“Ek was sonder geld en sonder heenkome. Geen huis, geen spaargeld, geen pensioen en geen mediese fonds. Ek is weg uit my land met my 20 kg-reistas en my reënbaadjie. Sonder werk, en sonder om te weet waar ek sou bly.”
Ná haar terugkeer het ’n verdere krisis op haar gewag.
‘Ek het met grasie weggestap’
Ann Farley van Kaapstad (nou 70) vertel van daardie veelbewoë tyd: “Nadat my man Chris keer op keer sy werk verloor het, het sy persoonlikheid verander. Hy het hom emosioneel onttrek van my, van ons dogters en van al sy finansiële verantwoordelikhede.
LEES OOK: ‘In ons swaarkry het ek God in al sy grootsheid ontmoet’
“Hy het ’n ander vrou ontmoet; sy was finansieel gesproke goed daaraan toe. Ten spyte van ons besoeke aan ’n huweliksberader wou hy net skei. Hy het gewag dat ons jongste, Elise, haar matriekeksamen afgelê het. Ons oudste, Angela, het toe by ’n kollege gestudeer.
“Skok, woede, ontkenning en hartseer – dit was die emosies wat ek ervaar het. Ek het agt maande lank elke dag gehuil. Ek het myself kwalik geneem en gekasty oor wat gebeur het. My pastoor het my aangeraai om my man te vergewe, anders ou ek vir altyd kwaad wees.
“Nadat ek baie met die Here gepraat het, skryf ek toe vir Chris ’n brief en sê dat hoewel ek nie saamstem met sy besluit om te skei nie, ek hom vergewe en dat ek met grasie sal wegstap.
“Want vergifnis is ’n keuse indien jy wil heel word ná so ’n trauma. En jy moet doen wat God van jou wil hê.”
’n Onderwyspos in Engeland, en ’n vreemde wending
Haar man het toe met die ander vrou getrou. Ann, ’n onderwyseres, het besluit om ’n onderwyspos in Engeland te gaan soek. En om God vir uitkoms te vertrou.
“Die eerste vier jaar in Engeland, eers in Surrey en later in Hampshire, was vir my swaar. Ek het van een blyplek na ’n ander getrek, van een aflos-onderwyspos na die volgende. Ek was, emosioneel gesproke, nie op ’n goeie plek nie. En ek het van die hand na die mond geleef.
“Intussen het ek by my dogters gehoor dat my eksman sterwend was aan kanker. Op ’n dag het hy my gebel en gesê dat hy ’n fout gemaak het om my te los. En dat ek hom moet vergewe. Danksy my pastoor se raad het ek hom toe reeds lankal vergewe.
“Later is ek met vakansie terug Suid-Afrika toe. In die laaste week van my eksman se lewe het ek en ons dogters hom besoek.”
’n Nuwe fase in Frankryk
Daarna is Ann na Frankryk, waar daar nie juis Engels gepraat word nie en waar Engels vir volwassenes as ’n ekstra taal aangebied word. Ann is intussen opgelei om dit te doen.
Sy vertel: “Ek was gek oor Frankryk! Vir die eerste keer het dit gevoel of ’n nuwe lewe op my wag: ’n nuwe land, ’n nuwe werk en nuwe groei. Ek was opgewonde om Engels vir volwassenes by ’n taalskool in Strasbourg aan te bied. Ek was Frans net gedeeltelik magtig, maar ek het dit gou bemeester.
“Die Here was goed vir my. Hy het sy hand oor my gehou. Ek kon ook ’n sendingwoonstel huur.
“Ek het ’n bejaarde Franse vrou as bid-maat by die kerk gehad. Vier jaar lank het ons elke Saterdagaand saamgeëet en saamgebid. Ek was ook by die kerk betrokke.
“Ná vier jaar in Frankryk het dit uiteindelik vir my ’n plek van genesing en vrede geword. Ek het vir die eerste keer hoop gehad.”
Ann is later terug Suid-Afrika toe om haar bejaarde pa tot met sy dood op te pas. Sy het by ’n taalskool vir volwassenes in Kaapstad werk gekry.
