Deur Gerhard Brand
Vir die laaste paar weke het die Here dit op my hart gedruk om my getuienis te deel met mense en om daaroor te praat. Ek is onseker hoe en waar die Here my gaan gebruik, maar ek het gedink ek sal eerste stap neem deur op LiG se webwerf te deel.
Ons journey het in Augustus 2017 begin. Ons was in Thailand by Heidé, my vrou se ma. Ons het net die dag geland. Die aand word ek wakker met Heidé wat my roep. Sy het baie gehuil. Ons het dadelik in ’n taxi geklim en hospitaal toe gery. Die dokter wat aan diens was se Engels was baie swak, maar sy het gesê dit is moontlik ’n miskraam. Ons moes vyf dae later weer na ’n dokter gaan wat bevestig het dat dit wel ’n miskraam was. Die gevoel om jou kind te verloor nadat jy reeds die hartkloppie gesien het is verskriklik. Die moedeloosheid wat saam met dit gaan. Al die dokters het bevestig dat ons niks anders kon gedoen het nie. Daar was net fout met die kleintjie gewees. Jy is nie in beheer nie …

Na al die seer begin ons weer in Januarie 2018 om swanger te raak en ek het op daardie stadium gevoel iets is nie reg nie. Ons raak nie swanger nie.
Augustus 2018 het ek in ’n spesialis se spreekkamer gesit en dit het gevoel asof iemand ’n gat in my bors geslaan het. “As dokter mag ek dit nie sê nie, maar dit is redelik onmoontlik dat julle julle eie kinders sal hê.” Dít is die woorde wat uit die dokter se mond gekom het wat my oopgeskeur het. Ek het in November 2017 siek geraak en volgens die dokter was dit die rede. Dit was moeilik om my vrou in die oë te kyk terwyl sy gehuil het omdat sy by was en ek kon sien sy het ook seer. Ek het drie keer vir toetse gegaan wat al drie dieselfde resultate gelewer het.
Die dokter het verduidelik dat ons 40% kans sal staan met hulp om swanger te raak. Dit was ons albei se gevoel dat dit nie ons pad sal wees nie omdat dit nie na die regte pad gevoel het nie. Ons het ook nie die geld gehad daarvoor nie.
Ek het gestoei met die Here want hoe is jy ’n man as jy nie vir jou vrou ’n baba kan gee nie. Die duiwel se aanvalle het toegesak op my. Ek het gevoel soos ’n mislukking. Ek het seer gehad want hier is ek besig met bediening en hierdie goed gebeur met my. Hierdie seer wat op ons pad kom. Dit was moeilik gewees om met ons kleingroep te deel. Wat gaan die mense van my dink? Wat gaan die mense van my vrou dink? Dalk “shame ons kry hulle jammer”.
Ek het bly stoei met God. God is die Skepper en ek verstaan nie hoekom hy hierdie goed toelaat nie. Maar een ding wat seker is, is ek het geweet hierdie seer en pyn kom nie van God af nie. Die is die wêreld, die lewe. My God , ek verstaan nie maar ek gee oor aan U. Laat u wil geskied.
Na ’n tyd het ons begin praat dat ons moontlik gaan moet dink aan aanneem – want al het ons nie kinders van ons eie nie kan ons ’n pappa en mamma wees van ’n klein bondel liefde.
Dit is net daar wat ek ’n droom kry waar ek ’n kind sien hardloop en ek die naam uitroep. Toe ek wakker word het ek hierdie oortuiging gehad dat God vir my sê dit is my kind wat oppad is. Kortliks na dit het ’n tannie vir my skoonma gesê sy bid vir ons en sy moet vir ons sê dat ons genees is en ons gaan twee kinders hê.
Josua 1:9: “This is my Command, be strong and courageous. Do not be afraid or discouraged for the Lord your God will be with you where ever you go.” – Dit is die boodskap wat ek gekry het.
Ek het daaraan vasgehou maar dit was steeds ’n fight dag tot dag waar ek vir Jesus moes sê: Ek gee oor en ek glo dit was ’n boodskap van Hom om te sê dat ons ’n kind gaan hê. Maar die vraag was heeltyd daar: Het jy reg gehoor? Is dit regtig wat God gesê het? Dit weet ek nou was die duiwel wat probeer onsekerheid saai het.
LEES OOK: ‘Na sewe jaar kom God sy belofte na,’ vertel ouers van ‘wonderwerk-dogtertjie’
Ons het besluit om vir tweede opinie te gaan in November 2018. Die spesialis het vir ons gesê hy is nie bekommerd nie en my vrou moet ’n klein operasie kry om ’n groeisel te verwyder. Ons het gemaklik gevoel op daardie stadium.
Die operasie is toe die Januarie 2019 gedoen en als het goed afgeloop. Ek moes toe weer vir toetse gaan … Nie ’n lekker gevoel nie.
’n Week later het ek steeds niks gehoor nie. Ek kontak die spreekkamer en vra dat die dokter my moet terugbel want ek wil graag net uitslae hoor. Hy bel my ’n dag later. Die spanning in my keel. Ek het heeltyd gebid As dit u wil is laat dit goeie nuus wees.
Die dokter het vir my gesê als is normaal, hy kan niks fout vind nie. Trane het oor my wange geloop. Al wat ek kon dink op daardie stadium is: Dankie God. Dankie God. SMALL Victories.
Daar is geen ander manier om dit te beskryf as ’n wonderwerk nie. Dit is ’n wonderwerk! God het ’n wonderwerk gedoen.
Om dit nog meer spesiaal te maak het ons op Paassondag uitgevind my vrou is swanger. Dit is nie waar ons storie gestop het nie.
Jy sien, dit is waar die die interne struggle begin het. Wat as iets weer verkeerd gaan? Vrees het my oorval ek wou so erg in beheer wees. Ek het heeltemal vergeet van die wonderwerke wat gebeur het die laaste paar maande. Ek het vergeet waar kom ons klein blessing vandaan.
Dankie vir ons kleingroep. Hulle het ons gehelp om te besef dat ons tans besig is om die beste tyd van ons lewe te laat verbygaan omdat ons deur vrees oorval word. Elke keer as die duiwel kom met aanvalle van vrees of selfs net as ons gedagtes negatief raak gaan ons nie terug na die small victories wat God reeds vir ons gegee het nie. Ons kyk vas in wat kan gebeur. Ons wil in beheer wees. Ons moes tot die besluit kom of ons gaan toelaat dat vrees ons gaan vashou.
“I’ve seen you move, you moved the mountains, and I believe, I’ll see you do it again. You made a way, where there was no way, and I believe I’ll see you do it again!” Hierdie liedjie het vir my baie betekenis begin kry omdat ek die berge gesien skuif het in my lewe.
Ja dit is menslik om soms te twyfel in situasies of selfs nie te verstaan hoekom sekere dinge gebeur nie. Maar dan is ons nie bedoel om als te verstaan nie. Ons is mense. God weet beter.
Die vraag is wil óns in beheer wees of gaan ons die sleutels oorgee aan die Skepper van die heelal?
Daar het soveel wonderwerke die laaste maande in ons lewe gebeur maar die grootste wonderwerk wat vir my gebeur het is dat God my gewys het hoe lief Hy ons het.
Die Bybel sê nêrens dat die lewe gaan maklik wees nie en ons sien dat al die dissipels dit moeilik gehad het. Maar hulle het hulle fokus op God gehou. Fokus op Jesus soos Petrus. Ek het geleer elke keer as ek angstig of met vrees oorval is, is dit omdat ek my oë van Jesus af gehaal. Dit beteken nie als is makliker nie, maar God bly in beheer.
Ons kleine Katrien is 1 Januarie 2020 gebore en sy is perfek geskape.
Maar hierdie het nie alles gebeur in isolasie nie. Een van ons goeie vriendinne is in Januarie 2018 gediagnoseer met kanker. Ons het die pad saam met haar en haar man gestap rakende bestraling en chemo-tydperke. Sy het menigte operasies moes deurgaan. Sy het ongelukkig verlede jaar die stryd verloor op 8 Mei 2019 en terwyl ons langs haar doodsbed gesit het was haar laaste woorde aan haar skoonma: “Ek is lief vir jou, maar ek is die liefste vir Jesus!” Una se getuienis is ook uitgesaai op Radio Tygerberg en ons het die geleentheid gehad om saam met haar op 10 April 2019 by Tafelberg op te gaan as een van haar wense wat moontlik gemaak is. Sy het my geïnspireer.
Deur elke terugslag was daar ’n small victory waaraan sy vasgehou het.
God voer elke dag wonderwerke uit. Ek noem dit small victories. Want elke wonderwerk is ’n oorwinning wat behaal is deur God want hy is genadig. God het nooit gesê die lewe gaan maklik wees nie, maar hy het wel gesê hy sal ons nooit verlaat nie. Small victories is elke dag se tekens dat God daar is vir ons. Dit is nie per toeval dat dit gebeur het nie. God het nie my verlaat nie en hy het ook nie vir Una verlaat nie. Hy is altyd by ons. Wonderwerke is nie altyd ’n brandende bos of ’n verlamde wat weer begin loop nie. Soms is dit om elke dag kos op die tafel te hê, maar om nie te weet hoe dit gebeur het nie.
Ek glo God wil hê iemand moet hierdie getuienis hoor. Soms praat hy met ons deur mense of getuienis.
God is Goed. Altyd
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.