DEUR DEONETTE DE KOCK
“Die een oomblik was ek nog enkellopend; die volgende oomblik het die Here die sluier van my oë gelig en my gewys dat Bertie die regte man vir my is. Dat Hy my roep om die nuwe mamma vir Bertie se ses kinders te word.” Só vertel die sangeres Lize Wiid, nou Lize Hadassah Olivier.
“Ek beskou my gesin as die grootste geskenk nóg wat die Here my gegee het,” sê Lize Hadassah Olivier (44), voorheen bekend as die sangeres Lize Wiid. Sy woon die afgelope 16 maande in Windhoek, Namibië, saam met haar nuwe man en sy ses kinders.
“Die een oomblik was ek nog enkellopend; die volgende oomblik het die Here die sluier van my oë gelig en my gewys dat Bertie die regte man vir my is. Dat Hy my roep om die nuwe mamma vir Bertie se ses kinders te word.”
LEES OOK: ‘Jy moet dapper wees in die laaste seisoen van jou lewe,’ vertel skrywer met terminale kanker
Lize dien die Here voluit – maar dit was nie altyd die geval nie. Sy vertel hoe sy ná skool baie rebels was en ver van die Here afgedwaal het. Sy was ses jaar lank in die sekulêre musiekbedryf en in dié tyd lid van ’n klompie orkeste, onder meer die bekende Radio Kalahari Orkes.
‘Toe het ek die Here begin soek’
“Omdat ek nie in ’n verhouding met die Here gestaan het nie, het ek mettertyd leeg begin voel. En ek het daardie leemte probeer vul met dinge soos dwelms en drank. Ek was stukkend vanweë etlike gebroke verhoudings. Later het ek aan depressie gely.
“Toe het ek die Here begin soek. Tydens ’n gebedsessie is ek van ’n klomp dinge bevry wat my vasgeketting gehou het. En 12 jaar gelede het ek my lewe aan die Here oorgegee.
“Ek is toe deur die Heilige Gees gelei om slegs musiek tot sy eer te maak. Dit was ’n onbeskryflike gevoel om skielik uit die donker gepluk te word. Om in die lig te leef, met God se vergifnis en liefde wat om my gevou het.
“My lewe het soos handomkeer verander. En Hy het my die een lied ná die ander vanuit sy troonkamer gegee.”
Maar, vertel Lize, daar was altyd die hunkering na ’n lewensmaat, na kinders. Tog het sy, sedert die Here haar lewe verander het, nooit toegelaat dat dit haar fokus word nie.
‘Finally Home’
Vier jaar gelede het Lize twee besonderse mense op ’n Windhoekse lughawe ontmoet: Bertie Olivier en sy vrou Yolandé. Bertie, ’n siviele ingenieur in Windhoek, en Yolande het hulle aan Lize kom voorstel. Hulle het gereeld na haar musiek geluister.
Twee jaar voor dié ontmoeting is Yolandé met borskanker gediagnoseer.
Lize vertel: “Ons het vriende geword. Hoewel ek in die Kaap gewoon het, het ek Yolandé ondersteun. Bertie en Yolandé, albei diep gelowig, het ’n intieme pad met die Here gestap.
“Yolandé was ’n merkwaardige vrou. Sy het aan die Here bly vasklou tydens haar moeilike kankerstryd.”
Lize het destyds baie nuwe musiek geskryf. “Op ’n dag het ek begin skryf aan ’n lied met die naam ‘Finally Home’. Eers nadat ek dit voltooi het, het die Here my gewys dat Hy eintlik hierdie lied aan Yolandé kom gee het.
“‘Finally Home’ handel oor ’n lewe voor God, wat uitloop op sy woorde aan sy kind: ‘Well done, my good and faithful child, you are finally Home’.”
Lize het die voltooide liedjie aan Bertie en Yolandé gestuur, en hulle het so baie daarvan gehou dat hulle Lize gevra het om dit op Yolandé se begrafnis te sing. Op daardie dag wanneer hulle haar lewe sal vier.
