in sy verbeelding sien hoe die gekose Skrifgedeeltes en sy omdigte weergawe “in die tongval van die Boesmanland in gesprekke met mekaar vergelyk word, hoe daar oor die geestelike en taalwaarde” daarvan besin word, “hoe die diversiteit van Afrikaans ook in Bybelse konteks waardeer en geniet word”.
Die taalkundige prof Frank Hendricks het tydens die boek se bekendstelling as “kosrageitjies uit die Woord” of “iets te ete uit die Woord” verwys.
ENGELA DUVENAGE het met Elias P Nel oor die bundel gesels:
Vertel iets oor die aanloop tot die bundel, asseblief.
Sedert ek in die jare negentig van die vorige eeu begin het om my met die Boesmanlandse tongval van Gariepafrikaans besig te hou, was die begeerte altyd daar om die Bybel in die gebruiktaal van my grootwordjare op Verneukpan neer te pen. As gevolg van die piëteit, dit is die heilige verering wat ek – en ek glo baie ander gelowiges – vir die Woord het, het ek dit aanvanklik slegs in my kop “geskryf”.
Eers in 2003, ná Hans du Plessis se transponering van die Bybelse teks in die omgangstaal van die Kalahari, het ek anders daaroor begin dink. Maar ek wou dit nie destyds doen nie, omdat dit myns insiens te veel na na-apery of beterweterige wedywering sou lyk. Sedert 2004 het ek Hans se werk, met sy toestemming, voorgedra.
In 2017 het ek ’n laagtepunt in my lewe bereik, met drome, idees en beloftes wat nie wou realiseer nie. Bykans twee jaar lank het ek my eenkant gehou, en slegs op my vrou, ons seuns en ons kleinkinders gefokus. In 2020 blaai ek moedeloos deur die Bybel, op soek na antwoorde. En ek lees Psalm 6, met as opskrif in die 1933/1953-vertaling: “’n Boetepsalm in groot benoudheid”. My geestestoestand verhelder en ek begin met ’n intense lees van die psalms.
Dit was toe dat die oorbekende Psalm 23 se ewigheidswaarde my opnuut tref. As ’n kind van die Noord-Kaapse skaapwêreld ken ek ’n trop skape of bokke, met iewers in die agtergrond ’n wagter, ’n oppasser. En ek besef: Wat is die Bybel anders as God, ons getroue Wagter, se bemoeienis met die mens? Een wat in Genesis begin met die vraag: “Mens, waar is jy?” (Gen 3:9). Een wie se sorg soos ’n goue draad reg deur die Bybel loop.
Hoe lank het jy aan die bundel gewerk?
Sedert Februarie 2020, met die eerste proewe wat in Augustus 2021 aan Lux Verbi gestuur is.
Daar was veral twee uitdagings: Die eerste was om die Bybelse milieu na dié van Verneukpan en die groter Boesmanland te transponeer. Dit was op sigself ’n halfonbegonne taak.
Maar die grootste uitdaging was ’n deurgaans konsekwente fonetiese spelling.
Watter gedig is eerste geskryf?
Psalm 6 het die omdigtingsproses eerste deurloop. Hier is ’n uittreksel:
Ooee Jirre moet dan nou nie vir my in u se kwaadgeit slat’ie
moet okkie vir my stane tamteer en moraak met u se plaks’ie
help my Jirre, want hier lê ek al klaar teenie grondt
tel my net weer op my eie twee voete Jirre
want my ou bene is okkie meer wattit was’ ie
my siel het hom mos inne floute in geloop skrik
Hoekom dié spesifieke Bybelse tema in een bundel?
Die Bybelse tekste in dié bundel hou vir my groot geestelike waarde in. Dit bevestig die Here se Wagterskap, sy Oppassersrol, in my nietige lewe. Wanneer ek byvoorbeeld oor die verlore seun in die omdigte vorm lees, hoor ek my mamma en pappa praat, hoor ek hul vermanings in hierdie streektaal.
Hier is ’n uittreksel:
… want hierdie broer van jou was so goed soos doodt en nou lewe hy weer, hy was ve’loor-weg gewees en nou’t ons hom mos weer triggerkry!
