Sy het geglo die diagnose sou haar lewe vir altyd definieer. Ná ‘n oordosis, jare se swaarkry en ‘n pad van depressie en bipolêre versteuring, vertel Binnelanders-aktrise Melinda Viljoen hoe God haar hoop – en uiteindelik haar identiteit – teruggegee het.
“Ek het gedink dis verby; ek sal nooit weer normaal funksioneer nie. En ek sal vir die res van my lewe medikasie moet gebruik. Ek sal nooit my drome kan uitleef nie …”
Dit was aktrise Melinda Viljoen, bekend vir haar rol as Tracy in die kykNET-sepie Binnelanders se eerste gewaarwording toe sy as jong dramastudent in ’n psigiatriese hospitaal beland. Sy is toe sopas met bipolêre versteuring en depressie gediagnoseer.
“Ek het gevoel al my hoop en al my drome is verpletter. Ek het gedink: Nou is daar hierdie verskriklike etiket om my nek. Ek sal nooit normaal wees nie.”
‘Ek het op al die verkeerde plekke gesoek’
Melinda kom nie uit ’n gebroke huis nie; haar ouers is gelukkig getroud. En sy beskryf haar grootwordjare as “liefdevol” en “veilig”.

Hier is sy by haar man Francois en twee dogtertjies, Liebe (links) en Heidi (regs), wat haar trots is. Foto verskaf
Juis daarom het sy jare lank gewonder waarom haar lewe ontspoor het. “Ek het altyd gedink depressie is die lot van mense wat trauma beleef het. Ek het aanhoudend gewonder: Waar kom dit vandaan?”
Wanneer sy nou op alles terugkyk, sien sy dit anders. “Dis nooit net een ding nie. Dis ’n klomp klein dingetjies wat in jou opbou. Dis soos groen liggies wat jy ignoreer. Dan sien jy later nie meer die oranje ligte nie, en uiteindelik ignoreer jy ook die rooi ligte. En voor jy jou kom kry, is jy kniediep in ’n lewe wat jy nooit gedink het moontlik is nie.”
Soos baie jong meisies het sy desperaat na aanvaarding gesoek. Sy vertel: “Ek het aandag, liefde en aanvaarding op al die verkeerde plekke gaan soek. Ek wou ten alle koste inpas. Ek wou hê mense moet van my hou.”
Sy het begin glo dat haar waarde afhang van hoe sy lyk, en of ander haar aanvaar en of sy gewild genoeg is. “Ek het, sonder dat ek dit besef het, myself begin verloor.”
Daardie leë gevoel het haar stadig maar seker na verkeerde keuses gelei. “Dis ’n wonder ek het dit oorleef …”
Nadat sy Bloemfontein toe verhuis het om drama te gaan studeer, het sy gedink haar lewe begin nou – maar binne maande het dit begin verbrokkel.
Onseker, ongelukkig en met die gevoel dat sy nie goed genoeg is nie, het Melinda ’n oordosis pille gesluk. Gelukkig het haar kamermaat haar betyds gevind. Sy is in ’n hospitaal opgeneem en toe na ’n psigiatriese hospitaal oorgeplaas.
Die diagnose het gevolg, en dertien verskillende soorte medikasie.
“Ek was soos ’n zombie,” vertel sy. “Soms, nadat ek my medikasie gebruik het, kon ek nie loop nie. Ek dink ek het in ’n stadium slegs 42 kilogram geweeg. Ek het nie geëet nie en ek het nie geslaap nie. Ek begryp nie hoe ek dit oorleef het nie.”
Haar stem word sagter wanneer sy oor daardie tyd praat. “Ek het in situasies beland waar ek seergekry het, waar ek myself nie kon beskerm nie. As ek vandag daarop terugkyk, besef ek hoe groot God se genade is, en hoe Hy my beskerm het.”
‘Jou familie kry net so swaar’
Melinda sê sy het jare lank gedink sy is die enigste een wat swaarkry. Maar toe vertel haar jonger sussie Anika haar iets wat haar diep geraak het. “Sy het vir my gesê: ‘Weet jy hoe moeilik dit vir ons was? Ons was altyd bang om iets te sê, want ons was bang ons verloor jou.’”