Nie lank daarna nie het Yolandé aan Lize gevra of sy nie vroeër Windhoek toe wil kom nie sodat hulle by mekaar kon wees en saam tyd kon deurbring voordat die Here haar kom haal.
Lize het besluit om dit vir haar vriendin te doen. Sy was agt dae lank by Yolandé, saam met Bertie en Miné, hul tweede oudste dogter. Hulle was op vriende se plaas buite Windhoek toe Yolandé gesterf het.
‘Om te sien hoe iemand die ewigheid instap’
Lize vertel: “Dit was vir my ’n spesiale ervaring, asook ’n voorreg, om te kon sien hoe iemand die ewigheid instap. Dit was ook besonders om te sien hoe Bertie haar bygestaan het. Hy het haar, tot aan die einde, versorg en liefgehad.
“Bertie en Miné was baie sterk. Kinders se reaksie op so iets hang af van hoe die ouers dit hanteer. Omdat Bertie emosioneel sterk was, met die Here as sy Rots, het hy die kinders voorberei op hul mamma wat hemel toe gaan. Dis waarom hulle dit so goed hanteer het.”
Lize is terug Kaap toe, en sy en Bertie het kontak behou. Die vier jaar wat Yolande so siek was, was reeds die eerste treë in Bertie se rouproses. Nie lank ná haar dood nie het die Here Lize en Bertie bymekaar gebring. Hulle is ’n klompie maande later getroud.
Oor hierdie ommeswaai in haar lewe vertel Lize: “Ek is nogal onkant gevang deur hoe vinnig dinge kan verander.”
Sy is nou mamma vir Hilde-Marie (19), Miné (16), Bertus (13), Judané (10), Elrike (7) en die jongste, Dawid (4). Hilde-Marie het reeds gematrikuleer; die res word almal tuis onderrig.
‘Vandag is ek ’n dogter van die Allerhoogste’
Lize vertel: “Ek het baie vinnig besef dat as ’n mens binne God se wil leef, Hy jou bonatuurlike wysheid en krag gee. En die vermoë om elke nuwe seisoen aan te durf.
“Dit was só wonderlik, en dit was ’n groot seën, om te beleef hoe die kinders my as hul nuwe mamma aanvaar. Elrike kon byvoorbeeld nie wag om my ‘Mamma’ te noem nie. Ook Judané het ’n groot behoefte aan ’n mamma gehad, en sy was baie opgewonde toe sy hoor ek en haar pappa gaan trou.
“En toe ek die eerste keer saam met Dawid wegkruipertjie speel, was hy besonder ingenome met die idee om my as sy mamma te hê.”
Vir die oudste kinders was die aanpassing groter as vir die jongeres. Lize sê dat die Here getrou is, en dat Hy hulle elke dag nader aan mekaar bring. “Yolandé en haar lewe vorm steeds deel van ons gesprekke, wat dit makliker vir die kinders maak. Ons almal besef dis ’n nuwe seisoen. Maar dit neem niks weg van die vorige seisoen nie.
“As ek nou terugkyk op hoe my lewe 12 jaar gelede was, kan ek glad nie daardie mens herken wat ek toe was nie. Sy was stukkend, gebroke, vasgevang in sonde. Sy het haar eie paadjie gevolg, met geen ewigheidswaardes nie.
“As Abba Vader nie die middelpunt van alles is wat jy doen nie, is jou lewe leeg. Maar wanneer ’n mens na Hom toe terugkeer, herstel hy alles, ook dit wat in jou lewe gesteel is.
“Vandag is ek ’n dogter van die Allerhoogste, genees en gerestoureer, en op die pad van heiligmaking en suiwering. Filippense 4:13 som dit mooi op: ‘Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.’
“Ek probeer om so tussendeur musiek te skryf en om opnames hier by die huis te maak. Die Here het my ryklik geseën. Ek is só dankbaar.
“Om die mamma van so ’n groot kroos te wees, om Bertie se vrou te wees, is die heel lekkerste. Ek sou dit nooit anders wou hê nie.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.