Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Uittreksel: ‘Moekie, jy het my weggegooi, maar ek vergewe jou’

Die televisie- en sportaanbieder Johnny Davids se ma wou hom nie hê nie. Hy vertel hierdie hartroerende storie in sy boek Boytjie. In een van die hoofstukke vertel hy hoe hy sy lewe lank gesmag het na ’n verhouding met “Moekie”. In ’n openhartige brief skryf hy die woorde wat sy biologiese ma hom nooit die kans gegun het om te sê nie. Hooffoto: Brenda Veldtman

Ek wens ek kon sê ek het my biologiese ma geken, of ietwat van ’n verhouding met haar gehad. Ek weet wie sy is, hoe sy lyk, maar ek ken haar van geen kant af nie. Ons verhouding is totaal en al afgesny die dag toe die dokter my naelstring van haar afgeknip het. Ek vind vertroosting in Psalm 27:10 se belofte: “Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem.” Hy het nog altyd, en sal vir ewig en altyd dit steeds doen. Die leemte wat Moekie, en tot ’n mate Jonsie gelaat het, is deur God gevul.

Ek weet hulle het haar Moekie genoem, haar bynaam. Haar geboortenaam is Emily Jonathan. Ek weet nie eens of sy ’n tweede naam het nie, of wanneer haar verjaarsdag is nie. Of sy myne ken, weet ek ook nie. Want tot vandag toe, vandat ek kan onthou, het sy my nie een keer met my verjaarsdag gelukgewens nie. Dis ’n leemte wat my tot vandag toe haunt.

Ek het soveel onbeantwoorde vrae wat Moekie be- tref. Behalwe vir die feit dat sy my net so gemaak en gelaat staan het, wil ek tot vandag toe weet: Is 29 Mei werklik my geboortedatum? Waar presies is ek gebore? Hoekom wou sy my doodmaak toe ek ’n baba was? En, wie is die Davids-man wie se van ek dra? Haar van is Jonathan, en my pa se van is Klazen. Wie was die Davids-persoon?

Soveel onbeantwoorde vrae waarmee ek steeds worstel as ’n pa van drie seuns. Ek sit en dink die ander dag, gepraat van die Davids-van, dalk is dit ook ’n blessing in disguise. Dat ek dalk die Jonathan-van se generational curse op so ’n manier moes afskud.

Moekie het drie kinders, van wie ek weet. Dis ek, Catherine, oftewel Sweetheart, my oudste suster, en Bernadine, die jongste, die kind van ’n wit man. Bill Walker. Dink net as ek Bill se van moes dra . . . Johnny Walker . . . Verbeel jou!

Al drie van ons is kinders van verskillende mans, en het by verskillende families grootgeword. Sweetheart in PE by Moekie se oudste suster, Bernadine by haar wit familie in Johannesburg, en ek by my ouma aan moederskant en later vir die grootste deel van my lewe by my pa se familie in Walvisbaai.

As gevolg hiervan het ek ook glad nie ’n verhouding met enige van my susters nie. Ek het in ’n stadium probeer om met Bernadine soort van ’n verhouding te bou, maar die gaping tussen ons is net te groot. Die gesprekke tussen ons, die kere wat ons wel gesels het, het ná omtrent ’n halfuur opgedroog. Ons het niks gemeen nie, behalwe vir die feit dat ons uit dieselfde baarmoeder kom.

Wat Sweetheart betref, nog minder. Die generational curse van Moekie is ook aan haar oorgedra, want sover ek verstaan, het sy ook kinders by verskillende mans, en het dit maar ook nie breed nie. Sy sal so dan en wan vir my ’n WhatsApp-boodskap stuur, maar nog nooit het ons saam gekuier nie.

Die vraag is egter: Wat het in Moekie se lewe gebeur dat sy haar kinders so verwerp het? ’n Saak het mos twee kante, maar nog nooit het ek haar kant van die saak gehoor nie. Selfs nie eens toe ek jare later probeer het om met haar te versoen nie. En daai versoen was ook vir jou ’n ander storie . . .

Ek vat toe die lift saam met ’n vriend se mense wat op pad Kaap toe is vir ’n begrafnis of iets. In die Kaap aangekom, soek ek in die telefoongids of ek nie die Fishers van Keeromstraat, Kleinvlei, se name daar raaklees nie. Ek kry dit nie. Ons sou die volgende oggend terugry Walvisbaai toe, so dit was my laaste kans. My vriend se pa was my so goedgesind om sy kar vir my te leen om Kleinvlei toe te ry. Ek wou dit alleen doen. Niemand moes saam met my wees vir hierdie sensitiewe deel van my verlede nie.

