Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Soek en geniet dié dinge wat sin gee aan jou lewe,’ sê kenner oor oudword

Om oud te word, word dikwels met verlies vereenselwig, ’n deurlopende herinnering aan wat vir altyd verby is. Dié lewensfase kan egter ook gekenmerk word deur ’n nuwe begin, ’n nuwe lewensdrif en betekenisvolle belewenisse. En die geheim vir so ’n sinvolle oudag? Dis dalk nader aan jou as wat jy dink. 

DEUR SUSAN GOOSEN

Die Covid-19-inperking het by baie mense die waarde van ’n gemeenskap onderstreep, ’n ondersteuningsnetwerk wat ’n lewensaar kan wees. Almal sal immers onthou hul lewe was armer sonder die bekende gesigte op straat of in die supermark, en sonder die lekker geselsies met bure en kollegas. 

Karin Botes is ’n spesialis-maatskaplike werker. Sy sê: “Ons almal is as sosiale wesens geskape. Ons het dit nodig om te ‘behoort’. Navorsing het uitgewys dat bejaarde persone se liggaamlike, emosionele en geestelike gesondheid bevorder word wanneer hulle aktief in of by ’n gemeenskap betrokke is. 

“Dis egter van ons almal waar. Ons onderskeie persoonlikhede mag verskil, en daarom sal ons relatiewe gemak met verskillende soorte interaksie (die grootte van die groep, ’n oop of ’n geslote groep, of bloot die soort blootstelling aan die groep) van mekaar verskil. Maar selfs die grootste introvert het ’n gemeenskap nodig.” 

Elizabeth Scrimgeour is die hoof uitvoerende amptenaar van Drakenstein Palliatiewe Hospice in die Paarl. Sy reken dat hedendaagse uitdagings die noodsaaklikheid van gemeenskap dik onderstreep. “Ouer mense het ’n omgewing nodig waarin hulle optimaal kan funksioneer, ’n plek waar aan hul behoeftes voldoen word. In baie gevalle kan die staat en die verskillende mediese dienste nie daarin slaag om dit te voorsien nie. 

“Vir baie mense is sulke dienste óf nie beskikbaar nie óf doodgewoon onbekostigbaar. En, ja, dis dikwels bejaardes wat die ergste hierdeur geraak word. Dié probleem bied egter nuwe geleenthede om meer by mekaar betrokke te raak en mekaar doelbewus te ondersteun. 

“Só word ons inderwaarheid gedwing om mekaar te help. Ons het mekaar se talente en vaardighede nodig.” 

Geborg

Volgens Elizabeth beteken die deel hê aan ’n bepaalde gemeenskap nie noodwendig dat jy die ander se probleme moet oplos nie; soms beteken dit bloot dat jy ’n ruimte bied waar mense gemaklik kan gesels oor dit waarmee hulle worstel. Mense vertel graag hul stories sodat dit vir hulle kan sin maak.”

Só word bejaarde mense gehelp 

Karin verduidelik hoe ouer mense by ’n gesonde gemeenskap en ’n ondersteuningsnetwerk kan baat: “Baie bejaardes beleef liggaamlike uitdagings: Hulle het nie meer soveel krag soos voorheen nie, en dit duur dalk langer voordat hulle van siekte herstel. Take wat inspanning vereis, kan uitdagend wees en daarom is enige hulp daarmee van groot waarde. 

“Sulke soort hulp beteken dalk dat jy ’n ouer persoon met take in en om die huis help; jy kan saam met iemand in die ry by die daghospitaal staan; jy kan ’n saamrygeleentheid aanbied; jy kan namens ’n bejaarde persoon ’n pakkie gaan afhaal of inkopies doen. 

“Ouer mense is ook sosiaal gesproke kwesbaarder. Jare lange vriendskappe kom onder druk wanneer mense na ’n aftreeoord verhuis, of wanneer ’n vriend te sterwe kom. Alhoewel sommige makliker aanpas as ander, is dit in die meeste gevalle nou die tyd waarin bejaarde mense ander se ondersteuning die nodigste het. En dis juis bogenoemde veranderende ondersteuningsnetwerke wat daartoe lei dat ouer mense sukkel om aan te pas en verlies te verwerk.” 

Ons kan baie doen om na die ouer mense in ons omgewing uit te reik. Maak tyd vir geselsies, of reël ’n kuier waar hulle gemaklik is. ’n Raserige restaurant sal dalk nie vir almal gemaklik wees nie … 

Maak ´n nota van spesiale dae, feesdae en herdenkings, en sorg dat julle dit erken en vier. 

Geborg

Karin reken dat die ondersteuning van ’n gemeenskap ook finansiële verligting kan bring. “Die lewenskoste het geweldig toegeneem, en dinge soos mediese, sielkundige en versorgingsdienste kan baie duur en selfs onbekostigbaar wees. Juis daarom is dit van groot waarde as ons mekaar finansieel of emosioneel kan ondersteun, of, waar moontlik, met tuisversorging of ander reëlings help. 

“Soms is dit nodig om eerlik en reguit te praat om uit te vind presies watter soort hulp ’n betrokke persoon benodig. Ons moet ook besef dat alle mense nie noodwendig hulp sal vra nie.” 

Skep self ’n gemeenskap 

Vir iemand wat alleen is en geïsoleerd woon, kan die eerste stap in die skep van ’n gemeenskap vreesaanjaend wees. Ons kenners gee die volgende wenke: 

  • Moenie té hoë eise aan jouself stel nie. Begin met iets kleins waarmee jy gemaklik is. Dit kan beteken dat jy meer gereeld in jou buurt gaan stap. Of dat jy in jou versorgingsoord by ’n aktiwiteit inskakel wat jy nog altyd geniet het – dalk ’n boekklub, tuinbouklub of ’n groepie wat weekliks kaartspeel. 
  • Moenie verwag om bloot iets te ontvang nie. Gaan soek ’n plek waar jou vaardighede of tyd nodig is, of waar jy voel jy ’n bydrae kan lewer. Daar is baie organisasies, kerke en skole wat vrywilligers soek. Vra by jou plaaslike kerk of gemeenskapsentrum vir idees. 
  • Waag iets nuuts. Indien jy nog altyd pottebakkery wou beoefen, of wou verf of voëls bestudeer, kan dit nou jou kans wees. Dis waarskynlik makliker om met nuwe kennisse te kommunikeer wanneer jy ’n vaardigheid aanleer. 
  • Skakel in by iets wat roetine verg. Indien jy onseker voel of jouself maklik onttrek, kan dit help om te weet dat jy elke Woensdagoggend ’n vriendin vir ’n stappie ontmoet. Of dat jy elke Donderdagmiddag by ’n skool se nasorg help. 
  • Doen waarvan jy nog altyd gehou het, al kan jy dit nie meer presies soos voorheen doen nie. As jy lief was vir die buitelewe, kan jy steeds in die omgewing gaan stap, al kan jy nie meer bergklim nie. As jy graag onthaal het, kan jy steeds vriende oornooi vir tee, of ’n ander alleenmens vir ete nooi. 

Elizabeth sê: “Ouer mense het in dié fase van hul lewe dikwels meer tyd tot hul beskikking as wat hulle voorheen gehad het, en kan daarom meer in gehalte belê. Hulle het nou die geleentheid om dieper en meer betekenisvolle vriendskappe te smee, om die boeke te lees waarvan hulle hou, en om ’n mooi uitsig rustig te geniet.” 

Sy het dié raad vir sulke mense: “Moenie skuldig voel as jy nie altyd lus het om saam met mense te kuier nie. Soek en geniet dié dinge wat sin gee aan jou lewe.”

Nuttige wenke 

Geborg
  • Kontak jou plaaslike gemeente. 
  • Kontak die dienssentrum in jou woonbuurt en vind uit watter programme hulle aanbied. Of doen navraag by die plaaslike aftree-/ versorgingsoord en vind uit of hulle iets vir nie-inwoners aanbied. 
  • Bou ’n goeie verhouding met ’n algemene praktisyn. 
  • Maak ’n slag ’n afspraak by ’n geriater. Dis ’n medikus wat in bejaardesorg spesialiseer. 
  • Onthou spesialis-organisasies soos: Age In Action www.age-in-action. co.za; Dementia SA www. dementiasa.org; Alzheimer’s SA www.alzheimers.org.za 
  • Maak ’n afspraak met ’n maatskaplike werker wat in geriatrie spesialiseer. 
  • Karin Botes is ’n spesialis-maatskaplike werker met ’n toegespitste belangstelling in ouer mense. Sy werk in ’n private praktyk en is ook betrokke by die Specialist Geriatric & Memory Clinic in Kaapstad. Stuur ’n e-pos na karin@uwezekano.co.za of skakel haar by 082 900 5334 vir ’n afspraak.
  • Dié artikel verskyn in die Someruitgawe 2022/2023 van die gedrukte LiG. Klik hier om op die tydskrif in te teken.

 

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.