Deur Heli Mulder
In die begin van 2017 tree ek af na 45 jaar in die onderwys. Ek is gesond en vol lewe. Ek gaan los nog af by skole. Gedurende die laaste drie maande van 2017 kry ek ’n erge pyn in my regterheup.
Na vele besoeke aan ’n dokter, fisioterapeut, chiropraktisyn, homeopaat laat ek ook x-strale neem, maar niemand kan vasstel wat die oorsaak van die pyn is nie.
Ek leef op pynpille, soveel so dat my kinders dink ek is depressief, want ek lê en slaap meeste van die tyd.
Ons kaartjies om vir ons kinders in Australië te gaan kuier was lankal reeds bespreek en betaal. Op 19 Desember is ek op die vliegtuig met pynpille en ’n warmwatersak.
’n Kuier in Australië
In Januarie 2018 neem my dogter my na ’n vriendin van haar vir fisio. Na twee sessies verwys sy my na ’n vriend van haar wat \’n spesialis-fisioterapeut is. Hy doen “dry needling” en sê dadelik dat daar fout is in my heup. Hy stel voor ek gaan vir \’n MRI, waarna ek gediagnoseer word met “multiple myeloma” (kanker wat in die beenmurg versamel).
Lees nog getuienisse hier.
Ek word swakker en swakker, en kan nou nie eens meer loop nie. Die dokters in Australië is baie gaaf en vertroostend. Ons stuur alle verslae en uitslae na ons dogters hier, en die twee engele reël alles.
Ons land terug in Suid-Afrika op die 3de Februarie, en 6 Februarie gaan ek vir ’n biopsie. Dit volg met \’n besoek aan die onkoloog. Ek begin met 10 sessies bestraling, en chemoterapie. Ek is bitter siek en meeste van die tyd in die bed. Die chemo maak dat ek permanent naar is en opgooi. Ek kry diarree, en moet opgeneem word. Om alles te kroon, kry ek toe ook nog gordelroos in my gesig.
Ek het my kinders belowe ek sal die ding veg maar ek moes die Here se hulp vra. Ek het geweet dat ek dit nie sonder Hom sal kan doen nie. Met al die gebede van my man, kinders, kleinkinders, familie, vriende en selfs vreemdes, kan ek aanhou en uithou.
Een nag het ek wakker geword met die gevoel dat iemand in my kamer is, en toe ek kyk, sien ek iets soos ’n skaduwee. Ek hoor ’n stem wat sê: “Kalmeer, wees rustig, jy sal gesond word”.
Op 9 Augustus doen die onkoloog ’n stamseloorplanting, en so begin die pad na herstel. Vandag is ek in remissie, en so gesond.
Prys die Here!
Lees ook: ‘Dit was duidelik – daar is lewe na die dood’
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.