Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Wat ’n hoërskoolreünie my geleer het

Ek was die afgelope naweek by my hoërskoolreünie. Ek woon nou al 15 jaar nie meer naby my tuisdorp nie, en dit was ’n insiggewende ervaring om ná so ’n lang tyd terug te keer na ’n plek wat eens die middelpunt van my wêreld was.

Ek dink dis hiérdie gewaarwordinge wat vir baie mense soos ek vol betekenis is: Ek het nog eens besef dat dit in jou hoërskooljare jou taak is om te probeer ontdek wie jy is. Dat jou identiteit sentraal staan in jou ontwikkeling. Dat jy hier op ’n manier begin om jou identiteit los te maak van dié van jou ouers en susters en broers. Dat jy jou belangstellings, talente en drome ontdek en najaag. Dat jy probeer om jou plek te vind en te besluit watter soort mens jy wil wees.

Dinge verander …

Maar in hul middeljare, daar waar baie lesers hulle nou bevind, wag daar ’n ander, nuwe taak. Die identiteit waaraan so hard gewerk is, begin plek maak vir iets diepers.

LEES OOK: Ná haar man se dood en vier vernietigende vloede getuig boervrou: ‘God stuur engele om te help’

Jy was dalk besonder aantreklik op skool, ’n ster op die sportveld, een van die slimmes in die klas, dalk selfs die gewildste in jou vriendekring. Met verloop van tyd het jy egter geleer dat hierdie dinge nie werklik is wie jy is nie. Dit was wel eienskappe en rolle en prestasies wat deel van jou storie is, maar mettertyd het dit minder belangrik geword.

Nee, jy hoef dit nie prys te gee of selfs te maak of dit nooit belangrik was nie, maar jy hoef ook nie meer jou waarde daarin te soek nie.

Ek dink wanneer ons hierdie verandering aanvaar en steeds gelukkig is, ons werklik groei.

Destyds, en nou

Nie almal beleef of onthou hul skooljare op dieselfde manier nie. Vir sommige by ons reünie was dit sekerlik ’n viering; vir ander het dit dalk herinneringe na vore geroep wat hulle liewer diep sou wou wegbêre. Sommiges hou dalk steeds vas aan die mens wat hulle eens was; ander wil alles laat los wat daarmee verband hou.

Maar is enige van hierdie uiterstes die regte keuse? Miskien is dit wys om die verlede te erken vir wat dit was — die mooi én die moeilike daarvan — sonder om toe te laat dat dit steeds bepaal wie jy vandag is. Dan vra dit van jou om te erken dat jy nie meer die destydse agtienjarige is nie, maar dat jy ook nie jou jonger self hoef te verwerp nie. Jy kan dus met deernis terugkyk na die mens wat jy eens was, die een met al die onsekerhede en foute, en die ambisie.

Die destydse jy was belangrik. Dit het ’n doel gehad. Dit was soos ’n padteken of ’n roetemerker wat jou in ’n bepaalde rigting gelei en selfs gestuur het. Dit het jou gehelp om ’n loopbaan te kies, om goeie verhoudings aan te knoop en te bou, om plekke te vind waar jy kon wortelskiet.

Maar dalk is dit juis nou, in hierdie huidige lewensfase, dat ons begin besef dat ons ware identiteit nie lê in ons indertydse menswees nie, maar in God.

Paulus se woorde kom by my op: “En nou leef ek nie meer nie, maar Christus leef in my” (Gal 2:20). Ek hoor hoe hy ons daaraan herinner dat daar ’n tyd aanbreek wanneer ons pogings om onsself te definieer moet plek maak vir iets diepers: vir die ontdekking dat ons waarde nie lê in wat ons doen of hoe ons lyk of wat ons bereik het nie, maar in die heerlike wete dat ons die geliefde kinders van God is.

Ek kan terugkyk …

Ek stap met ’n seuntjie aan elke hand deur die gange van my ou skool. Terwyl ek hulle my klasse wys, my sluitkas en die registerklas waar ek vyf jaar lank gesit het, kom daar baie herinneringe.

Ons kyk na die foto’s en name teen die mure. Ek sien die spoke van my verlede in die gange, en ek besef watter oneindige voorreg dit is om nou vrede te hê met waar ek is en wie ek is en waarheen ek op pad is.

Ek kan terugkyk en myself vergewe vir die foute wat ek toe gemaak het, omdat ek weet dat ek God se geliefde kind is, ten spyte daarvan. Ek besef dat ek beskerm is op die pad wat ek gestap het en word opnuut bewus van al die seëninge wat ek ontvang het.

Ek onthou wie ek was, ja, maar ek besef ook dis goed om te kon afskeid neem van daardie mens.

En ek dink: As ek dit alles weer moet besluit en kies en doen, dat ek niks sal verander nie. Dat elke weergawe van myself, selfs dié waarmee ek vandag nie meer identifiseer nie, deel vorm van die verhaal wat my tot hier gebring het.

Ek kan met dankbaarheid terugkyk op die pad wat ek gestap het, welwetend dat ek deur elke seisoen van my lewe deur dieselfde genade gedra is.

Simone Gauche is ’n mamma met twee seuntjies, sy is ’n huweliksmaat en ’n mediese dokter wat in Mosselbaai-hospitaal werk.

Geborg
Geborg
Geborg

Getuig saam met LiG

Geloof, hoop, getuienis – Ondersteun LiG vandag en word deel van die getuienis…

Vertel my meer

Skep getuienisse saam

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.

Kyk nou ►