Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek is Jesus se witbroodjie,’ vertel vrou met rare siektetoestand

DEUR MARIETJIE WARRINGTON

“Ek beskou my as Jesus se witbroodjie. En Psalm 23 versterk my in die donkerste ure.”

Só vertel die 46-jarige Magda Smit van Albertskroon in Johannesburg, wat tans met die laaste fase van rigiede ruggraatsindroom (RRS) worstel.

“Ek omarm elke dag, met algehele vertroue op God,” vertel Magda, wat tans met die laaste fase van rigiede ruggraatsindroom (RRS) worstel. Foto: Kobus Petzer

Rigiede ruggraatsindroom is ’n aangebore en genetiese skeletale afwyking wat in ’n baie klein deel van die wêreldbevolking voorkom. Die simptome is in ’n mate soortgelyk aan dié van spierdistrofie, wat verswakkende asemhaling-inkorting insluit.

Magda is een van die wêreld se RRS-lyers wat die langste leef, hoewel dié sindroom sy tentakels reeds diep in haar klein, kromgetrekte lyf geslaan het.

Dr Dawid Le Roux, ’n afgetrede internis wat Magda reeds baie jare lank ken en haar ook behandel het, verduidelik: “Dis ’n baie rare toestand. Uit die 150 000 pasiënte wat ek in meer as 40 jaar as internis behandel het, was sy die enigste met RRS.”

‘Jy is Jesus se skapie, Hy sal jou oppas,’ sê tienjarige kankerlyer aan ander kinderkankerpasiënte

Hy vertel verder: “Ek het hierdie dapper en presiese mens oor ’n lang tydperk in Johannesburg behandel, en ek het haar as ’n sterk mens beleef. Sy is niks minder nie as die anker, die pilaar, van die Smit-gesin.”

’n Uitdagende situasie

Maar Magda kan tans skaars beweeg, sy verduur baie pyn en sy sukkel om asem te haal. Haar spiere en haar diafragma funksioneer ook nie meer doeltreffend nie en dit bring mee dat sy snags kunsmatig geventileer moet word. Sy het tans minder as 10% van haar asemhalingspiere oor. Dis ’n uitdagende situasie, wat sy met waagmoed bestuur.

Maar sy laat nie toe dat haar sprankelende gees deur dié donkerte gedemp word nie. Met ’n permanente trageale buis, suurstoftoevoer en ’n kierie wat reeds die afgelope dertig jaar haar metgesel is, gesels sy onderhoudend en entoesiasties.

“Tot en met my vyftiende jaar kon ek redelik normaal funksioneer. As kind was ek wel bewus van ’n knop agter my blad – blykbaar die eerste teken van skoliose – maar dit het nie verhinder dat ek met my alledaagse aktiwiteite kon voortgaan nie.

“Op skool het ek aan sport deelgeneem, en aan ander buitemuurse aktiwiteite, hoewel ek soms moes asemskep tussen al die bedrywighede deur. My arms en bene was nooit sterk nie. Maar toe doen ek jappiegriep op. Ek was 15. En dit het my lewe soos handomkeer verander. Dit was moontlik ook die aanleidende oorsaak vir die RRS. In dié tyd is ’n trageostomie gedoen en ek moes permanent suurstofaanvulling kry. Ek is ook aan ’n ventilator gekoppel.”

‘Ek bestuur dié struikelblokke met my geloof’

Ná uitgerekte toetse en veelvuldige doktersbesoeke is RRS uiteindelik by Magda gediagnoseer. Ongeag die permanente trageale buis en die suurstofafhanklikheid het Magda uit die staanspoor besluit om die uitdaging so positief moontlik te hanteer.

“Ek was ’n blote kind toe al dié dinge met my gebeur het. Ander mense sou dalk sielkundige berading en ander ondersteuning verlang het, maar ek het besluit om al dié struikelblokke met my geloof te bestuur. En daar het nog nie ’n dag omgegaan waarin die Skepper nie in al my behoeftes voorsien het nie.”

Aanvanklik kon Magda verskeie alledaagse take redelik gemaklik uitvoer. Sy het geruime tyd as diaken in haar gemeente gedien.

“Ek het ook as ’n au pair gewerk, ek het self my aangepaste motor bestuur, alle huishoudelike inkopies behartig en ook alleen dokter toe gegaan. Tydens vakansies het ek my oorlede pa help motor bestuur as ons ver ry. Ek het hom ook in sy werk as woonstelopsigter bygestaan.”

Om met geloofsoë te kyk

In haar tyd as diaken het Magda saam met ’n ouderling huisbesoek gedoen, en sy het ook aan uitreikaksies in Hillbrow deelgeneem.

“My termyn as diaken in die jare negentig was vir my kosbaar. Dit was ’n tyd waarin ek Jesus se liefde met ander mense kon deel. Dit het my die geleentheid gegee om die Woord uit te leef en te versprei, veral tydens die MES-aksies in Johannesburg.”

Magda se predikant is ds Leon Forsman, NG leraar by die Greydene gemeente in Johannesburg. Hy vertel: “In die afgelope sewe en ’n half jaar het ek ’n mens leer ken wat my laat skaam kry. Te midde van haar liggaamlike en geestelike uitdagings het Magda deurgaans haar blymoedigheid behou. Ek het haar nog nooit hoor kla nie. Sy aanvaar in geloof wat oor haar pad gekom het, en sy gebruik elke beskikbare oomblik om met geloofsoë na haar omstandighede te kyk.

“Selfs met die baie kragonderbrekings bly sy standvastig. Sonder elektrisiteit kan haar ventilator en suurstofapparaat nie werk nie, en dit het ’n direkte invloed op haar gesondheid.”

‘Ek omarm elke dag’

Ongeag RRS se omvattende impak, die baie groot ekonomiese implikasies wat dit meebring, en die ellendige kragonderbrekings wat haar ventilator en suurstoftoevoer beïnvloed, poog Magda om so normaal moontlik te leef. Hierin word sy deur haar 85-jarige moeder gehelp.

“Hoewel ek groot liggaamlike uitdagings moet hanteer, is my verstand kristalhelder. Ek is my ma se persoonlike assistent wat die huishouding betref. Ek sien toe dat al die rekeninge elektronies betaal word en dat voorraad vir die huis asook kruideniersware deur die internet aangekoop word. Ek blink steeds daarin uit om dinge te reël. En ek omarm elke dag, met algehele vertroue op God.”

  • Stuur ’n e-pos na rina@sadi4u.co.za indien jy Magda finansieel wil ondersteun.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF