Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

In die droogte sal ons steeds jubel en juig, sê twee boervroue uit ‘Jesus se swietsfabriek’

FOTO’S: LIZELLE LÖTTER

Ná tien jaar se droogte het twee boervroue van Merweville uitgespring en begin om nougat te maak. Só wou hulle hul onderskeie gesinne help, asook die breër gemeenskap. Twee en ’n half jaar later sê hulle, ná hope genade en etlike wonderwerke, dat hulle hoop gebring het.

Hulle praat van hul nougat-onderneming as “Jesus se swietsfabriek”.

“Die Here het voorsien. Dis manna in die droogte,” sê Marian Esterhuizen (48) oor hul onderneming, Karoo Blessings in Merweville.

“Ons wegspring met ons klein onderneming is op twee Bybelstekste gegrond: Jesaja 43:19 en Psalm 1. Hierin het ons gehoor dat die Here ons as doringbome in die droogte beskou. Dat Hy ons in swaarkry-tye steeds dieper veranker om sterker te kan staan. Om lafenis in die hitte te bring. Om ’n verskil te maak in ons gemeenskap. Om hoop te gee,” vertel Marian en Suzaan van Karoo Blessings. Foto: FOTO: LIZELLE LÖTTER

“Ons is net twee vet, vrolike vroue met ’n goeie skeutjie humor en wat baie lief is vir die Here, wat ook lief is om te gee. Dis mos die een ding wat die droogte by ons kom steel het: die lekkerte om te kan gee.”

Haar vriendin en vennoot, Suzaan Theron (48), voeg by: “My man André praat van ons twee as ystervroue wat enigiets wat ons aanpak voluit sal doen.”

‘Soms stuur die Here nie reën uit die lug nie’

Die swaarkry-droogtejare was érg. Marian vertel: “Die swaarste jaar was 2019. Dis die jaar toe ek gevoel het dit help nie om te bid nie, om na die wolke te kyk en aan te hou hoop dat dit môre gaan reën nie.

“Ons is net twee vet, vrolike vroue met ’n goeie skeutjie humor en wat baie lief is vir die Here, wat ook lief is om te gee,” vertel Marian (regs) en Suzaan van Karoo Blessings. Foto: Lizelle Lötter

“Ek het soos Elia onder die besembos gevoel – verlate en verlore. Tien jaar se droogte is ’n lang tyd om staande te bly as alles om jou uitmekaar val. Maar ter wille van ons vier kinders moet jy opstaan en vorentoe beur.”

Suzaan vertel dat sy en haar man en hul twee kinders ook maar net-net oorleef het. “My man het slegs ’n derde van sy skape oorgehad, en daar was ander boere wat nog slegter daaraan toe was. Ek was jare lank in ’n gat. Ek het geweier om in die kerk te sing ‘Al sal die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek jubel’.

“Eers in later jare het ek, onder trane, besef ek moet dit juis sing.

“Soos Marian dit so mooi stel: Soms stuur die Here nie reën uit die lug nie, maar op ’n ander manier: mense wat kospakkies kom aflaai, wat vragte en vragte klere hier aanbring. Iemand wat ’n geldjie inbetaal om diesel te koop.”

Toe kom die nougat-reën: Nadat Suzaan op ’n keer die heerlikste nougat geproe het, het die idee by haar posgevat om haar eie onderneming te begin. Sy en haar ou skoolvriendin Marian het geld by hul onderskeie eggenote geleen en die nougat-onderneming by Theresa de Vries van Brandvlei gekoop. Dié was ’n keer ’n Kokkedoor-finalis.

Karoo Blessings is vir Merweville se mense, vertel dié twee boervroue. Foto: Lizelle Lötter

Hierdie avontuur, nou Karoo Blessings genoem, word uit ’n waenhuis en woonstel agter Marian-hulle se dorpshuis in Merweville bedryf.

“Ons wegspring met ons klein onderneming is op twee Bybelstekste gegrond: Jesaja 43:19 en Psalm 1. Hierin het ons gehoor dat die Here ons as doringbome in die droogte beskou. Dat Hy ons in swaarkry-tye steeds dieper veranker om sterker te kan staan. Om lafenis in die hitte te bring. Om ’n verskil te maak in ons gemeenskap. Om hoop te gee.

“Die aanvanklike idee was om die mans te help met ’n bietjie dieselgeld en met die koöperasierekening. Daar is ook die kinders se skoolfonds.”

Toe begin die dinge gebéúr: Die regte mense is oor hul pad gestuur en hulle is met bydraes geseën. Marian vertel: “Binne drie maande, en met baie genade, kon ons die mans terugbetaal. En ons kon begin doen waarvoor Karoo Blessings eintlik bedoel is, naamlik om aan die gemeenskap terug te gee.”

‘Alles wonderwerke uit die Here se hand’

Hulle het wonderwerke aanskou. Marian vertel verder: “Die Here het die Bybelse boodskap vir ons oopgebreek; Ina Barkhuizen het haar dienste gratis aangebied; ons het gratis kastrolle uit Isle of Man ontvang; ons het ’n menger gekry, asook rake en rame vir die nougat wat ons gemaak het. Alles wonderwerke uit die Here se hand.

“Elke ding het presies op die regte tyd gekom. Voor ons geweet het wat ons kortkom, het die Here dit reeds gestuur. Mense, wat ons glad nie ken nie, is gestuur om ons te help en in ons behoeftes te voorsien. Soms was daar selfs ’n geldelike bydrae.”

Suzaan bevestig dit: “Toe ek op ’n keer net twee paar sokkies gehad het, en my seun se onderbroeke gedaan was, het die Here voorsien. Hier het ’n sak klere aangekom met vyf pare sokkies vir my, en vyf onderbroeke vir my seun. Dis toe dat ek besef dat God tot in die fynste besonderhede voorsien.”

Die droogte het hul geloof gelouter en dit uiteindelik gesuiwer. Al was dit soms moeilik om te bid. Soos Suzaan sê: “Ons is uit die braambos en die smeltoond, en ons staan nou sterker in ons geloof. Ongeag wat gebeur, ons sal jubel en juig want ons Vader is groot.”

Ander projekte

Tans is Suzaan en Marian se produkte by ’n hele klompie winkels en padstalle te koop. En daar is baie private bestellings – nie net uit Suid-Afrika nie; daar gaan ook pakkies Australië toe, en Engeland en Viëtnam en selfs Amerika toe.

“Ons is lief om te gee. Dis mos die een ding wat die droogte by ons kom steel het: die lekkerte om te kan gee,” vertel Marian Esterhuizen. Foto: Lizelle Lötter

Intussen het hulle ook Boere Blessings van stapel gestuur. Dis ’n teruggee-projek, met die oog op die gemeenskap. Elke Boere Blessing-boksie, wat sewe verskillende geure nougat bevat, word teen R240 verkoop, met R30 hiervan (“en soms ’n bietjie meer”) wat aan Merweville-boere gaan. Die geld word by een van die winkels inbetaal, of as kontant aan die boere geskenk.

Die ekstra nougat word deur die omgewing se vroue gebruik om koekies te bak. Daar is ook ’n projek ten bate van ’n kankerpasiëntjie, wat hulle Carla’s Kisses noem. Dié bestaan uit drie soorte fluffysorus (die binnekant van ’n “sweety-pie”) in ’n glasbotteltjie.

Met Karoo Blessings, en met die hulp van ander donateurs, kon hulle ook Kersgeskenkies vir ander kankerpasiënte koop.

‘Dis daar om hoop te bring’

Karoo Blessings het tot gevolg gehad dat dié twee ondernemende vroue nou soms die bakkie vol diesel kan tap, soms sakgeld vir die kinders kan gee en kan klere koop. Daar is dalk ook ’n ietsie vir die voerrekening, maar nie naastenby genoeg nie. Ook nie vir die studentekinders se studies nie. Soms gaan drie maande verby sonder ’n sent wins.

“My man (André) het slegs ’n derde van sy skape oorgehad, en daar was ander boere wat nog slegter daaraan toe was. Ek was jare lank in ’n gat. Ek het geweier om in die kerk te sing ‘Al sal die vyeboom nie bot nie … nogtans sal ek jubel,\'” vertel Suzaan.

Maar Suzaan sê: “Karoo Blessings is vir Merweville se mense. Dit gaan oor wat ons vir hulle en vir ander kan doen. Dis daar om hoop te bring, eerder as om ’n finansiële bydrae te maak.”

Haar man André stem saam: “Karoo Blessings gee ons vroue ’n doel in die lewe. Dit help ons gesin ook, al is dit net met vyf rand; dis geld wat ons nie gehad het nie. Nee, dis nie eintlik ’n onderneming wat moet geld inbring nie; dis eerder ’n bediening. Dit bring hoop.”

Wat hou die toekoms vir Karoo Blessings in?

Marian: “Ek wonder wat die Here volgende vir ons beplan. Ek staan in afwagting, ek staan op sy voete. Ek kan nie sink nie.”

Suzaan: “Ons is kinderlik opgewonde om bloot die Here te volg waarheen Hy ons ook al lei. Uit ons storm, die droogte, sal ek steeds jubel en juig.”

  • Deel jou getuienis met LiG in sowat 800 woorde en stuur dit na conette@tydskrifte.co.za (onthou om foto\’s ook by te voeg).
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF