Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Stel jy uit? Stel dit reg!

Ons almal ken dié gesegde: Van uitstel kom afstel. En almal weet dat wanneer dit gesê word, daar reeds ’n bitter smaak in die mond is. En ’n swaar hart, vol slegte emosie en diep verwyte. Is daar ’n uitweg?

DEUR MARETHA BOTES

Ons ken die storielyn: Jy het ’n reuseprojek op jou lessenaar of rekenaarskerm. Die sperdatum kruip onverbiddelik nader. En jy … kyk YouTube-video’s, ure lank. Jy pak kaste reg. Jy kleurkodeer jou boekrak.

As jy jou in dié prentjie herken, kan jy oor een ding gerus wees: Jy is nie alleen nie. Miljoene mense regoor die wêreld stel daagliks hul (dringende) take uit.
Waarom gebeur dit? En hoekom kry die gewoonteoortreders dit nie afgeskud nie?

Eenvoudig, sê die kenners. Hulle verstaan nie waar die wortel van die uitstel-kwaad lê nie.

Die mites en die waarheid
Daar bestaan wel allerlei mites oor die redes agter uitstel. Daar word byvoor-
beeld gesê uitstellers is nie georganiseerd nie, nie gemotiveerd nie, nie passievol genoeg oor die saak nie. Daar is dié wat sê dis doodgewone luiheid. Ruk jou reg!

Prof Fuschia Sirois van die Universiteit van Sheffield in Engeland sê bogenoemde is alles mites. En dit rig skade aan. Dit het tot gevolg dat uitstellers dit nóg moeiliker vind om daardie sloerende taak te voltooi.

Dié professor en haar PhD-studente definieer uitstel só: die vrywillige en onnodige uitstel van ’n beoogde taak. Dit wil sê: Niemand het jou aangesê om die taak vir eers eenkant toe te skuif en iets anders aan te pak nie. Daar het ook geen noodgeval opgeduik wat jou noop om die uitvoer van die taak vir eers te staak nie. Dis boonop ’n taak wat jy beplan het om te voltooi.

Geborg

Kortweg: Uitstel is die korttermyn-beheer van negatiewe emosies. Uitstel-
lers beland in die irrasionele siklus van chroniese uitstel omdat hulle nie oor die vaardighede beskik om negatiewe emosies rakende ’n bepaalde taak te hanteer nie.

Ongelukkig beleef baie sulke mense dit as ’n persoonlike mislukking, veral as dit iets belangriks is. En dis vir hulle privaat; hulle praat nie daaroor nie. So ontwikkel ’n bose kringloop van negatiewe emosies.

‘Dis irrasioneel’
Wat is dan onderliggend aan uitstel? Waarom doen ons dit? Waarom sukkel
ons om dié ellendige gewoonte af te skud?

Alles kom neer op ’n emosionele reaksie op ’n taak wat wag om uitgevoer te word. Dit kan so eenvoudig wees soos dat jy nie van die taak hou nie; dat dit vervelig is; dat dit gevoelens na vore bring rakende onbevoegdheid, jou onvermoë om suksesvol te wees in ’n sekere situasie, jou onvermoë om doelwitte te bereik.

Maritza Pretorius (47) is ’n entrepreneur in Bellville in die Wes-Kaap. Sy sê sy het al tientalle idees vir wonderlike projekte gehad, sy het alles gereed gehad om daarmee te begin – maar die meeste van dié beoogde projekte het sy eenvoudig bly uitstel.

Sy bevestig dat die uitstel van belangrike take haar omkrap, dat dit haar ongelukkig laat voel en dat dié gevoelens tot selfkastyding lei.

Hoekom stel sy dan uit?

Geborg

“Sommige van die projekte vul my met vrees, met angstigheid. Wanneer ek dit dan eenkant toe skuif ‘vir later’, voel ek ’n ruk lank ligter. Totdat iemand my daaraan herinner. Dan raak ek weer gespanne.”

As sy dit alles weet, hoekom dan nie bloot die bul by die horings pak nie?
“Ek weet nie!” sê Maritza.

Fuschia sê: “Die probleem met uitstel lê daarin dat bloot die bewus wees daarvan jou ongelukkig maak. Jy weet jy stel uit, en dit laat jou omgekrap voel. En dit het tot gevolg dat jy die uitstel verleng.

“Die samelewing is op produktiwiteit gerig. Ons word geleer dat produktiewe mense suksesvolle mense is. As ons uitstel, is ons dus onproduktief, en dis sleg. Ons voel skaam, waardeloos. Ons is kwaad omdat ons die taak uitgestel het en sodoende ander mense teleurgestel het.