Dienslewering in Maleisië
“Ek was 59 toe my pa oorlede is. Ek het steeds nie genoeg geld gehad om af te tree nie. By die taalskool in Kaapstad het ’n geleentheid opgeduik om in Maleisië te gaan werk. Hierdie keer moes ek onderwysers, wat by vyf skole betrokke was, oplei om Engels vir kinders te leer.
“Ek het by ’n kerkdiens wat ek bygewoon het ’n Chinese vrou ontmoet. Lisa het gehoor ek soek verblyf en danksy haar intrede kon ek huisvesting in Bidor kry. Ek het my dienste by die kerk aangebied, Sondagskool gehou en vir voornemende studente Engels geleer.”
Nadat haar twee jaar-kontrak in Bidor verstryk het, het Ann na die dorpie Kijal verhuis waar sy vier jaar lank gewoon en onderwys gegee het. Gelukkig was daar ’n Engelssprekende Assemblies-kerk waar sy kon aansluit, en waar sy een keer ’n maand ’n Bybelstudiegroep gelei het.
Sy vertel: “Ek beskou my ses jaar in Maleisië as die tyd waarin ek kon diens lewer aan ander; daar was ’n groot behoefte aan die Woord omdat daar so min Christene is.”
’n Groot skok ná haar terugkeer
Toe Ann die nuus kry dat haar dogter in Suid-Afrika ’n baba verwag, het sy, toe 65 jaar oud, besluit om die tuig neer te lê. Ná veertien jaar in die buiteland het sy finaal na Suid-Afrika teruggekeer.
In Januarie 2020 het Ann vir die eerste keer haar eie blyplek in die Kaap gekry. Die daaropvolgende drie jaar het sy as kunsonderwyser by ’n laerskool in Kaapstad gewerk.
Verlede jaar het sy besluit om af te tree. Toe het sy reeds geruime tyd erge moegheid beleef. Drie maande ná haar aftrede moes Ann hoor dat sy fase 3-tongkanker het, wat reeds na die limfkliere versprei het.
“Ek was diep geskok,” sê sy. “Uiteindelik terug in my land, uiteindelik afgetree – en nou hierdie tyding.”
Sy moes drie operasies ondergaan en ’n deel van haar tong is uitgesny. ’n Kombinasie van chemoterapie en bestraling het daarop gevolg, van Julie 2023 tot Julie vanjaar. Asook ’n bloedoortapping.
Sy vertel: “Die kanker was aan die agterkant van my tong en dit het tot gevolg gehad dat ek nie kon sluk nie. Dit was ook baie seer. Ek het 15 kg verloor omdat ek nie kon eet nie en gesukkel het om enigiets te drink. My keel was opgeswel aan die binnekant. Ek moes my dwing om baie fyn, voedsame sop te eet, en om genoeg Ensure in te kry. Die alternatief was die hospitaal en ’n voedingsbuis.
“Wanneer die pyn te veel geword het om te verduur, het ek my regterhand opgelig en gesê: ‘God, raak aan my, raak aan my, en help my met hierdie pyn. Dis te erg.’
“Of ek sou leef en of ek sou sterf, my gebed was dat ek steeds vir God al die eer sou gee.
“Die Skrifgedeelte wat my deur my kankerstryd gedra het, was Jesaja 41:13. Dit lui só: ‘Want Ek, die Here jou God, gryp jou regterhand aan, Ek wat vir jou sê: Wees nie bevrees nie, Ek help jou.”
“Drie weke gelede, ná vele gebede van my geliefdes, is ’n volledige PET-skandering op my uitgevoer. Dit het getoon dat ek kankervry is. Ek voel so geseënd dat ek nou gesond genoeg is om my twee kleinkinders in Kaapstad te geniet, asook die drie in Australië.
“Ek beskou my herstel, nadat my lewe ’n totale ramp was, as ’n wonderwerk.
“Deur my belewenisse die afgelope jare het ek geleer dat ons Vader ’n God van vertroosting is. God is in beheer. Ek moes swaar tye deurmaak, ek moes lesse daaruit leer. Vandag is ek ’n nuwe mens. En my geloof is sterker as ooit.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.