Johan Koornhof het in 2010 by die dood omgedraai toe hy in ʼn ernstige bergfietsongeluk betrokke was. Elf jaar later was dit weer so toe hy Covid-19 opgedoen het en pulmonệre fibrose boonop by hom gediagnoseer is. “Ek het opgehou asemhaal, “vertel hy, “en ek het besef ek is besig om dood te gaan. Maar toe ontmoet ek Jesus.”
Die Kaapse entrepreneur en sakementor Johan Koornhof het in ʼn pastorie in Kirkwood in die Oos-Kaap grootgeword. “Maar ek was nege jaar oud toe my ouers geskei is. Wanneer jou ouers skei, dink jy dis jou skuld. Ek het oral goedkeuring gesoek en ʼn behoefte aan ʼn aardse pa gehad. Ek was soekend; daar was altyd daardie brandende vraag by my: Is ek goed genoeg?”
Al die letsels wat hy in daardie tyd opgedoen en saam met hom gedra het, het hom gedryf om op die sportveld te presteer. “Ek was baie mededingend,” vertel hy, “ek wou altyd eerste wees. Ek het vir die eerstespan rugby gespeel, ek het aan atletiek deelgeneem en tennis gespeel.
“Ná matriek het ek in kliniese sielkunde en besigheidsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer, en toe is ek na Edinburgh in Skotland waar ek by ʼn Britse maatskappy gewerk het.” Hy is met ʼn Britse vrou getroud, maar ná sewe jaar het hul huwelik op die rotse geloop.
Terug in Suid-Afrika het Johan besluit om die korporatiewe wêreld vaarwel toe te roep en verder te studeer. Hy vertel: “Ek het by die Creative Conscience International-akademie gestudeer sodat ek my op lewensafrigting kon toespits. Daarna het ek my eie praktyk gestig, Grincourt Consulting.”
Hy is 2014 met Helene getroud en hulle is vandag die trotse ouers van twee seuntjies, Lucas (8) en Christian (5). Johan bestuur tans twee ondernemings – Be Real Company, waar hy plaaslike en internasionale uitvoerende sakelui en sake-eienaars mentor, asook Recinate.com, wat hy saam met ʼn vennoot, Deon Basson, van stapel gestuur het. Recinate.com help ondernemings dwarsoor die wêreld met die vaardighede om interaksie en kommunikasie met hul kliënte te verbeter.

Die ongeluk
ʼn Ernstige bergfietsongeluk in 2010 het vir ʼn groot kentering in Johan se lewe gesorg. Hy vertel: “Ek het op ʼn wynplaas naby Durbanville teen ʼn helling af gery, geval en erge skedelbreuk opgedoen. Die medici kon nie verklaar hoe ek die ongeluk oorleef het nie. Daar moes plate in my kop aangebring word. My korttermyngeheue was daarmee heen. Selfs my gevoelens en emosies was drie maande lank net ‘weg’.
“Ek het ʼn hele ruk by my ma op ’n plaas naby Barrydale gaan woon. Daar het ek herstel. Met verloop van tyd het my korttermyngeheue teruggekeer.”
Ná die ongeluk het hy ʼn deeglike bestekopname van sy lewe gemaak, en agtergekom dat daar steeds sekere onopgeloste kwessies in sy lewe teenwoordig is. “Ek het ook geweet dat ek volgens Christelike beginsels moet begin leef. Ek het besef hoe belangrik dit is om daardie beginsels, en die integriteit wat daarmee gepaardgaan, in my vriendskappe en huwelik uit te leef. Asook in my sakeondernemings.”
Die volgende kentering
In September 2021 het Johan Covid-19 opgedoen. Hy moes tien dae in die hospitaal se intensiewesorgeenheid deurbring, en daarna 86 dae in isolasie in die hoësorgeenheid. Hy onthou: “Ek het gesien hoe drie mense sterf en gewonder wanneer dit my beurt is …”
Sy suurstofvlakke het dramaties gedaal. Die verpleegpersoneel het drie keer probeer om hom by te bring en 60 liter suurstof per minuut in sy longe gepomp. “Ek het alles ervaar wat om my gebeur het. Die een suster het vir my gesê: ‘Johan, werk saam met my, ons gaan jou nie vanaand verloor nie.’
