Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘God wys vir my in ’n droom om vir kankerpasiënte, hongeres en bejaardes te begin sorg’

DEUR ELZABÉ VAN NIEKERK; FOTO’S DEUR SKAPIE

Een aand in 2016 het Gloria Dickson (nou 66) ’n droom gehad wat talle se lewe sou verander. In die droom was daar ’n tafel met ’n wit tafeldoek voor haar. Daar was ’n klomp borde op die tafel. Op die borde was verskillende produkte, waaronder knoffel, komkommer, gemmer, blaarslaai, ensovoorts.

Gloria vra toe: “Here, wat is dit wat U my wil wys?”

Gloria se vreugde vir die lewe is aansteek, vertel almal wat haar ken. Al die kos word voorberei en gekook in haar eie kombuis. Foto: Skapie

Sy het die bestanddele wat sy in die droom gesien het gaan koop en ’n gesondheidstoebroodjie gemaak, het Gloria aan die digitale tydskrif Goue Munt vertel. Daarna het sy dit vir haar sussie, wat teen kanker gestry het, geneem.

Haar sussie het later vir haar kom sê: “Weet jy, ek het so lekker geëet. Wil jy nie môre saam met my Kimberley-hospitaal toe gaan nie? Daar is pasiënte by die onkologie-afdeling wat van ver af kom vir behandeling – Springbok, Calvinia, Kathu … Hulle het nie kos nie, hulle het niks. Hulle het met die ambulans gekom en hulle is so honger. Die chemo maak hulle ook swak en dit is seer, veral op ’n nugter maag.”

Kos en gebed vir kankerpasiënte

Gloria, wat in daardie stadium bestuurder van ’n Shoprite-drankwinkel in Kimberley was, het alles gaan koop wat nodig was vir 50-60 gesondheidsbroodjies. Sy het die volgende dag die broodjies, jogurt en appelsap vir die pasiënte gaan uitdeel. Gloria het daarna elke Maandagoggend om 7:30 vir die onkologiepasiënte kos geneem. Haar ouma, ma en oom het gesterf aan kanker, maar haar sussie het die stryd gewen. God het haar begin gebruik om ander te help wat siek was.

‘Ek vier ’n dekade van genade,’ sê 35-jarige, ná dubbele longoorplanting

Later het sy ook vir die onkologiepasiënte maaltye voorsien: bruinrys, skaapvleis, vis of hoender, slaai en appels. Sy het self die kos gekoop en dit in haar klein kombuis gaan kook. Genoeg vir 50-80 mense. Elkeen het elke keer iets gekry en wat oorgebly het, het hulle gebêre vir dié wat later sou kom. Sy het ook aansoek gedoen om as ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) te registreer. In Februarie 2020, net voor die Covid-19-inperkings, is haar NWO – Shining Light Health Nutrition and Hygiene – geregistreer.

Gloria het later ook ’n span gehad wat haar gehelp het om die kos uit te deel. Dit het haar die geleentheid gegee om vir die pasiënte te bid, hulle te motiveer en vir hulle uit die Bybel te lees. Gloria het steeds al die kruideniersware self gekoop en sy vertel met groot waardering van die kere wat ander aangebied het om vir haar trollie-inhoud te betaal.

Die honger mense van Samaria

Die Covid-19-pandemie in 2020 het egter Gloria se werk by die hospitaal gekniehalter. Die inperking het veroorsaak dat sy nie meer vir die pasiënte kos kon neem nie. Sy het ook in 2019 afgetree en het tuis gewonder oor die pasiënte en wat haar te doen staan. In daardie tyd het honger mense van Samaria, ’n informele nedersetting in Cassandra in Kimberley, by haar begin aanklop vir kos. Hulle het naderhand te veel geraak en sy het besluit om die omstandighede in Samaria te gaan ondersoek. Baie van die mense wat daar gewoon het, het hulle werk verloor tydens die pandemie, van hulle het ook van ander dorpe gekom en kon nie werk kry nie.

Tuis het sy vir God gesê: “Die bietjie wat ek het sal ek deel, maar ek het self nie.” Sy het Hom gevra om haar te help om vir die mense te sorg. ’n Vrou het nog dieselfde dag vir haar stampmielies, bone, ’n pampoen en kool gebring en Gloria het begin kook. Dit was tydens die inperking en Gloria skerts: “Nou moet jy weet, ons dra die kos hier af met ’n Checkers-trollie!” Hulle was gewapen met maskers en ontsmettingsmiddels en vir Gloria het dit gevoel asof hulle met kos smokkel.

Die mense by Samaria het haar begin vertrou en met haar begin praat oor hulle probleme. “Vandag is dit soos ’n kerk,” sê Gloria. ’n Pastoor van die omgewing het ook een Woensdag saamgegaan om te kyk wat sy doen en daarna het die kerk begin help. Gloria vertel: “Die mense kan nou ook met die pastoor praat oor hulle probleme. Hulle het baie seer.” Daar is soveel getuienisse van mense wat Jesus ontmoet het, heel geword het, gesond geword het en dwelms gelos het, vertel sy.

Gloria en haar span besoek Samaria elke Woensdag om 12:00 met kos en gebed. As daar genoeg kosskenkings is, gaan hulle Donderdag en Vrydag weer.

Gloria lewer ook kos af vir siek mense en bejaardes by ’n karavaanpark in die omgewing. Sy sal graag ook weer kos vir die pasiënte by onkologie wil neem, indien sy die nodige kosskenkings kan kry.

  • Dié artikel het oorspronklik op die digitale tydskrif Goue Munt se webwerf verskyn. Besoek die webwerf indien jy betrokke wil raak. Die oorspronklike artikel is verwerk en verkort.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF