Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek het skielik besef ek was so arm soos ’n geestelike boemelaar,’ vertel Danie Botha

DEUR MARTJIE ROOS; FOTO’S ANNEMARIE WICHMANN

Daar het baie water in die see geloop sedert ’n jong Danie Botha in 1989 en sy groot treffer “Wenners!” tydens die TV-sangkompetisie Teletreffers met die louere weggestap het.

Op ’n rype 58 is Danie vandag ook wyser, en 32 jaar lank baie gelukkig getroud met- Daleen, ’n oudjoernalis. Hulle is die ouers van twee lieflike kinders, Danya (18) en David Daniël (14).

‘Die Here bly die middelpunt van alles wat ons doen,’ sê Bernice oor haar en wederhelf se lewensleuse

Danie het die afgelope drie dekades altesaam vier sekulêre albums, drie-en-twintig geestelike albums, sewe duet-CD’s en ses DVD’s vrygestel.

Sy lewe het egter eers ’n klompie kronkels en draaie gemaak voordat hy tot bekering gekom het. Hy sê self: “Ek was maar altyd op soek na ’n dieper betekenis van die lewe.”

Deurbraak en kruispad

Danie is in Pretoria gebore en het op ’n kleinhoewe op Rietvlei grootgeword, net buite Rustenburg. Sy sangtalent is reeds op hoërskool raakgesien en hy het hoofrolle in musiekblyspele soos The Sound of Music en The Student Prince vertolk.

Ná matriek het hy vir diensplig by die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) aangemeld. Hier het hy gereeld as lid en solis van die SAW se kerkkoor en konsertgroep, ook bekend as die Kana-ries, opgetree. “Ek het ná my diensplig ’n BA-graad in bedryf- en personeelsielkunde aan die destydse PU vir CHO verwerf. Maar musiek was steeds ’n groot passie, en ek het gereeld by kamerkonserte opgetree.”

In 1988 het Danie by Sanlam begin werk. Maar sy toekomsvisie het gou verander toe hy ’n jaar later die tweede plek in die TV-kompetisie Debuut met sy eie komposisie “Wie kan dit verstaan” ingepalm het. Hy het toe ’n platekontrak losgeslaan.

Nie lank daarna nie het hy twee musiekvideo’s, “Wie kan dit verstaan” en “Wenners!” vir Teletreffers ingeskryf. Hiermee het hy sowel die eerste as die derde plek verower. Toe was die bal behoorlik aan die rol.

Die navrae vir konsertoptredes het ingestroom. Danie het ’n orkes op die been gebring en voltyds begin sing. Sy debuutalbum “Wenners” het binne drie weke ná die vrystelling daarvan gouestatus verwerf. Sedertdien is meer as 75 000 eksemplare verkoop.

Maar toe het hy by ’n kruispad aangeland. Ná vier jaar op die kruin van sy mu-siekloopbaan, het daar ’n radikale wending in sy lewe gekom.

’n Vuur

Danie vertel: “Ek het op 26 November 1993 tot bekering gekom. In daardie stadium het ek van die Here geweet, maar ek het Hom nie werklik geken nie.”

Die aanloop tot dié ommeswaai was ’n burgermeestersgeselligheid in Pot-chefstroom. Hy moes daar optree, en die gasspreker by die geleentheid was die prediker en skrywer Gary Kieswetter.

“Gary het met ’n Bybel in sy hand na die verhoog gestap. Ek het eers gedink hy is ‘fariseërig’ en dat ’n Bybel onvanpas is vir ’n Saterdagoggend,” onthou Danie. Maar binne die eerste vyf minute van dié Woordbediening het die Heilige Gees hom oorrompel.

Gary het Kolossense 1:27 as ankervers gebruik. “Dit was die lewensbrood vir my hongersnood,” vertel Danie. Hy het eensklaps besef hy is so arm soos ’n geestelike boemelaar.

Ná daardie lewensveranderende dag het hy ernstig begin bid. “Ek weet nie presies wat daardie Engelsman gehad het nie, maar ek het besluit ek wil dieselfde hê.

Ek het deurentyd gebid, gesoek, geklop, gevra – maar daar het net mooi niks gebeur nie.”

