Ons sit op die bed en maak gereed om saam te bid. My oudste skud sy kop en sê hy wil nie vanaand bid nie.
“Hoekom nie?” vra ek.
“Mamma,” sê hy, “as God alles weet, en Hy weet wat ek wil hê, hoekom moet ek dan bid en dit vir Hom sê? Hy weet dit mos reeds!”
Hoekom vra?
My seuntjie wonder oor dinge waaroor grootmense ook kopkrap: Die Here weet wat ons wil hê, en wat ons nodig het, nog voor ons dit vra. Hy sorg vir ons, Hy voorsien in ons daaglikse behoeftes. Waarom moet ons dan vra?
Ek dink aan Jesus se woorde in Matteus 7:7-8: “Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word, want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word.”
Watter geheime lê opgesluit in die dieptes van vra? Hoekom is dit belangrik dat ek vra? Wat gebeur in ons hart wanneer ons tot God bid en iets van Hom vra?
Om in beheer te wees?
Is dit ons “werk” om God van plan te laat verander, of Hom van die meriete van ons saak te oortuig?
As twee groepe, byvoorbeeld, teenoorgestelde dinge van Hom vra, wie gaan wen? Dié met die meeste en die “beste” gebede?
Wanneer twee sportspanne teen mekaar meeding en albei bid tot God om hulle te help, wie kies Hy? En op grond waarvan?
Moet ons God dan eers aan ons kant probeer kry?
So word my behoefte ontbloot om in beheer te wees. Ek wil God manipuleer, ek wil sy wil buig om te kry wat ek wil hê. Daarom moet ons altyd onthou wat Jesus gesê het: “Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ’n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra” (Matt 6:7-8).
Nee, sê Jesus, julle hoef nie baie woorde te gebruik nie, want julle Vader weet reeds wat julle nodig het.
Ons besef mettertyd ons kry nie noodwendig presies wat ons vra nie, maar beslis dit wat die beste vir ons is.
Beteken dit dan dat ons gebede nie regtig nodig is nie?
Met watter gesindheid?
Met die opmerking hierbo wat Jesus in sy groot Bergpreek gemaak het, wou Hy iets tuisbring oor ons gesindheid wanneer ons bid. Sien, gebed vorm deel van ’n lewende, intieme verhouding met God. Gebed het nie ten doel om dinge op ons wenslysie af te merk nie. Ons moet bid sodat ons die verhouding waarin Hy met ons staan, kan eer. Sodat ons daarin kan groei. Sodat ons ook ons verhouding met ons medemens kan laat gedy.
Toe ek en my man destyds begin uitgaan het, was dit ’n tipiese langafstandverhouding. Ons kon ure lank oor die foon gesels, omdat ons wou. Ons wou mekaar beter leer ken. Ons wou aan mekaar vertel hoe die dag verloop het. Ons wou bloot in mekaar se geselskap wees.
In ons verhouding met ons Vader is dit belangrik om te vra, te soek en te klop, sodat ons verhouding gesond kan bly en kan groei. God weet wat ons nodig het, en Hy sal dit vir ons gee omdat Hy ’n goeie Vader is. Maar ons vra omdat ons dankbaar is, omdat ons afhanklik is, omdat ons erkenning wil gee aan die Een wat voorsien. Soos Jesus sê: “As julle wat sleg is, dan weet om vir julle kinders goeie dinge te gee – die Vader in die hemel nog baie meer!” (Luk 11:13).
Op dié manier word die vra vir ons daaglikse brood terselfdertyd die bewuswording daarvan dat dit reeds aan ons gegee is. En om nié daarvoor te vra nie, impliseer dalk dat ons reken ons kan deur ons eie kreatiewe insette, goeie beplanning en harde werk in ons eie behoeftes voorsien. Eintlik sê ons dan dat ons goed regkom sonder Hom.
Gebed hou ons dus dankbaar en herinner ons aan ons afhanklikheid. Dit help ons onthou dat die lewe ’n geskenk is, ’n gawe van God.
’n ‘Ruiling’
En wanneer ons bid, moet ons tog nie dink ons sal God verander nie; ons sal wel gou agterkom dat gebed óns verander.
En dan word dié “ruiling” ’n heerlike werklikheid: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus” (Fil 4:6-7).
Reg gehoor. Paulus sê: Ek lê my begeertes in sy midde; Hy gee my sy omvattende vrede.
- Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.