“Hoekom, Here?”
Mag ons so ’n vraag vra? Ja, ons mag, want ons is die Here se eiendom. En ons het die versekering dat Hy sorg. En, wie weet, eendag word daardie vraag dalk ’n uitroep: “Dankie, Here!”
Hier is Ryno en Anneke se verhaal:
Op ’n goeie dag het hulle mekaar ontmoet en verlief geraak. Hulle het gaan studeer, later werk gekry, en nog later met mekaar getrou.
Hulle wil kinders hê, maar dit gebeur nie. Daar is fout met Anneke se siklus.
Ná baie bid, lank wag, etlike hormoonbehandelings en vele trane, raak Anneke swanger. Op 25 Mei 2017 word ’n dogtertjie gebore. Hulle noem haar Chanri.
‘Hoë emosionele eise’
Dit was nog altyd Ryno se droom om op ’n kleinhoewe langs ’n rivier te bly. Ná jare se soek-en-bid, koop hulle ’n erf langs die Rietspruit. Ryno begin om hul droomhuis eiehandig te bou.
Maar net toe die gebou dakhoogte bereik, besef hulle die stene is foutief. Die huis moet gesloop word. Hy moet weer begin.
Intussen smag die egpaar na ’n boetie of sussie vir Chanri, maar daar gebeur niks. Hormoonbehandelings, vyf ovulasie-induksies en kunsmatige inseminasie. Niks werk nie.
In vitro-bevrugting is nog ’n opsie, maar dit stel hoë emosionele eise, en dis baie duur.
Ryno en Anneke bid, hulle kry vrede daaroor, en hulle besluit om laasgenoemde roete te volg. Maar ná talle miskrame, trane en vrae, is daar later geen embrio’s meer oor nie. Hulle moet weer deur die proses gaan.
Ná die inplanting van twee lewensvatbare embrio’s ontwikkel een tot die volle termyn. Eckhardt word op 7 Desember 2021 gebore.
‘Here, help asseblief!’
In Mei 2022 trek die gesin by hul droomhuis in, maar Eckhardt bly siek. In die loop van 12 maande beland hy 11 keer in die hospitaal. Al die toetse is egter negatief en hy gaan huis toe. Spoedig is hy weer ’n gesonde seuntjie. Dis ’n wonderwerk!
In Februarie 2023 reën dit erg. Só erg dat die Rietspruit oor sy walle stoot. Op Donderdag 16 Februarie oorstroom die nuwe huis. Kniediep in die water probeer hulle red wat te redde is. Ná ’n paar uur sak die watervlak, maar toe is alles ’n nat en vuil moddergemors.
Anneke en die kinders gaan slaap by Ouma, want sy en Ryno wil nie hê die kinders moet die huis so sien nie. Intussen probeer Ryno die huis skoon kry. Daardie Saterdag gaan help die hele familie om skoon te maak. Ons verneem dat die sluise in die rivier oopgemaak sal word, wat beteken dat die water wat van Fochville se kant af kom plek sal hê om heen te vloei.
Later stap ons af spruit toe. Opeens besef ons die rivier is weer sterk aan die vloei. Maar wat is die kanse dat die watervlak verder sal styg? Die sluise is mos oop …
Maar die sluise is nie betyds oopgemaak nie.
Gou raak-raak die water aan die huis se stoep. Ons maak die deure toe, maar die water word nie gekeer nie. Binne minute is dit heuphoogte in die huis. Ons moet dadelik hier uit!
Maar die water druk die deur van buite af toe; ons kan nêrens heen nie. Ons almal, ook die kinders, is vasgekeer. En die watervlak styg vinnig.
“Here, help asseblief!”
Op daardie oomblik bars die voordeur oop en ons is almal halflyf onder die water daar uit. Ryno en Anneke en die kinders het letterlik net die klere aan hul lyf.
Die mans bly agter om die bure te help. Anneke sê vir Chanri: “Alles sal uitwerk. Jy gaan sien hoe God vir ons sorg.”
Daardie einste aand daag gemeentelede, kollegas en familielede op. Hulle bring bottels, klere, komberse, speelgoed – alles in oorvloed. Die Here is getrou.
Dalk weens die skok begin Anneke se siklus. Dit ook nog …
Die volgende dag trek die water terug, maar daar is derduisende rand se skade. Hulle moet weer begin.
‘Hierdie baba …’
Anneke bly siek voel en sy gaan dokter toe. Hy doen ’n sonar – en daar is die babatjie! Sonder behandeling, en sy is 15 weke swanger. Wat ’n wonderwerk! Dit blyk dat toe sy die aand van die vloed begin bloei het, dit eintlik ’n dreigende miskraam was.
Daardie aand praat Anneke met die Here: “Here, dankie, dis niks minder nie as ’n wonderwerk. Maar ons kan nie eens vir onsself sorg nie.”
Die Here antwoord haar: “Julle het so lank gefokus op dood en verlies. Ek wil hê julle moet fokus op lewe. Hierdie baba is die teken daarvan.”
Ryno maak die huis reg, vertrek ná vertrek. Die pleisterwerk moet afgekap, reggemaak en oorgeverf word. Elke enkele muur, behalwe die een in Chanri se kamer, waar ons ’n paar maande tevore ’n reënboog geverf het. Ryno is daarvan oortuig dis God se belofte dat ’n vloed nie weer alles sal vernietig nie.
Ná baie swoeg en sweet, trek die gesin terug. Klein Ederich is op 29 September 2023 gebore – ’n perfekte, gesonde klein lyfie.
Wat moet ons doen?
Een aand, kort voor Kersfees daardie jaar, gaan die krag skielik af. Ryno stel ondersoek in en sien dat hul werkwinkel brand. Hy probeer die vlamme blus, en Anneke gryp die kinders en hardloop na die bure vir hulp. Hulle bid dat die vuur nie versprei nie en dat Ryno veilig sal wees.
Dit was toe so. Dit was nog ’n verhoorde gebed.
Nou begin ’n mens wonder: Waarom al hierdie uitdagings? Het ons dalk verkeerd verstaan? Het ons nie mooi geluister as die Here praat nie? Wat moet ons doen?
Weer eens begin Ryno om alles te herstel. En hulle besluit om in hul huis te bly.
God het ons nie ’n maklike reis hier op aarde belowe nie, maar hoe reageer jy wanneer die uitdagings kom?
Waar kom jou hulp vandaan?
Ryno en Anneke se geloof en deursettingsvermoë is ’n klinkende getuienis van hoe om onvoorwaardelik te vertrou. Hulle weet God sal voorsien. Hy het dit belowe.
Dit is dan wanneer jou “hoekom, Here?” verander na “dankie, Here!”
- Ryno (35) en Anneke (34) Moolman en hul drie kinders woon in hul droomhuis op ’n kleinhoewe langs die Rietspruit. Ryno is met konstruksiewerk gemoeid en Anneke is ’n lektor by die NWU se Vaaldriehoekkampus. Ryno se suster, Bianca Hechter, het dié getuienis geskryf.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.