Ses maande later het hy in die Kimberley-teater opgetree. “Ek was radeloos omdat niks vir my sin gemaak het nie.” Tydens pouse het hy op ’n bondeltjie in die kleedkamer gaan sit en huil. “My vrou Daleen het kom inloer en my gevra wat verkeerd is. Ek het haar geantwoord dat ek nie meer weet of daar werklik ’n God in die hemel is nie; Hy antwoord my dan nie.

“Daleen het in my aktetas gekrap, een van daardie koringkorreltjie-kaartjies uitgehaal en vir my gesê: ‘Kom ons kyk wat sê die Here vanaand vir jou.’

“Op die kaartjie het gestaan: ‘Roep My aan, en Ek sal jou antwoord en jou bekend maak groot en ondeurgrondelike dinge wat jy nie weet nie’ (Jer 33:3).”

In die tweede helfte van sy optrede was daar ’n vuur wat in sy gees gebrand het.

Danie het besluit om Gary te gaan opsoek. “Ek wou hom vra wat dit was wat hy het, dit wat ek nie het nie. Ek het hom vertel dat ek nog altyd baie godsdienstig was en twee keer per dag my Bybel lees en bid, dat ek elke Sondag kerk toe gaan, dat ek my tiende gee.

“Gary het na my geluister, sy hand op my skouer gesit en gesê: ‘Dan, you need to be born again. Repent of your sins and accept Jesus Christ as your Saviour.’

“Sy woorde was skaars koud, toe knak my bene onder my. Toe my knieë die grond raak, het ek na God geroep. Daarop het Gary my deur ’n eenvoudige maar opregte gebed na die Here gelei. Toe ek daar opstaan, was ek vry. Ek het gevoel asof ’n hele ton bakstene van my skouers geval het.”

Die anker

Met hernude lewe, lig en liefde in sy hart het Danie besluit om sy loopbaan ten volle aan die Here oor te gee. “Ek het daarna nooit, ooit weer enige optrede bespreek nie; dit het net gebeur. Dis die Here se roeping vir my.”

Sedertdien tree Danie dwarsoor die land op. “Die boodskap wat ek met my bediening en musiek wil oordra, kan in Filippense 3:10 se woorde saamgevat word: ‘Al wat ek wens, is om Chirstus te ken, die krag van die opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding deur aan Hom gelyk te word.’

“Ek probeer om mense te motiveer, maar dis net die Heilige Gees wat met hul gees kan werk.”

Wanneer hy Suid-Afrikaners teëkom wat moedeloos oor die land se toekoms is, dra hy Jesus se boodskap in Markus 11:24 aan hulle oor: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit al ontvang het, en dit sal vir julle so wees.”

“Ons mense moet tog nie moedeloos word nie. Ons moenie met ons oë kyk en nie met ons hart en gees nie.” Hy sê hy beklemtoon tydens sy bediening ook dat Jesus die anker van ons siel is, net soos ’n boot ’n anker moet hê. “Ons lees dan 365 keer in die Bybel ‘moenie vrees nie’.”

Lewenslied

Wanneer Danie nie op die pad is nie, bring hy soveel moontlik gehaltetyd saam met sy gesin deur. Hy vertel: “Daleen is die kwaai een; ek is die ‘genade’. En ek soen my kinders óp!”

“Gesin” beteken vir hom “onvoorwaardelike liefde”. Hy verduidelik: “Net soos die Vader sy onvoorwaardelike liefde aan ons gee, moet ons ook ons kinders en geliefdes onvoorwaardelik liefhê.”

Danya het verlede jaar vier onderskeidings in matriek behaal en geniet vanjaar ’n oorbruggingsjaar onder leiding van pastoor Nevil Norden en Abel Loedolff by Lewende Woord in Pretoria. Daniël is vanjaar in graad 8.

Danie sê sy lewenslied is dat Jesus ons vrygekoop het, dat Hy vir ons sonde betaal het, dat Hy uit die graf opgestaan het, dat die Heilige Gees uitgestort is. Hy haal Johannes 16:8 aan, waar Jesus oor die Heilige Gees sê: “En wanneer Hy kom, sal Hy bewys dat die wêreld skuldig is aan sonde, en dat die reg aan my kant is, en dat die oordeel al gekom het.”

Sy toekomswens vir homself?

“Om ’n dieper verhouding met God te bou. En om in ’n dieper dimensie met die Heilige Gees te wandel.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.