13 April 2021
Petra Snyman het onlangs haar aangrypende getuienis met LiG-lesers gedeel oor haar ma wat haar verlaat het toe sy maar tien jaar oud was. Sy deel met ons die VYF GROOT LEWENSLESSE wat haar as volwassene nader aan God gebring het.
- Dit was vir my goed toe ek besef het dat ek nie altyd in liefde geleef het nie. Dat ek vol frustrasies was wat op die verkeerde tye en verkeerde plekke uiting gevind het. My woorde was nie vol liefde nie en ek moes gereeld ander mense om verskoning vra, ek moes knaend jammer sê. Maar dit was juis toe dat Jesus Christus se gestalte in my sigbaar geword het.
- Dit was vir my goed dat ek my ma gevind het nadat ek haar, as gevolg van ’n misverstand, byna verloor het. Haar warm stem oor die telefoon het die plek van ’n nag sê-drukkie ingeneem. Haar gebede het my kinders sterk gemaak. Haar aanmoediging het my gehelp om ’n boek te skryf wat mense aan die hart sou raak.
- Dit was vir my goed toe ek geleer het dat ek nie ’n ander mens uit my lewe kan wegwens nie, al is daar foute gemaak. Die kontak was nou andersoortig en minder intens, maar dit was steeds beter as geen kontak.
- Dit was vir my goed om te leer dat die reis saam met bloedfamilie dikwels belangriker is as die plek waarheen ons op pad is. Dis juis sulke dinge wat ons vorm en wat die vrug van die Gees in ons lewe na vore bring. Ons moet liefhê en luister, dikwels opofferings maak, ons moet vergewe en gereeld sê “ek is jammer”. Ons moenie toelaat dat die versuim om te vergewe in die pad van gebedsverhoring staan nie. Hoor wat sê Jesus: “En wanneer julle staan om te bid en julle het iets teen iemand, vergewe hom; dan sal julle Vader wat in die hemel is, julle ook julle oortredings vergewe” (Mark 11:25).
- Dit was vir my goed toe ek geleer het om die berge in my lewe te konfronteer, om God se Woord op my lippe te neem en om lewe te bring waar ek ook al kom. Ek het struikelblokke en afbrekende gewoontes oorwin. My woestynervarings het innerlike groei tot gevolg gehad en ek het sterker anderkant uit gekom.
LEES OOK: Die dag toe my ma weggegaan het …
Geborg
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.