Daardie gesprek het haar laat besef dat depressie nooit net die mens raak wat daaraan ly nie. Dit raak almal wat met die depressielyer moet saamleef – ouers, broers, susters en vriende. Mense wat magteloos voel, wat nie aldag weet hoe om te help nie.
‘God roep my nader’
Melinda sê die grootste verandering in haar lewe was nie toe haar omstandighede verander het nie, maar toe haar beeld van God verander het.
Toe sy ’n jong meisie was, het sy altyd gevoel dat God ver is. “Ek het Hom beskou as hierdie groot, heilige God daar bo in die hemel. Ek het nie gedink Hy stel in my belang nie, in my vrese, my behoeftes, my onsekerheid.”
Toe sy later alleen gewoon het, het iets begin verander. “Dit was asof God my begin nader roep het. Ek het meer en meer aan Hom begin dink, en ek het elke oggend aanbiddingsmusiek geluister. Soms kon ek nie saam sing nie, maar ek het daar gesit en die woorde oor my laat spoel.”
Sy sê sy het nie meer hoofstukke in die Bybel gemerk nie. In plaas daarvan het sy een vers gekies, een waarheid, een belofte. “Ek het een Skrifgedeelte geneem en dit oopgebreek. Ek het verskillende vertalings daarvan gelees en preke daaroor geluister, totdat dit ’n deel van my geword het. Ek het besef dis nie hoeveel jy lees nie, maar hoeveel jy toelaat om jou te verander.”
Geen kitsgenesing
“Hoe minder ek probeer het, hoe meer het Hy gedoen.” Melinda beskryf haar herstel as honderde klein treë van gehoorsaamheid. “Ek moes geduldig wees, iets waarmee ek soms gesukkel het. Ons leef ’n ‘kitsbestaan’, en ek moes leer om volgens God se tyd te begin leef, een dag op ’n slag.”
Sy het begin oefen, beter geëet en haar dwanggedagtes begin bevraagteken. “Ek het besef ’n mens hoef nie elke gedagte wat in jou kop kom te glo nie. Ek het my jare lank depressief ‘gepraat’. Jou gedagtes word jou woorde, en jou woorde word uiteindelik jou lewe.”
Daar was wel ook terugslae in haar herstelproses. Sy het verskeie kere probeer om haar medikasie te los, maar elke keer het dit misluk. “Ek het gedink die pogings om af te skaal sal nooit werk nie.
“Maar hiérdie keer was dit anders. Ek het gevoel God vra dit van my, en wanneer Hy jou roep, gee Hy jou ook die genade en krag vir die pad.”
Sy het toe wel die medikasie begin afskaal, maar met professionele toesig.
Toe sy in 2023 swanger raak met haar eerste dogtertjie, het sy steeds twee tablette gebruik. Maar op haar dertigste verjaardag het sy die laaste twee gedrink.
“Ek het nooit weer teruggekyk nie. Ek het nog nooit so goed geslaap nie en nog nooit so stabiel gevoel nie.”
God het meer as net haar gesondheid herstel
Vandag is Melinda se lewe vol goeie dinge wat sy eens geglo het sy nooit sou hê nie. Sy getuig graag oor God se goedheid: “Ek het gedink ek verloor my droom om ’n aktrise te wees. Maar vandag besef ek God het nie my droom weggeneem nie; Hy het eers my identiteit herstel. Nou kan ek my werk doen sonder dat dit bepaal wie ek is.”
Sy glimlag wanneer sy oor haar gesin praat. “Ek is gelukkig getroud met my man Francois, en ons het twee pragtige dogtertjies. Ek beleef steeds moeilike dae. En ek sukkel nog, soos enige mamma. Maar nou weet ek waarheen om te gaan.
“Wanneer ek teruggaan na sy Woord en sy beloftes, sien ek myself weer helder.”
Melinda tree ook gereeld as spreker op. Die jeug het ’n spesiale plek in haar hart. “Ek leef vandag ’n lewe waarvan ek nooit sou kon droom nie. Nie omdat my lewe perfek is nie, maar omdat ek uiteindelik weet wie ek is. My identiteit lê nie meer in ’n diagnose, in my verlede of in my mislukkings nie. Dit lê in Christus.
“Dít het alles verander. En om dit met jong mense te deel, is ’n voorreg wat ek vir niks anders sal verruil nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.






















