Volgens Arbeidsterapeut, Elrika Beukes van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Sensoriese Integrasie (SAISI), is kinders wat oorweldig voel in die klaskamer, sukkel om stil te sit, aandag wat maklik afgelei word of emosionele uitbarstings het, ‘n algemene verskynsel in haar praktyk. “Sommige kinders beweeg voortdurend, wikkel of soek fisiese insette, terwyl ander onttrek, dagdroom of afskakel,” verduidelik sy.
Die Ayres Sensory Integration is ‘n ‘n gespesialiseerde, spelgebaseerde arbeidsterapie wat individue help om sensoriese inligting te verwerk en te organiseer. Hierdie terapie dui aan dat bogenoemde gedrag dikwels gekoppel is aan hoe die brein sensoriese insette verwerk. “Dit beteken dat die kind se senuweestelsel dalk sukkel om inligting wat van die liggaam (soos beweging en posisie) en die omgewing (soos geraas, visuele insette en aanraking) afkomstig is, te organiseer,” verduidelik Elrika.
Sy voeg by dat uitdagings met sensoriese integrasie dikwels ‘n kombinasie van moderne leefstylfaktore is. “Oormatige skermtyd wat die brein kan oorstimuleer, beperkte geleenthede vir fisiese spel en beweging. Ook as die kind nie genoeg ongestruktureerde tyd het nie, insluitend tyd om verveeld te wees, wat belangrik is vir ontwikkeling. Besige en raserige omgewings, ’n dieet hoog in suiker en verwerkte voedsel is faktore wat ‘n rol speel. ‘n Senuweestelsel wat oorlaai word omdat dit nie sensoriese insette effektief kan filter nie, speel ook ‘n rol. Dit alles kan redes wees waarom kinders oorweldig voel.
Beweging, spel en breinontwikkeling
Terwyl daar selde ‘n enkele oorsaak is waarom ‘n kind sukkel met sensoriese integrasie, sê Elrika: “Een van die belangrikste bydraende faktore is dat kinders se daaglikse roetine nie meer die ontwikkeling van hul sensoriese stelsels ondersteun nie.”
Volgens Ayres is beweging en aktiewe betrokkenheid by die omgewing noodsaaklik vir gesonde breinontwikkeling. Elrika voeg by dat vandag se kinders dikwels meer tyd spandeer op skerms as wat hulle spandeer om te klim, hardloop, verken en speel. “Hierdie bewegingservarings is noodsaaklik vir die ontwikkeling van die vestibulêre stelsel (wat balans en beweging ondersteun) en die proprioseptiewe stelsel (wat ‘n kind help verstaan waar hul liggaam in die ruimte is). Met te min van hierdie insette sukkel die brein om ‘n sterk fondament vir regulering, aandag en leer te bou.”
Wat is sensoriese gesondheid werklik?
Sensoriese integrasie verwys na hoe effektief die brein en liggaam saamwerk om sensoriese insette te ontvang, te organiseer en daarop te reageer. “Dit sluit in wat ons sien, hoor en aanraak,” sê Elrika, “sowel as inligting van die liggaam oor beweging, posisie en interne sensasies.” Sy verduidelik verder dat wanneer sensoriese gesondheid goed ontwikkel is, ‘n kind kalm, georganiseerd en gereed sal voel om te leer. Aan die ander kant, wanneer dit onderontwikkeld is, kan die kind oorweldig, rusteloos, angstig of afgesonder voel, dikwels nie in staat om te verduidelik hoekom nie.
Gedrag as kommunikasie
Sensoriese uitdagings word dikwels agter gedrag weggesteek – ‘n reaksie op hoe goed die senuweestelsel funksioneer, volgens die Ayres Sensory Integration. “’n Kind wat oorsensitief is en oorreageer op sensoriese insette kan angstig, prikkelbaar of selfs aggressief raak,” sê Elrika. “’n Kind wat glad nie reageer nie, omdat nie genoeg insette geregistreer word nie, kan moeg of onbetrokke voorkom.” Sy sê in beide gevalle werk die brein hard om dinge te hanteer en te reguleer, en het dan minder kapasiteit om te kan fokus, leer en emosionele beheer toe te pas. “Wat dalk soos wangedrag lyk, is dikwels ’n kind wat probeer om te bestuur hoe hulle voel.”
Onderrig van selfregulering en -bewustheid
Gelukkig kan die vermoë om interne liggaamseine raak te sien, aangeleer word. Kinders kan dus leer om hulleself te reguleer met behulp van konsekwente ondersteuning, visuele hulpmiddels en eenvoudige taal. “Met die regte ondersteuning kan kinders begin herken wanneer hulle oorweldig raak en leer hoe om hulp te vra of strategieë te gebruik om te reguleer,” sê Elrika.
“Dit is belangrik, aangesien gedrag dikwels ‘n vorm van kommunikasie is,” voeg sy by. “Kinders kies nie om te sukkel nie, hulle reageer op wat hul senuweestelsels op daardie oomblik kan hanteer. Wanneer ouers en onderwysers sensoriese integrasie verstaan, is hulle beter toegerus om met ondersteuning te reageer eerder as met streng dissiplinering. Dit skep ’n omgewings waar kinders voel dat hulle verstaan word, hulle kan leer, en sodoende hulle gedrag en emosionele welstand verbeter.”
Sensoriese uitdagings na die Covid-pandemie
Volgens Elrika sien hulle beslis post-pandemie-leergapings wat met sensoriese gesondheid verband hou. “Baie kinders toon nou verminderde bewustheid, swakker koördinasie, laer frustrasietoleransie, verhoogde angs en probleme om aandag te behou. Dit is waarskynlik gekoppel aan verminderde beweging, beperkte sosiale interaksie en verhoogde skermtyd gedurende belangrike ontwikkelingsjare. Om dit aan te spreek, benodig kinders meer geleenthede vir beweging, spel en praktiese ervarings wat sensoriese ontwikkeling ondersteun. As hierdie uitdagings nie aangespreek word nie, kan kinders steeds sukkel met angs, gedrag, akademiese prestasie en selfbeeld. Met verloop van tyd kan hulle hulself as problematies of onbekwaam begin beskou, terwyl hul senuweestelsels in werklikheid bloot die regte ondersteuning nodig gehad het.”
Sensoriese gesondheid is nie net vir kinders nie
Kinders is egter nie die enigstes wat sukkel met sensoriese gesondheid nie. “Volwassenes het ook sensoriese voorkeure en sensitiwiteite,” sê Elrika. “’n Onderwyser wat sensitief is vir geraas, kan oorweldig voel in ’n besige klaskamer, terwyl ’n ouer wat kalm omgewings verkies, kan sukkel met ’n kind wat baie beweging nodig het. Sonder bewustheid kan dit lei tot misverstande en onrealistiese verwagtinge, wat die kind se selfvertroue en die verhouding mettertyd kan beïnvloed.”
Vir hulp en praktiese raak, besoek SAISI se webwerf.




