Dit was net ná die draai van die nuwe millennium, in 2001 of 2002, toe ek vir die eerste keer weer terug is Kleinvlei toe. Ek was 24 jaar oud. ’n Bietjie van ’n klomp goed wat my weer soontoe gedwing het. Nuuskierigheid om te sien hoe die plek ná al die jare lyk. Kyk of ek nie weer vir Ruben sou raakloop, of enige ander mense wat ek daar geken het nie. Om my ouma-hulle weer te sien, al was dit ook net uit die verte uit. Dalk, net dalk, sien ek weer vir Moekie. Ek ken Kleinvlei nog redelik goed, dink ek. So ek gaan net rondry in die strate, en veral in Anemoonstraat ongesiens daar verbyry. Ek ry so twee keer verby Anemoonstraat 66, terwyl my hartklop die hoogtes inskiet. Die derde keer staan aunty Margie, my ouma se buurvrou, by die hekkie. Terwyl ek nog so stadig verbyry, hoor ek net: “Boytjie . . .” Dis aunty Margie wat my herken.

Die trane loop los oor haar wange terwyl sy my druk en soen. Die uitdrukking op haar gesig sal ek nooit vergeet nie. Verbasing, verwondering, blydskap, alles in een.

Die eerste twee sinne volg sommer so op mekaar: “Jong, jou ouma bly nie meer hier nie. Dis net Pietie- boy.” Maar die deur by Anemoonstraat 66 is toe. Good shot, dink ek by myself. Want ek is nie gereed om die mense te face nie. Wat het my besiel? En toe volg haar tweede sin: “Jou ouma is daa’ by uncle Japie-hulle in Klipbokstraat. Jou ma is ook daar.”

Uncle Japie, my ma se oudste broer. Dieselfde huis waar ek as kind gesien het hoe aunty Ellen se niggie voor my oë doodgesteek is in die yard agter. Dieselfde huis waar uncle Japie-hulle biere verkoop het, as ’n makeshift smokkelhuis. Ook ’n skakelhuis, hulle s’n was net al die jare blou gewees.

Bietjie beter af gewees as ons, Japie Jonathan en sy gesin. Japie was ’n forklift-drywer iewers in Stellenbosch. Weet nie lekker wat sy vrou, Ellen, gedoen het nie, maar hulle het elektrisiteit gehad en ’n TV. Hulle was nooit lelik met my nie, maar ek het tog die idee gekry hulle het hulle potjie gehad om te krap, en kon nie finansieel nog vir ons ook dra nie. Heeltemal te verstane, in hindsight.

Ek en Japie het wel ’n stelletjie afgetrap jare later. Dis nou jare ná my kort besoek daardie dag. Hy het in een van die onderhoude wat ek op TV gehad het, gehoor dat ek vertel het van sy ma en Pietie-boy wat my so hardhandig behandel het terwyl ek daar gewoon het. Hy het my op Facebook Messenger van ’n dizzy height af vertel – eintlik gedreig – om sy oorlede ma uit my mond uit te hou. Hy het my nog verskeie ander dinge toegevoeg wat ek nie graag hier wil herhaal nie, uit respek vir hom en sy familie. Mag sy siel in vrede rus.

Hy het wel een aand na ’n show van my kom kyk, en ons kon versoen raak. Veral nadat ek hom al die detail in waarhede gegee het van my omstandighede by sy ma en Pietie-boy. Ek kon myself nie sover kry om sy begrafnis by te woon toe ek gehoor het van sy sterfte nie.

In elk geval, ná my kortstondige herontmoeting met aunty Margie daardie dag in 2001 of 2002, maak ek al die moed in my bymekaar, en ry Klipbokstraat toe. Na Japie se huis toe. Ek kon nie presies onthou watter huis is uncle Japie s’n nie, maar ek stop darem gelukkig voor die regte huis. Ek het so ’n blou baadjie aangehad. Die vyf sekondes wat dit my vat om uit die kar te klim, en tot by die deur, voel soos ’n ewigheid. Die eerste persoon wat ek herken, is Moekie. Sy kom half vraend uit die kombuis: “Ja, kan ek jou help, vir wie soek jy?” Sy ken my nie! Sy het nie die vaagste benul wie voor haar staan nie. “Is jy ’n polisieman?” Dit moet die blou baadjie wees . . .

Aan haar linkerkant, op die bank, sit my ouma. Sy ken my ook nie. Sy sit wel en wonder: Kan dit wees? Die uitdrukking op haar hele gesig sê dit vir my. “Kom, jong, praat!” half ongeërg met haar bierasem.

