Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Hoe gemaak met kinders wat jok?

Jy kan dit aan jou kind se lyftaal sien: dít is nie die waarheid nie. En jy kners by voorbaat op jou tande. Hoe gemaak met kinders wat die waarheid verdraai – of sommer blatant jok?

Jy kan dit aan jou kind se lyftaal sien: dít is nie die waarheid nie. En jy kners by voorbaat op jou tande. Hoe gemaak met kinders wat die waarheid verdraai – of sommer blatant jok?

Kinders wat jok kan vir ouers ´n gewetenswroeging wees. Ons wil almal graag kinders grootmaak wat eerlik en verantwoordelik optree, en wanneer jy besef dat jou kind (alweer) na die eerste en beste storie as verskoning gryp, kan ouers voel asof hulle in hulle taak misluk. 

Hoekom jok my kind?

In sy boek “Real Love” sê die skrywer Greg Baer die volgende: “Mense jok nie omdat hulle sleg is nie. Hulle jok omdat hulle bang is.” Die meeste mense sal, wanneer hulle gevra word, erken dat eerlikheid en integriteit vir hulle belangrik is en dat hulle wel waarde daaraan heg. 

Ons hou nie daarvan as ander vir ons jok nie. En tog kan min mense daarop aanspraak maak dat hulle self altyd eerlik is.

Jy jok dalk nie wanneer jy jou belastingopgawe indien, of wanneer jy siekverlof neem nie, maar jy blameer moontlik ander wanneer jy eintlik skuldig is, is nie eerlik oor jou gevoelens nie, minimaliseer ander se suksesse of oordryf wanneer jy oor jou eie, of jou gesin, se prestasies praat. 

Kinders wat jok, is dus nie die uitsondering op die reël nie, en dit dui nie noodwendig op slegte kinders, of gebrekkige ouerskap nie. 

Die gesinsterapeut en skrywer, Jonathan Decker, brei uit. “Ons jok om iets te kry of te beskerm. Wanneer ons jok, is dit byvoorbeeld om ons eie gevoelens, of dié van ander, te beskerm. Ons is bang dat ons iemand se liefde en aanvaarding sal verloor of iemand sal teleurstel.

“Omdat ons soveel waarde aan hierdie verhoudings en opinies heg, sal ons eerder die waarheid verdoesel om sodoende onsself te probeer beskerm. By sommige kinders raak dit ´n gewoonte – die manier waarop hulle uitdagings en die gevolge van hulle gedrag probeer ontduik.”

Riza Uys, spelterapeut, onderwyseres en lewensafrigter, gee die volgende raad. “Vind uit wat die motivering agter jou kind se leuen is, en spreek dit aan. Kinders is baie bang vir verwerping. Voel jou kind dat jy minder lief vir hom sal wees of minder van hom sal dink wanneer hy ´n fout maak of swak presteer? Is sy bang vir mislukking? 

Jou kinders moet weet dat om die waarheid te praat, altyd die beste en veiligste opsie is. Maak seker hulle verstaan dat wanneer hulle die waarheid praat, respek en vertroue behou bly, en dit is in die lange duur baie meer werd as die (kortstondige) moeilikheid wat die slegte gedrag tot gevolg het.” 

Wat gebeur wanneer my kind jok?

Dis vir geen ouer lekker om te besef dat hulle kind jok nie. Ons het meestal baie duidelike assosiasies met oneerlike gedrag: dit maak ons kwaad en stel ons teleur. Ons ervaar maklik ons kind as selfsugtig, slinks of agteraf. En dikwels reageer ouers baie sterk en sonder om twee keer oor hulle woorde te dink. 

Indien jy baie heftig, bitsig of aanvallend reageer, kan dit moontlik die probleem vererger sodat jou kind in die toekoms nog meer versigtig sal wees voordat hy sy aandeel erken en met die hele sak patats vorendag kom. Respek begin by jou en jy kan baie doen om ´n veilige ruimte te skep waarbinne kinders hulle foute kan erken en kan probeer regstel. 

