Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God het my laat draf om my van selftwyfel en depressie te bevry’

Vroeg in 2022 het ek besef ek is depressief. My werk en ander stresvolle dinge het my ondergekry. Dit was elke dag ’n stryd om uit die bed te kom. Ek het gesukkel met erge twyfel – aan myself, aan my vermoëns en aan my selfwaarde. Ek was 34 jaar oud.

Ek kon net nie ontslae raak van die moegheid wat so sielsdiep gelê het nie; ek het wel baie hard probeer om dit weg te steek.

‘As jy nie iets doen nie …’

Een middag by my werk, dit was iewers in Maart 2022, het dit skielik gevoel of ek nie behoorlik kan asemhaal nie. Dit was asof iemand my wurg en ek moes buitentoe hardloop om my asem terug te kry. Eensklaps het dié gedagte by my kom aanmeld: “As jy nie iets doen nie, sal jy jou vrou en kind alleen agterlaat.” Ek glo dis die Heilige Gees wat my gewaarsku het. 

Deur sy genade het ek toe ’n ontdekking gemaak: draf en hardloop. My eerste draffie op 12 Maart 2022 was ses km ver, met meer stap as draf. Dit was regtig moeilik. Maar baie gou het ek van die oefening begin hou. Dit het my telkens soveel beter laat voel.

LEES OOK: VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

Al drawwende het ek met die Here gesels. Uiteindelik het Hy my vrygemaak van alles wat my vasgedruk het. Elke tree was ’n oorwinning. Ek het ook besef dat ek nie besig is om van my probleme af weg te hardloop nie; ek was, inteendeel, besig om na iets nuuts toe te hardloop.

Van Twee Oseane tot Comrades

Reeds in Junie 2022 was dit my doel om aan 2023 se Twee Oseane- ultramarathon deel te neem. Ek het navorsing oor dié moontlikheid gedoen, en dadelik uitgevind ek moet aan ’n drafklub behoort en ek moet ’n marathon in minder as vyf ure voltooi om vir die Twee Oseane te kwalifiseer.

Daarop het ek by die Kathu Road Runners-klub aangesluit, en in Oktober 2022 aan die Diamond-marathon deelgeneem. Ek het dit in 4 uur 55 minute voltooi.

Toe ek in 2023 die Twee Oseane-roete hardloop, het die pragtige uitsig en die 56 km se stywe opdraandes my tegelykertyd nederig en geïnspireerd laat voel. Ek was so dankbaar vir hoe ver ek emosioneel en liggaamlik in daardie jaar gegroei het.

En ek kon amper nie glo hoe die Here iets so eenvoudig soos draf gebruik het om my vry te maak van die donkerte van allerlei vrese en die selftwyfel en die hooploosheid nie.

My nuwe droom was om die 2024-Comrades te voltooi. Ek het ernstig begin oefen en die Comrades-webtuiste se program gevolg, die Comrades-webinars op YouTube gekyk, en saam met ons klub geoefen. My vrou Ansie se ondersteuning het ook báie gehelp.

My groot Comrades-droom het verlede jaar 9 Junie ’n werklikheid geword. Alle eer aan die Here! Alles was nie so maklik nie, maar ek weet ek het as mens gegroei. Ek het die gemeenskap se ondersteuning leer waardeer. En ek het geleer hoe om in alles van die Here afhanklik te wees.

Manie vertel sy vrou Ansie (foto) se ondersteuning het báie gehelp om sy Comrades-droom te verwesenlik. Foto verskaf

‘Write a book’

In Oktober verlede jaar het dié gedagte in my kop gekom: “Tell my people what I have done for you.” Ek het besef dat dit van die Heilige Gees af kom, maar onmiddellik het ek gevra: “Hoe doen ek dit? Ek is tog ’n introvert, ek praat nie maklik voor mense nie.”

Toe kom die antwoord: “Write a book.”

Die volgende oggend het dit weer gebeur, alles presies soos die vorige dag. Ek het opnuut besef dat dit van die Heilige Gees af kom, maar ek het steeds daaraan getwyfel.

Op 23 November, in my stiltetyd, het ek uitdruklik vir die Here gevra of die boek sy wil is. Die oomblik toe ek dit vra, het my polshorlosie ’n geluid gemaak. Ek het gedink: Dit kan nie wees nie!

Die volgende oggend het ek weer vir die Here gevra of dit sy wil is dat ek die boek skryf.

Daardie oggend kyk ons gesin ’n kerkdiens op YouTube. Die preek se tema was “Ontkoppel – Ontkiem”. Die pastoor het ’n pakkie saad in sy hand gehou en verduidelik dat die saad baie potensiaal het, maar solank dit in die pakkie bly, het dit geen nut nie. Dit moet geplant word om te kan ontkiem, te groei en vrug te dra.

Hy het bygevoeg: “Sê nou jy staan aan die einde van jou lewe voor God die Vader en Hy sê vir jou: ‘Mooi so, goeie en getroue dienskneg, jou lewe het soveel potensiaal gehad … Maar sou dit nie beter gewees het as jy daardie potensiaal gebruik het om ’n verskil in ander mense se lewe te maak nie?’”

Dadelik het dit vir my gevoel dat Jesus Christus met mý praat. Ek het dit gehoor, dit kon nie ’n fout wees nie. Die trane het oor my wange geloop en ek het saggies gesê: “Vergewe my, Abba, Vader, dat ek nie die eerste twee kere geluister het nie.”

Van daardie oomblik af het ek vir seker geweet die boek is ’n opdrag van die Here. Maar ek het nog nooit ’n boek geskryf nie, ek het nie geweet waar om te begin nie. Ek het wel geweet ek wou aan Hom gehoorsaam wees. En ek het vas geglo dat ek die boek in Engels moes skryf omdat ek die boodskap van die Heilige Gees in Engels gekry het.

Die Engels was ’n uitdaging, want ons huistaal is Afrikaans. Maar wanneer ’n mens in geloof stap, is enigiets moontlik. Ek het dadelik op die internet begin soek na ’n manier om ’n boek te begin skryf.

Ek vertel graag my verhaal omdat ek weet daar is talle mense wat met depressie sukkel. Ek wil graag hê hulle moet weet dis nooit te laat om ‘n nuwe reis saam met God te begin nie, nooit te laat om jou lewensverhaal van nuuts af te herskryf nie.

Van die eerste keer wat ek gedraf het, 12 Maart 2022, tot die dag van die Comrades, het 27 maande verloop. In dié tyd het ek regtig die Here se genade ervaar.

* Die boek Depression to Comrades Marathon Success 27 Month-Journey by the Grace of God deur Hermanus Steyn is onlangs voltooi. Dit is van 1 Januarie 2025 af as e-boek op Amazon.com  beskikbaar, en van 14 Januarie 2025 in slapband, ook by Amazon.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF