Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Desiré Gardner: ‘My lewe is een lang antwoord op gebed’

‘Wanneer ek bid, herinner ek myself telkens daaraan dat ek met ’n God van wonderwerke praat. En dat ek bevoorreg was om ’n wonderwerk uit sy hand te beleef en ’n tweede kans op lewe te kry. Ek probeer elke dag om voluit te leef, met die deurlopende wete dat elke asemteug ’n gawe van Bo is.’

TV-kykers ken die aktrise Desiré Gardner as die nimlike “Magda Louw” in die gelyknamige TV-reeks en verhoogstuk. Talle onthou haar ook as “Dalene Oosthuizen” in die sepie Binnelanders, en as “Carmen” in Suidooster.

Maar min mense besef dat hierdie talentvolle aktrise by die dood omgedraai het toe sy maar 13 jaar oud was. Sy het ’n beroerte gehad en is daarna met ’n gewas op die brein gediagnoseer.

Desiré praat openhartig oor daardie nagmerrie-ondervinding: “Nadat ek in ’n koma verval het, het my pa en die leraar van ons gemeente by my hospitaalbed gebid.

“Die daaropvolgende skanderings het gewys dat die gewas heeltemal verdwyn het. Hoewel die dokters aanvanklik gesê het dat ek nooit weer normaal sou funksioneer nie – dis nou indien ek die beroerte sou oorleef – het ek wonderbaarlik herstel.

“Ek moes net weer leer hoe om te loop en te praat. En die een kant van my gesig was tydelik verlam.”

‘’n Antwoord op gebed’

Reeds toe sy ’n tiener was, het Desiré ’n intieme verhouding met die Here gehad, en daardie groot wonderwerk het haar geloof versterk.

LEES OOK: Dozi vind innerlike vrede: ‘Ek is nie meer Dozi nie – ek is nou Hendrik Christoffel Opperman’

“Ek het besef dat ek altyd volkome op die Here moet vertrou, en dat daar geen twyfel in my hart moet wees dat Hy in beheer van ons lewe is nie. Dat ons altyd van Hom afhanklik is.

“Ek het ook ervaar dat ’n mens se lewe in ’n oogwink kan verander.”

Vandag is sy 40, en sy kan terug kyk op ’n geesvervulde lewe. Sy getuig ook hoe die Here haar oor die lewe se heuwels en deur die driwwe gelei het.

In dié tyd het sy naam gemaak as aktrise en skrywer. Sy sê: “My werk is volkome verweef in my geloof. As jy ’n vryskut-akteur is, moet jy vasklou aan jou geloof. Elke geleentheid wat ek kry, is ’n antwoord op gebed, en elke mens wat my ’n kans gee, is ’n antwoord op gebed.”

‘Om te kan lag’

Pa Mike en ma Desiré, met wie sy ’n hegte verhouding het, het haar van kleins af geleer dat geloof en ’n humorsin die twee vernaamste boustene in ’n mens se lewe is.

“Hulle was reg. My geloof en my humorsin het my al deur diep waters gedra. Ja, ek glo vas dat daar ’n Hoër Hand is, en ’n groter prentjie, en ’n rede vir alles wat met jou gebeur. Want daar is ’n Vader in die hemel wat ons liefhet en wat na ons omsien.

“Daarom kan ons die lekker tye geniet en moet ons uit die moeilike tye leer.

“Ook leer om te lag, al is dit soms bloot ’n manier om onsself te beskerm.”

‘Hoe moet ek maak, Here?’

Desiré en haar man Chris is in 2019 geskei, en sy moes daarna talle uitdagings te bowe kom en groot aanpassings maak.

Sy is ’n enkelma vir twee pragtige kinders, James (14) en Robin (10). “Ek het baie lesse as enkelma geleer,” sê sy, “en een van die lesse is dat ek nog baie meer gaan leer.

“My verhouding met James en Robin was nog altyd stewig. Maar soos baie ander ma’s ken ek nie altyd die regte antwoord en het nie die beste oplossing nie. Daarom gaan vra ek dikwels vir die Here wat die regte ding is om te doen. Ek is immers vir die eerste keer ’n ma …

“James is nou ’n tiener, en ek lees baie oor al die liggaamlike en emosionele veranderings wat ’n tiener op hierdie puberteit-reis moet deurmaak.

“Ek leer my kinders dat hulle die vrymoedigheid moet hệ om met enige probleem na my toe te kom. En hoe belangrik dit is om altyd eerlik te wees, en om respek vir ander te hê.

“Ek berus my ook daarby dat ek nie altyd die regte antwoorde op alles sal hê nie.”

‘My liewe ouers’

Balans in ’n huishouding was nog altyd vir Desiré belangrik. Asook ’n roetine wat na gelang van omstandighede aangepas kan word. “My ouers bied vir my ’n goeie ondersteuningstelsel. Veral ook wanneer ek soms ’n lang ruk weg van die huis moet wees met my verhoogstuk Magda Louw, of met ander verpligtinge. My ouers is my kinders se veilige hawe.”

Sy sê sy is geseën met ’n goeie verhouding met haar ouers, en bevoorreg dat sy so baie tyd saam met hulle kan deurbring. “My ouers was nog altyd oop en eerlik met ons. O, en hulle het ’n wonderlike humorsin!”

Die karakter Magda Louw, wat Desiré destyds geskep het toe sy op hoërskool na materiaal vir ’n toneelstuk gesoek het, is juis op haar ma en dié se sêgoed gegrond. “My ma is snaaks, dikwels sonder dat sy dit besef.”  

‘Ons kyk wat die toekoms inhou …’

Om alleen te wees was van jongs af een van Desiré se ergste vrese. “Ek het dié kwessie juis in een van Magda Louw se episodes gebruik. Ná my egskeiding het die alleenheid my sleg gevang.

“Ek het gesmag na geselskap, ook op ’n romantiese vlak. Ag, net daardie mens om te bel of te kontak as jy van een plek na ’n volgende op reis is …

“Maar ek het besef ek moet leer om sonder die dinge te leef waarsonder ek nie voorheen kon leef nie.”

]Desiré was nog altyd baie gesteld op haar privaatheid, veral wat verhoudings betref. “Wanneer ’n mens deur sulke diep waters gegaan het, is dit moeilik om enigiets oor ’n nuwe verhouding in die openbaar te sê. Trouens, jy wil dit beskerm en koester deur stil te bly omdat jy weet hoe broos dit kan wees.

“Ná my egskeiding het van die gehoorlede by ’n Magda Louw-vertoning na my toe gekom en prontuit gesê hulle wens dat ek ’n wonderlike man sal kry.

“Dan het ek gewoonlik só geantwoord: ‘Wag net, ek is nog eers besig om my eensaamheid te aanvaar. Vra en bid vir later!”

Sy verklap dat daar wel die afgelope jaar en ’n half iemand  spesiaals in haar lewe is. “Hy was saam met my op skool, maar ons het mekaar toe nie eintlik geken nie. Daardie vroue wat na my toe gekom het se wense en gebede is verhoor. Want ’n beter man sal jy nie kry nie.

“Hy is baie goed vir my, en vir my geestesgesondheid. Hy weet presies hoe om my te hanteer en hy ondersteun my baie.

“Dis wel ’n langafstandverhouding, wat sake bemoeilik. In hierdie stadium kyk ons maar wat die toekoms vir ons inhou terwyl ons mekaar se geselskap geniet.”

‘Verras Jesus!’

Desiré sê sy floreer op nuwe uitdagings. “Skryf is vir my terapeuties en daar is sóveel stories wat ek nog wil vaspen.

“Ek is tans besig om ’n boek te skryf ‘uit die pen’ van die Magda Louw-karakter. Dis in die vorm van dagstukkies, oor hoe sy die lewe deur haar oë bekyk.

“Ek beoog ook om eendag ’n roman te skryf.

“Intussen is ek baie dankbaar vir al die werk wat na my kant toe kom, hetsy dit ’n rol in ’n fliek is, verhoogwerk of ’n sepie-rol.”

Desiré sê sy het die afgelope tien jaar soms gevoel sy oorleef net, sy leef nie regtig nie. “Maar nou wil ek elke oomblik méér beleef, en meer tyd saam met my geliefdes deurbring.”

Die beste raad wat sy die afgelope tyd gekry het, het van haar tienerseun James gekom. Sy vertel: “Ek was in ’n stadium erg gestres, en baie bekommerd oor my toekoms. Toe het James my herinner aan die Bybelverhaal van die vrou wat aan Jesus se kleed geraak het en toe genees is. Jesus het vir haar gesê haar geloof het haar gered.

“James het vir my gesê: ‘Verras Jesus met jou geloof!’

“Dit is hoe ek elke dag wil leef, én met die wete dat my lewe saam met Christus in God verborge is. Dié Paulus-woorde in Kolossense 3:3 anker my elke dag.”

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
Kyk nou ►