“Ek het in ʼn respiratoriese versaking geraak, ophou asemhaal en my bewussyn verloor. Alles om my het skielik donker geword.
“Maar toe het daar iets wonderbaarliks gebeur.”

Johan vertel van die visioen wat hy beleef het: “Ek het opgekyk en gesien hoe ’n vragmotor ʼn hoop sand op my gooi en ek het baklei om uit die sand te kom. ʼn Tweede hoop sand is op my gegooi. Toe die vragmotor die derde keer kom, kon ek nie ontsnap nie.
“Toe het alles weer donker geword, ek was in ʼn glasboks, besig om die lug in te sweef. Ek het die vaste oortuiging gehad dat ek besig is om te sterf en dat daar absoluut niks is wat ek kan doen om dit te verhoed nie.”
Dit moes tog nie met hom gebeur nie, het hy gedink. Wat van sy vrou en twee seuntjies by die huis?
“Ek het teen die glasboks geskop, dit probeer breek om daaruit te kom. Die volgende oomblik het ek ʼn stem hoor sê: ‘Wie, dink jy, is Ek?’
“In my onderbewussyn het ek geweet dit is Jesus. Intussen het ek steeds geskop, het ek baklei om uit die glasboks te kom. Toe kom die stem weer: ‘Wie, dink jy, is Ek?’
“Ek het geantwoord: ‘U is Jesus.’
“Toe sê die stem: ‘Ek is die Almagtige! Maar dit beteken vir julle niks nie. Al praat Ek met julle soos Ek met Job gepraat het en gesệ het Ek het die krag in my hande om die son te laat opkom en te laat ondergaan, en die krag om die branders te laat breek, doen dit niks aan julle nie. Want julle Christene het so gewoond geraak aan My, so familiêr met My. Julle praat oor My en met My net soos oor en met jul vriende en familie. Ek is die Almagtige.’”
Voor die troon
“Die volgende oomblik,” sê Johan, “het ek my voor die troon bevind, die plek waar ons almal eendag sal staan. Ek moes toe rekenskap gee van my lewe, en van al die situasies waarin ek my al bevind het toe ek my rug vir Jesus gedraai het.
“Toe het ek skielik besef: Ek is nie op pad hemel toe nie, maar hel toe.”
Dit was ʼn oorweldigende belewenis. “Ek was bewus van die ewigheid. Die gekners van tande het vir my ʼn werklikheid geword.
“Toe het Jesus gesê: ‘As jy My op aarde ontken, sal Ek jou voor die Vader ontken. Maar as jy elke dag alles in my hande oorgee en my wil doen, as jy bereid is om so te leef en om ander Christene se oë oop te maak, sal Ek jou terugstuur aarde toe.’”
ʼn Lewe vol dankbaarheid
Hierop het Johan sy bewussyn herwin. Hy het daarna nog tien weke in die hoësorgeenheid deurgebring. Uiteindelik is hy huis toe, waar hy nog sowat ʼn maand lank bykomende suurstof ontvang het.
In Maart 2022 is die eerste CT-skandering op hom uitgevoer sedert die Covid-19-diagnose. Dr Pierre Tredoux het gesê die pulmonêre fibrose is heeltemal genees. Johan vertel: “Die dokter het trane afgevee en gesê dit is die mooiste mediese wonderwerk denkbaar, en dat God my volkome genees het.”
Deesdae getuig Johan plaaslik en wêreldwyd oor sy lewensveranderende ondervindings en sy ontmoeting met Jesus. “Ek bring ʼn boodskap van hoop.”
Hy sê dat hy, ná 45 jaar as ʼn Christen, te midde van al dié gebeure besef het dat hy ook moet leer hoe om God se stem te hoor. “My hele leefwyse het verander, en ek en my gesin stel Jesus eerste.
“Ek lei nou ʼn lewe vol dankbaarheid, want ek weet God is Almagtig en niks sal in my lewe gebeur wat Hy nie toelaat nie. Ek leef ʼn lewe van volkome onderdanigheid en gehoorsaamheid. Ek is dankbaar vir elke asemteug wat ek kan gee, want ek het ʼn tweede keer ʼn tweede kans gekry.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.




















