Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek vier ’n dekade van genade,’ sê 35-jarige, ná dubbele longoorplanting

SAAMGESTEL DEUR CONETTE LE ROUX

“Ek het die afgelope tien jaar soveel eerstes beleef! En ek is so dankbaar teenoor die destydse skenker. Hy het my die kans gegee om die lewe vir die eerste keer werklik te ervaar.”

Die 35-jarige Fawn Kruger van Johannesburg vier in Maart vanjaar die eerste dekade sedert ’n dubbele longoorplanting haar lewe in Maart 2013 gered het. Dis ’n gróót mylpaal, omdat Fawn tot dusver een van slegs 22 pasiënte in Suid-Afrika is wat ’n longoorplanting oorleef het. Só sê Transplant Education for Living Legacies (TELL). Boonop wys die statistiek uit dat ’n skamele 30,4 % van dié pasiënte tien jaar later steeds leef.

LEES OOK: #dontstopbelieving: Mark Pilgrim kyk verby hospitaalmure

Voor haar longoorplanting was Fawn, toe 24 jaar oud, 24 uur per dag aan ’n suurstofmasjien gekoppel. Sy onthou: “Wanneer ek die suurstofpypie afgehaal het om my gesig te was, het my lippe dadelik begin blou word. En ek het lighoofdig gevoel.”

Sy het toe ook reeds meer as 700 dae van haar lewe in die hospitaal deurgebring.

Fawn was maar een jaar oud toe sy met sistiese fibrose gediagnoseer is. Dié siekte beïnvloed verskeie organe, en dis lewensgevaarlik omdat die longe met ’n dik, taai slym gevul word. Stadig maar seker maak dit die longe dood, totdat die persoon wat daaraan ly nie meer kan asemhaal nie. Toe sy ’n kleuter was, moes Fawn elke dag ’n kombinasie verteringsensieme saam met elke maaltyd inneem. Sy moes boonop twee keer per dag genebuliseer word en borsfisioterapie ontvang.  Sy was 13 jaar oud toe sy elke drie maande twee weke in die hospitaal moes deurbring en binneaarse antibiotika ontvang. Fawn sê dit was soos om elke dag van jou lewe brongitis te hê.

Sy was destyds gelukkig genoeg om op die waglys vir longoorplantings geplaas te word. Jy beland slegs op dié lys as die medici jou gesond genoeg ag om die oorplanting te oorleef, sê TELL, waarvan Fawn ’n medestigter is.

In Maart 2013 het Fawn uiteindelik die wonderlike nuus ontvang dat daar ’n geskikte skenker is. Dis nou tien jaar later, en sy kan terugkyk op ’n dekade van genade.

Elke jaar vier sy die spesiale dag waarop sy haar nuwe longe ontvang het. Vanjaar gaan sy die dag weer saam met familie en vriende deurbring, maar sy wil nou haar gaste, en alle mense, ook aanmoedig om geld aan TELL te skenk. Dit sal dié organisasie help in hul voortgesette pogings om die publiek en mediese personeel oor orgaanskenking op te voed.

“Een van die moeilikste dinge van dié siekte is om vriende te verloor wat nie betyds ’n oorplanting kon kry nie,” sê Fawn.

  • Klik hier as jy ’n donasie wil maak.
  • Besoek TELL se webwerf vir meer inligting.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.