Ek weet nie wat om te sê, of wat om te doen nie. Moet ek omdraai en net weer terug Walvisbaai toe, of moet ek haar sê? “My naam is Johnny Davids, ek is jou seun,” terwyl die trane onwillekeurig uit my oë loop. Hoe ken jy nie jou eie seun nie? Aunty Margie, wat nie eens vlees en bloed is nie, het my van haar hekkie af geken, en jý ken nie die persoon wat uit jou baarmoeder gekom het nie.

Net daar val sy histeries op die vloer, flou. Die ander mense rondom haar probeer haar lawe. ’n Paar oomblikke later kom sy weer by en haar eerste woorde haunt my tot vandag toe. “Ek dog jy is al dood.” Dis nou ’n manier om my welkom te laat voel. My ouma, aan die ander kant, kon nie ’n woord uitkry nie. Ek kan eerlik nie onthou hoe die res van daardie paar minute in Klipbokstraat verloop het nie. Ek kan nie eens onthou hoe die gesprekke daarna verloop het nie. Dit moes iets in die lyn gewees het van waar ek myself nou bevind, en dat ek nooit ooit weer sal terugkom Kaap toe nie. Ek weet wel hoe ek gevoel het toe ek daar wegry. Dit was met meer bitterheid en spyt dat ek die moeite gedoen het om Moekie op te soek.

Maar dit het in die eerste plek nie net oor Moekie gegaan nie. Ek moes vir Katie Jonathan weer sien. Ek was nie lank terug in Walvisbaai nie, toe ek ’n oproep van Moekie ontvang. “Boytjie,” – jip, sy noem my nog Boytjie – “jou ouma is oorlede.” Katie Jonathan se hart was met rus. Sy het weer vir Boytjie gesien en geweet hy sal orraait wees. My soeke was toe al die tyd nie regtig na Moekie nie, maar na die vrou wat ek Mamma genoem het, Katie Jonathan.

Indien ek ooit die geleentheid sou hê om Moekie van aangesig tot aangesig te sien, sou ek dit vir haar sê:

Moekie, of Emily, eerstens jammer dat ek jou op jou naam noem. Ek filter en edit elke liewe woord soos ek nou hier skryf. Ek kan ongelukkig nie vir jou Mammie noem nie. Ek hoop jy verstaan. Nou vee ek weer uit – al die woorde wat ek die afgelope paar minute aan jou geskryf het. Nie net op my laptop nie, maar ook in my gedagtes, want jy het eenvoudig net nie ’n idee hoe ek voel nie. Jy het nog nooit enige idee gehad nie. Wat ook al jou redes destyds was om my en jou dogters vir die wolwe te gooi, dié sal ek nie weet nie. Maar ek aanvaar ongelukkig nie jou redes nie, wat dit ook al mag wees. Ek aanvaar dit nie, maar ek vergewe jou. Watter ma doen dit? Maak kinders en gooi hulle net weg. Nie eens ’n kakkerlak doen dit met hulle kleintjies nie. En ja, ek sê gooi, want jy het my nie gegee nie . . . So gepraat van gooi – is dit waar wat jou suster Lissie vir my gesê het? Dat jy my as baba voor ’n bus wou ingooi, Moekie? Uit by ’n oop venster? My langs ’n rivier gaan los het, soos Moses in die Bybel?

Jy gaan dit seker deny, maar dis oukei. Ek het soveel vrae, maar antwoord my net die een vraag, asseblief. Hoekom? Wie is die Davids wie se van ek dra?

Maa’ anyway, die eintlike rede vir my skrywe aan jou is die volgende: Ek wou net sê dat ek jou vergewe. Ek dra nie haat in my hart nie. Ek spreek jou vry, Moekie. Ek hoop jy kan my ook vergewe.

Die kere wat ek moes hoor dat jy my lankal afgeskryf het as jou kind; weet jy, dis heeltemal oukei. Ek wens net jy kan jouself vergewe, en totale vrede geniet. Vrede met jouself. Ek wens dit actually vir jou toe. Ek kan ongelukkig nie vir jou sê ek is lief vir jou nie. Ek kan eenvoudig nie. Ek het in elk geval nooit in der ewigheid daardie woorde uit jou mond gehoor nie. Hoe dit ook al sy . . .

“Mag die genade van ons Here Jesus Christus en die liefde van God en die [troosvolle] gemeenskap van die Heilige Gees [altyd met jou wees].” 2 Korintiërs 13:13 (my aanpassing)

  • Dié is ’n uittreksel uit Johnny Davids se boek Boytjie wat hier aanlyn by Bybel-Media gekoop kan word. Die boek word uitgegee deur Lux Verbi.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.