“Dit alles is negatiewe emosies. Wanneer ons uitstel, is ons nie net daarvan bewus dat ons die taak vermy nie; ons is ook daarvan bewus dat dit ’n slegte idee is om so iets te doen. Dis die rede waarom uitstel so irrasioneel is.”

Aktiewe en passiewe uitstel
Anri van den Berg is ’n spesialis-welweesberader by Vita Nova-beradingsentrum in Pretoria. Volgens haar is daar aktiewe en passiewe uitstellers. Sy verduidelik dié onderskeid só:

Aktiewe uitstellers is mense wat doelbewus take uitstel omdat hulle beter onder druk werk. Hulle voel in beheer van hul tyd en gebruik dit doelgerig. Hulle voel hulle lewer van hul beste werk wanneer hulle dit tot later uitstel.

Geborg

Die voordele van aktiewe uitstel

Dit dwing hulle om te fokus op die taak wat voor hande lê.
Om uit te stel, gee hulle ’n bietjie tyd om die taak te deurdink voordat hulle daarmee wegspring. Daar word dus nie tyd gemors op onnodige stappe en prosesse nie.
As dit ’n minder aangename taak is wat voorlê, bied uitstel hulle die geleentheid om emosioneel voor te berei.
Wanneer ’n taak suksesvol afgehandel is, beleef die aktiewe uitsteller ’n aangename emosionele hoogtepunt.

Die nadele van aktiewe uitstel

Dit kan soms gebeur dat selfs aktiewe uitstellers ’n taak tot net-net te laat los. Dit lei dan tot verhoogde angs en spanning. Maar omdat sulke mense goed onder druk funksioneer, sal hulle meestal steeds die werk gedoen kry én waarskynlik hul spertyd haal. Langtermyngevolge van hierdie verhoogde angs- en spanningsvlakke mag wel negatiewe gevolge vir hul immuunstelsel inhou.

Vir passiewe uitstellers is die hoofrede vir die uitstel ’n poging om die negatiewe emosies te vermy wat deur die taak voortgebring word. Sulke emosies en gedagtes kan ongemak, angstigheid, gevoelens van onsekerheid, onbekwaamheid, selftwyfel en selfs verveling insluit.

Die voordele van passiewe uitstel
Deur die slegte taak uit te stel, kan jy op meer positiewe ervarings fokus.
Iemand anders mag dalk later intree en die taak oorneem, en dan hoef jy dit nie te doen nie.
Probleme wat aandag benodig, mag dalk vanself opgelos word sonder die uitsteller se insette.

Die nadele van passiewe uitstel
Verhoudings wat uiters belangrik is, ly erge skade.
– in die huwelik, waar iets wat vir die een party baie belangrik is aanhoudend deur die ander een uitgestel word
– die ouer-kind-verhouding
– by die werk, waar kollegas hul respek vir jou verloor, of begin besef jy is nie ’n mens op wie hulle kan reken nie.
Jou reputasie ly skade.
Goeie geleenthede word misgeloop.
Jou selfbeeld ly skade vanweë gevoelens van teleurstelling, vernedering en afkeur wat jy soms ten opsigte van jouself ervaar.
Die angs en spanning wat jy ervaar terwyl jy uitstel, gepaard met die negatiewe gedagtes en emosies oor jouself, kan tot gesondheidsprobleme aanleiding gee.

Vermy passiewe uitstellery só
Werk deur jou nadele-lysie en verwoord die teenoorgestelde daarvan.
As jou lysie dalk só lui: “Ek is onbetroubaar, ek laat mense in die steek en ek verloor die respek van my man en my kinders en my kollegas,” gaan skryf dan die teenoorgestelde neer. Iets wat weerspieël wie jy eintlik wíl wees.

Skryf dus nou iets soos: “Ek is betroubaar, want ek doen ’n ding wanneer ek sê ek sal dit doen. My man, my kinders en my kollegas respekteer my as vrou, as ma en as kollega, want ek is iemand op wie hulle kan reken.”
Plak dié formulering êrens op waar jy dit elke dag kan sien en lees.

Anri waarsku wel dat so ’n plan dalk bloot ’n soort pleister kan word wat slegs tydelik werk. Sy reken dat positiewe bevestiging net werk wanneer jy die kernrede vir die behoefte aan die bevestiging identifiseer.

“As jou ‘hoekom’ dit dryf, het jy ’n groter kans om daadwerklike veranderings te bewerkstellig. Daarom is dit belangrik om met jou nadele-lysie te sit en te besluit wat is jou ‘hoekom’.

“Die verskil tussen ’n bevestiging en daadwerlike verandering is dat die bevestiging ’n poging is om jouself te probeer oortuig; by daadwerklike verandering word die bevestiging ’n herinnering aan iets wat jy klaar besluit het.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.