Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Waardeer wat jy het

Deur Elzerie van der Westhuizen

Mense sê jy moet waardeer wat jy het, want die mat kan so vinnig en onverwags onder jou uitgeruk word. Dit is wat met my gebeur het.

Die een oomblik was alles nog piekfyn en die volgende oomblik veg die dokter in die ongevalle-eenheid van Robinson-hospitaal in Randfontein vir my lewe en dan verander alles.

My pad

Ek is ongeveer vier jaar gelede met fase 3B servikale kanker gediagnoseer. Dit het nie goed gelyk nie en ek het twee keer by die dood omgedraai. Die eerste keer was met my diagnose en die tweede keer was tydens chemoterapie en bestraling. Ek het baie gewig verloor en het op ’n stadium slegs 46 kg geweeg. Met die bestraling is daar ’n groot gat in my blaas gebrand en het ek baie van my nierfunksie verloor.

Terwyl ek in die Donald Gordon-hospitaal was, besig om vir my lewe te veg, het my skoonpa beswyk aan bloeding op die brein na verskeie kere se val. Die dokters het te laat agtergekom daar was skade. Ek het nooit die geleentheid gehad om van hom afskeid te neem nie.

Tog het ek, ten spyte van al die gebeure, met baie gebede, God se genade en die ondersteuning van my man, dogter en familie deurgetrek. Tans loop ek met twee stente, is permanent op antibiotika om die infeksies te beveg en moet ek twee keer per week bloedtoetse laat doen.

Tydens my siekbed het ek baie tyd gehad om te reflekteer oor my lewe en wat dit is wat ek wil bereik voordat ek my laaste asem uitblaas.

Elzerie in die hospitaal.

Die een ding het vir my uitgestaan: Ek wou ’n manier vind om mense te bemagtig om met vrymoedigheid deel te word van die Markus 16:15-opdrag: “Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom.”

Die bemagtiging moes dan ook lei tot ’n beter verhouding met God.

Skouer aan die wiel …

Ek het my planne en gedagtes met my man Johann gedeel en hy was reg van die begin af positief en het my aangemoedig om voort te gaan. Ons was beide al verskeie kere voltyds by ander bedienings soos die Jesusprojek van ds Jannie Pelser, Sportballe vir Christus/Living Ball Ministries van Manie du Toit en Woordfokus/Word Focus International Ministries van pastoor Jannie van Zyl betrokke, maar nog nooit ons eie nie. Ons betrokkenheid by die ander bedienings het aan ons die geleentheid gegee om baie te leer en te sien waar die grootste geestelike behoeftes lê.

Nadat ons op ’n plan en strategie besluit het, het die werk begin. Tydens ons betrokkenheid by past Jannie van Zyl se Woordfokus-bedieninge het ek sy skryfwerk verwerk en uitgegee. Saam het ons letterlik honderde boeke en nog meer briewe beskikbaar gestel en versprei aan mense. Past Jannie was inskiklik met my visie en het ingestem om sy materiaal beskikbaar te stel vir so ’n onderneming. Nou ja, na drie jaar se baie harde werk het ons uiteindelik ’n produk, ’n instrument wat ek glo lewensveranderend kan wees en wat ’n verskil kan maak.

Die pad vorentoe

Ek is reeds besig met die volgende boek en daar is nog baie meer wat gedoen moet word en solank as wat ek asemhaal gaan ek doen wat ek kan om ’n verskil te maak.

Jy is vir God baie belangrik en ook vir my en is die rede hoekom ek doen wat ek doen.

Warm Christusliefde.

LEES OOK: \’Ons skei na 38 jaar\’

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.