Vertel iets meer oor waarom jy die bundel aan bepaalde persone opgedra het. Hoekom juis hulle?
Ek dra eerstens die bundel op aan my Here God, wat my nou reeds 68 jaar lank oppas, ten spyte daarvan dat ek, soos in Koos du Plessis se lied, “elke afdraaipaadjie ken”. Daar is darem ook: “Elke keer het U my iewers kom haal …” Daarvoor verdien die Here alle lof, eer en aanbidding. Altyd!
Tweedens dra ek dit op aan die sprekers van dié besonderse streektaal, mense wat, jammer genoeg, ál minder word namate die ouer garde uitsterf.
Die jonger geslag wat na omliggende dorpe en groter stede uitwyk, kontamineer die unieke spreektaal en bedreig ál meer die outentieke spreekwyse se voortbestaan.
Laastens dra ek dit op aan my vrou Julia, my beste maat vir byna 45 jaar. Sy ondersteun my deur dik en dun.
Hoekom was dit vir jou belangrik om die gedigte in die Boesmanlandse tongval van Gariepafrikaans te skryf?
Streektaal is vandag steeds gemarginaliseer en gestigmatiseer. My poging oor die afgelope 30 jaar om dié marginalisering en stigmatisering te bestry, sluit aan by die bekende D F Malherbe wat in 1924 gesê het: “Wie op die terrein van ’n volk se spreekwoordeskat werksaam is, moet by alle waters drink: by die wye see van die lewende volkspraak, by riviere en spruite, by die fonteine en syferplekke van die volk se verre verlede …”
In my oë is die Boesmanlandse streektaal, vergeleke met die ander streekvariëteite, die syfergat of gorra wat die ontginning en die daaropvolgende bekendheid daarvan betref.
En dis tyd om deeglik van hierdie omgangstaal kennis te neem! Dis ryk en vindingryk. Daar is, byvoorbeeld, dubbele verkleining, soos “voëltjietjie”, “kossietjies”.
En “interstrip”, my pa se geliefkoosde woord, is afgelei van die Engelse woorde “interfere” en “disturb”. Dit word gebruik wanneer iemand jou pla, maar veral wanneer jy in die rede geval word.
In die voorwoord skryf jy oor die oorbekendheid van Psalm 23, en hoe die bundel as “nuwe taalbril” die oorspronklike inhoud nuut, fris en vars kan maak.
Ek vertrou regtig dat elke leser die metafoor van die alomteenwoordige wagter by ’n trop vee sal visualiseer. En weet dit is hoe God elke dag, ook wanneer ons dwaal, steeds daar is om ons te soek én te vind (vgl Matt 18:10-14).
In my herlees van en herbesinning oor al die tekste in hierdie bundel, maar veral Psalm 23, het ek besef die almagtige God maak bemoeienis met my, en Hy is betrokke in my nietige ou lewetjie.
Beskou jy jou as ’n soort vertaler van die Bybel?
Ek sal nie so verwaand wees om my so te beskryf of om my daardie reg toe te eien nie. Ten beste is ek slegs besig om ’n intertalige teks daar te stel, aangesien hierdie publikasie vanuit die een variëteit van Afrikaans na ’n ander variëteit van dieselfde taal oorgedra is.
Wat is jou doelwit met die bundel?
Die primêre doel is, soos genoem, om die Woord van God op ’n ander manier aan te bied. Met die vurige bede dat lesers die ewigheidswaarheid daarin kan raaklees, dit wil sê God se voortdurende betrokkenheid in ons lewe.
Die sekondêre doel is dat ek graag wil hê dat lesers nie streektaal as ’n kuriositeit of snaaksigheid moet bejeën nie; dat hulle dit sal omarm as deel van Afrikaans se groter geheel.
Met respek: Afrikaans is inderdaad ’n huis met vele kamers. Prof Nico Koopman, vise-rektor aan die Universiteit Stellenbosch, het in sy praatjie na Die Jirre is my Wagter verwys as “’n evangelie vir menswaardigheid en diversiteit”.
Koop die boek hier: