Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

‘Gebruik wat in jou hand is’ – ’n klein droom van God, word ’n groot seën vir gemeenskap

Die 81-jarige Issie Kellerman soek telkens na ’n opdrag van die Here vir elke lewensfase. Sy sê: “Al is die droom wat die Here vir jou gegee het oënskynlik baie klein, is dit reg so. Want Jesus se ‘klein’ gedagtes word vinnig groot.”

 Kort voor haar 80ste verjaardag in 2025 het Issie Kellerman van Pearly Beach in die Overstrand gebid dat die Here sy plan vir haar lewe aan haar moet wys. Sy vertel: “Ek wou baie graag my tyd en talente tot sy eer uitleef, hoofsaaklik uit dankbaarheid vir alles wat Hy vir my doen. Daarom het ek lank gebid vir goddelike wysheid en vir sy aanwysings. 

“Toe praat Hy met my in ’n droom, en Hy sê: ‘Gebruik wat in jou hand is; gebruik dit in ruil vir wat Ek jou gaan gee.’ Op dié manier het ek die duidelike opdrag gekry om met tombola te begin. Dié geskenkpakkies moes net R20 kos, en ek moes 1 000 daarvan maak.”

Geborg

Al die vrae, en die entoesiasme 

Hierdie boodskap het haar oorweldig, en sy het gevra: “Ek wil doen wat U vir my sê om te doen, Here, maar wat moet in die pakkies wees? En waar moet dit vandaan kom? Hoe moet dit verpak word? Waar moet dit verkoop word? Moet ek dit per koerier versprei? En waar gaan die geld vir dit alles vandaan kom?”

Daarop het Issie haar opdrag en haar vrae en onsekerhede na haar Bybelstudiegroep geneem. “Die vroue was dadelik entoesiasties – en toe het ons begin planne maak. Dit was belangrik om prakties te wees. Maar meer nog: dat God wat die opdrag gegee het, tevrede moes wees met elke aspek van die projek.”

‘Asof Jesus self daar uitklim’

Ná baie wik en weeg het Issie en haar Bybelstudievriende ’n werkbare plan bedink: Die pakkies moes vir mans en vroue wees, vir seuns en dogters. En daar moes ’n duidelike onderskeid tussen die verskillende groepe se pakkies wees.

LEES OOK: God het ons deur die ondenkbare gedra’ – vrou se gyselaar-nagmerrie terwyl haar seuntjie teen kanker veg

As die pakkies vir R20 verkoop moes word, soos Issie dit duidelik uit die droom verstaan het, moes die uitgawes minimaal wees. In elke pakkie moes dan iets nuttigs kom, asook ietsie soets en iets prettigs. En elke pakkie moet ’n teksvers of geestelike boodskap bevat.

Geborg

“Ons het vir mekaar gesê dat elke item mooi verpak moet word, want as so ’n pakkie oopgemaak word, moet dit vir die ontvanger voel asof Jesus self daar uitklim.”

Toe het hulle begin woeker: ’n Hartjie uit lap sou na God se liefde verwys; ’n kersie sou die ontvanger aanmoedig om sy/haar lig te laat skyn; saadjies sou hulle help onthou om die saad van sy Woord te versprei; en sneesdoekies sou hulle daaraan herinner dat Hy elke traan afvee.

Gou-gou het Pearly Beach se mense begin aandra: wol, lap, linte, sleutelringe, waslappe, gladde klippies. En allerlei oorbodighede wat vergete in kaste en laaie gelê het. Vlytige vingers het die wol en materiaal in hartjies, vissies, beursies, voëltjies of sleutelringe omskep. ’n Klompie kontantbydraes het vir die kardoessakkies help betaal.  

Deurentyd het die vroue koppe bymekaargesit om die seuns- en dogtersakkies interessant te hou, en gewonder wat vir mans sou werk. Dalk sakkies braaisout en ’n braailappie?

“Binne twee maande het ons ’n groot klomp pakkies voltooi,” vertel Issie, “maar ons het nooit moeg geword nie. Ek het baie nagte gesit en saadjies in piepklein toeritssakkies pak, en nooit uitgebrand gevoel nie. Dit was wonderlik om te beleef hoe die Here ons elke dag met nuwe idees, moed en energie geseën het.

“Hoe besiger ons geword het, hoe meer het ons God se grootheid ervaar, en gevoel hoe Hy ons versterk. Ons het ook vinnig geleer dat dit nie ’n ‘ek’ of ‘ons’-projek is nie, maar dat dit deur ’n geloofsgemeenskap gedeel word.”

Die eerste verkope

Tydens haar verjaardag verlede winter, het Issie die geskenksakkie-konsep op haar familie uitgetoets.

Geborg

Toe hulle daarvan hou, het almal begin soek na plekke waar dié verrassingsakkies verkoop kon word. Uiteindelik kon die vroue verlede winter hul eerste verkope by die Winterkersmark in die naburige Gansbaai loods.

“Ons was erg onseker oor hoe ons sou vaar,” bely Issie, “veral toe die verkope aanvanklik traag verloop het. Maar toe die sakkies bo verwagting gou uitverkoop is, het ons blydskap geen perke geken nie. Ons kon ons wins oorbetaal aan ’n maatskappy wat oudio-Bybels vervaardig.”

Onbeperkte seëninge

Die vroue het opnuut begin woeker, want Desembermaande bring baie besoekers na hul kusdorpie. Én daar is ’n Kersmark.

Al werkende het talle van die ouer dames beleef hoe hul fokus verskuif het. Issie vertel: “Terwyl ons hande met die pakkies besig gebly het, het ons ál minder oor ons bekommernisse en vrese getob – dié oor ons gesondheid, ons kinders, ons verhoudings. Die gesprekke en planmakery het ons gedagtes gevul, en ons werkery het dikwels ook as aanknopingspunt gedien wanneer ons nuwe intrekkers in ons dorpie verwelkom het.”

Toe die pakkies ook by die Kersmark suksesvol verkoop, kon hulle die opbrengs aanwend om nood in hul omgewing te help verlig. Hulle het toe ook agtergekom hoe God se aanvanklike belofte bewaarheid is: “Ons het geneem wat in ons hande was, ons het daarmee begin woeker – en kyk net wat het Hy vir ons gedoen! Hy gaan nooit terug op sy beloftes nie, Hy bly getrou.

“Hy het my al sóveel kere deurgedra, en hier is nou ’n projek gevestig wat steeds aktief bedryf word.”

Duisend pakkies later

Dis vir Issie belangrik dat die pakkies nie net geld inbring nie, maar ook God se boodskap uitdra. Vroeër vanjaar het sy teruggestaan, en hieroor sê sy: “Ek help steeds, maar daar is nou ander, baie bekwame vroue wat die projek verder neem. Die Here hét mos gesê ek moes vir 1 000 pakkies sorg …

Geborg

“Op 81 besef ek ’n mens hoef nie net hard te werk om aan Hom eer te bewys nie. Maar intussen brei en hekel ek steeds.

“Wanneer ek op my lewe terugkyk, sien ek hoe die Here my gedra het en hoe sy Woord keer op keer vir my die regte koers aangewys het. Ek het vanjaar soveel vrede in my hart, dit maak my byna bang. Want sê nou net ek word lui as ek te veel vrede het?”

Sy lag, en vertel hoe sy haar in ’n studie oor bye verdiep het. “Ons kan so baie by bye leer. Ons lewe is dikwels net so kort soos hierdie wesentjies s’n, wat dikwels net vyf tot sewe weke lank lewe. Ons kan besige bytjies bly tot sy eer, al is ons agt of 88 jaar oud.”

Dan sluit sy af en sê met ’n vonkel in die oog: “Bee blessed!”

* Sommige vroue het ongemaklik gevoel oor die woord “tombola”, maar Issie het volgehou dat dit was hoe sy die opdrag van die Here gekry het.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►