“Gee dit aan, gee dit aan. Hoe meer ons deel, hoe meer’s daar dan. Nog een kind wat drome droom, nog een huis waar Lig dan woon.”
So sing sanger Deon Meiring in “Gee dit aan”, ’n splinternuwe liedjie wat sopas bekendgestel is. Dit gaan oor die vreugde daarvan om geloof van geslag tot geslag aan te gee.
Deon het dié liedjie saam met dr Nico Simpson, hoof- uitvoerende beampte van Bybel-Media (LiG se uitgewer) geskryf. Die doel was om hierdie belangrike konsep oor kinders se geloof, vas te vang.
“Ons geloof is altyd een geslag weg daarvan om uit te sterf. Navorsing dui aan dat ’n kind wat vroeg en gereeld saam met iemand wat hulle liefhet Bybelstories hoor – én daaroor praat – die heel beste kans het om eendag gelowig te wees,” verduidelik Nico. Bybel-Media versprei en verkoop onder andere Bybelstories en Kinderbybels.
LEES OOK: ‘Jou lig skyn helder, Deon’: Mense se omgee dra sanger ná ongeluk
“Die aangee van geloof is Jesus se manier om geloof al vir 2 000 jaar te laat leef. Hierdie lied is dus deel van daardie tradisie van aangee,” sê Nico, wat ook jarelange ondervinding as gemeentepredikant het.
Daar is nie akteurs vir die musiekvideo ingeroep nie. Deon Meiring, die personeel van Bybel-Media en hulle kinders het saamgespan. Daar is partytjie gehou rondom ’n lang tafel en dié vrolikheid is op kamera vasgevang.
Deon Meiring sê: “Dit was vir my baie opwindend om hieraan te werk. Ek is eintlik gewoond om alleen te skep en te skryf en dan eers in die ateljee of video saam met ander te werk.
“Uiteindelik was dit ook lekker om saam met my ou vriend Jattie de Beer in die ateljee vir die opname te wees. Ek het ook die hele BM-span se energie tydens die video se verfilming geniet.”
























