Jenny Fourie se lewe het kort ná haar 42ste verjaardag ’n skokkende wending geneem toe haar man sy eie lewe geneem het. Dit was die begin van ’n tyd vol vrae en hartseer, en sy moes alleenouer vir hul vyf kinders wees. Twee jaar later vertel sy meer oor die keuses wat sy moes maak.
Jenny Fourie en haar man Ehan was gelukkig getroud. Hy was ’n man wat alles in sy vermoë sou doen om sy vrou en kinders te beskerm. Hy was ’n man van inbors, en hulle het alles saam gedoen.
Toe Jenny se familie op 14 Augustus 2022 in die Laeveld saamtrek om haar 42ste verjaardag te vier, was haar geluksbeker propvol. Daar was geen teken daarvan dat Ehan ongelukkig was of ’n moeilike tyd beleef het nie.
Maar twee weke later het hy ’n sekerheidsmaatskappy se paniekknoppie gedruk en homself daarna om die lewe gebring – met die klaarblyklike oogmerk dat die sekerheidsbeamptes sy lewelose liggaam ontdek en nie sy jongste dogter wanneer sy van die skool af kom nie.
‘Ek het nie eintlik woorde om die seer te beskryf nie’
Jenny vertel: “Ek was by die werk. Dit was ’n Woensdagoggend.
“Daar was geen waarskuwingstekens nie; daar was absoluut niks wat ons hierop kon voorberei nie. Ons kon geen briefie vind nie. Tot vandag toe weet ons nie waarom hy dit gedoen het nie.
LEES OOK: ‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’
“Dit was die begin van ’n lewe vol hartseer en waaroms.
“Dit was ook die begin van mense se ondersteuning. Daar was ook dié wat teksversies gestuur het, ons predikant wat ons ondersteun het.
“Natuurlik was daar ook dae vol selfverwyt – en veral die vraag: ‘Hoe kón ek die waarskuwingstekens misgekyk het?’
“Dit was ’n verskriklike klompie weke: om jou eggenoot op so ’n wyse te verloor, om te beleef hoe al jou toekomsdrome binne ’n breukdeel van ’n sekonde verpletter word …
“My lewe is eensklaps gestroop van alles wat mooi is.
“Ek het nie eintlik woorde om die seer te beskryf nie.
“Maar jy het altyd ’n keuse – en die keuse wat ek moes maak, was om sterk te wees vir my kinders en om hulle deur dit alles te help dra.
“Ek kon nie breek nie; dit sou ook my kinders gebreek het.”
‘Onthou, dit was sy keuse’
“Dit het baie deursettingsvermoë gekos om my kop hoog te hou, én om dit vol te hou. Maar dit was my enigste opsie.
“Op ’n manier het my beroep as aankoper by ’n uitvoermaatskappy my hierop voorberei; ek kán ‘sterk staan’.
“Maar eintlik kan ek nie hierdie ondervinding met enigiets anders vergelyk nie. My leefwyse, my toekomsverwagting – álles is skielik op die kop gedraai.
“Ek kry my skoonouers so jammer; dis hul seun. Ek het ná Ehan se dood ’n kosbare boodskap van sy pa af gekry. Dit lui só: ‘Onthou, dit was sy keuse. Met Ma Joan se dood het ek agtergekom dat droefheid ons enersyds van God se tere vertroosting en omarmende liefde leer.
“En andersyds leer ken ons die liefde en goedheid van ons medemens. So ontdek ons, deur ons smart, sowel God as ons medemens.’”
‘Ek lewe van al die mooi herinneringe’
Jenny moes ná Ehan se dood vele dinge aanhoor, veral ook oor die taboes rakende selfdood en die sogenaamde stigma wat daarmee gepaardgaan.
Sy moes leer hoe om met haar kinders daaroor te praat. “Daar kom steeds dae waarin ons saam huil, wanneer ons saam onthou.
“Ek moes ook leer om te aanvaar. Dit was sý keuse, al is dit so swaar om dit te aanvaar. Intussen het die mense om ons se boodskappe en ondersteuning ons tree vir tree gedra.
“Uiteindelik kon ek Ehan vergewe. My liefde vir hom sal ek altyd in my hart koester. Ek lewe van al die mooi herinneringe.
“Dis nie ’n maklike pad nie, maar dis moontlik om dit te oorleef. My geloof in die Here maak dit makliker. Dis Hy wat my elke dag dra, wat my en my kinders in die palm van sy hand hou.”
Intussen het dit vir Jenny baie belangrik geword om ander mense bewus te maak van die werklikhede wat selfdood op jou afdwing. Van die uitdagings wat depressie en ander aftakelende geestestoestande meebring. “Jy sal dit nie self raaksien nie – totdat dit met jou gebeur. Ek is daarvan oortuig dat sulke soort bewusmaking ’n absolute noodsaaklikheid is.
“Ek wil ten slotte sê: Baie sterkte aan elkeen wat ’n geliefde aan selfdood verloor het. Weet dat daar hoop is vir jou.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.