Riza sê: “Erken dit wanneer jou kind eerlik is en wys jou waardering vir die waarheid. Jou kinders moet weet dat die waarheid vir jou gewig dra. Neem die konteks waarbinne die verkeerde gedrag plaasvind, in ag, en doen moeite om die wêreld deur jou kind se oë te probeer sien en verstaan. Dikwels kom ouers se ego in die pad sodat hulle dit as ´n persoonlike mislukking sien wanneer hulle besef dat hulle kind jok. Behou jou waardigheid en tree met liefde op.”  

Sommer ’n storie?

Fantasie is ´n onlosmaaklike deel van kindwees, en tog kan dit verwarring veroorsaak. Dit is dalk moeilik om te verstaan hoekom die tandemuis geld in jou skoen los, en die Paashaas Paaseiers in die tuin wegsteek, maar dat jy nie die feetjies vir jou deurmekaar kamer of die stukkende koppie kan blameer nie.

Riza glo dat ouers van kleins af gereeld met hulle kinders moet praat oor die verskil tussen wat regtig, en wat speel-speel is. Hierdie gesprek hoef nie te wag tot wanneer jou kind jok of stories opmaak nie. Kinders mag heerlike staaltjies vertel en stories opmaak, maar moet kan verstaan en verduidelik dat hierdie ´n speel-speel storie is.

Ouers moet self ook weet dat die waarheid belangrik is. Moenie jok en sê dat “die battery pap” of “die lekkergoed op is” wanneer dit nie die geval is nie. Kinders is baie intuïtief en sal gou weet wanneer jy jok (en jou voorbeeld volg).

Ek vertrou nie my kind nie

´n Patroon van leuens en oneerlike gedrag, kan die vertrouensverhouding tussen ´n ouer en kind skaad sodat jy later met ´n gevoel van ongemak besef dat jy nie meer jou kind vertrou nie. 

“Dit is ´n gesprek werd,” meen Riza. “Veral ouer kinders is in staat om te besef dat hulle gedrag gevolge het. Soms ignoreer ons sulke problematiese situasies omdat ons nie kans sien vir die konflik en baie emosie wat daarmee gepaard gaan nie. Dit beteken dat kinders dalk nie die negatiewe gevolge van hulle leuens sien en ervaar nie.”

Gebruik dié dinge waaraan jou kind waarde heg as ´n vertrekpunt. Indien jou kind baie sosiaal is, kan jy verduidelik dat sy ´n kuier gaan misloop of vroeër tuis moet wees omdat jy haar nie kan vertrou om by die reëls te hou nie. 

Of indien jou kind baie van rekenaar- of selfoonspeletjies hou, kan jy verduidelik dat hy hierdie voorreg gaan verbeur omdat jy nie weet of hy by die tye wat julle ooreengekom het, gaan hou nie. Kinders moet ook weet dat leuens ´n bose kringloop skep. Wanneer ons jok, voel ons nog slegter oor onsself sodat ons dalk nog makliker sal jok om liefde en aanvaarding te soek.

Die waarheid maak seer?

Veral ouer kinders kan ook leer dat die waarheid nie onsensitief is nie, en dat ons nie die waarheid op ´n manier moet oordra dat dit seermaak nie. Kinders kan brutaal eerlik wees, en dit is derhalwe goed om te leer dat ons ander se gevoelens in ag moet neem en in liefde moet praat. Dit beteken nie dat ons jok nie, maar eerder dat ons dink oor hoe ons die waarheid oordra. 

Wenke wat werk

  • Lei deur jou voorbeeld. Jou kinders sal moeilik glo dat die waarheid belangrik is wanneer jy vir die verkeersbeampte jok of wolhaarstories vertel oor waar jy Saterdagaand was. 
  • Leer jou kinders om verantwoordbaar te wees. 
  • Skep geleenthede waar jou kinders kan wys dat hulle betroubaar is, en prys hulle wanneer hulle met integriteit optree. Gee duidelike instruksies en stel haalbare doelwitte.
  • Skei die gedrag van die persoon. Jou kinders moet weet dat leuens onaanvaarbaar is, maar dat jy hulle onvoorwaardelik aanvaar en liefhet. 

Riza Uys is ’n spelterapeut, lewensafrigter en onderwyseres in die Paarl. Sy wil graag ouers help wat meer leiding nodig het. Kontak haar by academics.playtherapy@gmail.com.

Lees ook die artikel, Help, my kind jok.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF