Is jy of jou maat klouerig? Wanneer jy jou maat vra om jou net so ’n bietjie meer ruimte en tyd te gun, word dit dalk as ’n bedreiging beleef. Maar as julle leer om mekaar se behoeftes en belange te verstaan en dit in ag te neem, kan die alleentyd jul verhouding versterk.
Meer tyd sonder jou geliefde is nie noodwendig ’n slegte ding nie. Om langer by jou vriende en familie te kuier, of om te sorg dat jy meer tyd in jou eie geselskap deurbring, is dalk net wat jy (en jul verhouding) nodig het. Dit herlaai dalk ’n klompie batterye wat weer woema in jul saamreis kan sit.
Maar hoe weet jy of jou maat ook so voel?
Julle kan so ’n gesprek begin deur mekaar selfs beter te leer ken. Wat is jul onderskeie dryfvere? En hoe dink jy oor jouself? En oor jou maat?
Ons is nie eenders nie
Irene Haasbroek, ’n multi-dissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê wanneer maats op die verkeerde manier met mekaar praat, ontstaan die risiko dat een of albei hulle van so ’n gesprek sal onttrek.
Wat is dit aan jou maat se persoonlikheidstipe, of aan joune, dat julle sukkel om ’n kompromis te bereik?
Ds Louis Minnaar van die NG gemeente Bellville-Uitsig verkies om eerder van persoonlikheidsvoorkeure as persoonlikheidstipes te praat.
Hy sê: “Die woord ‘voorkeur’ is minder bedreigend. Dit beperk mense nie tot boksies met uitsprake soos ‘dit is nou tipies jý’ nie.”
Dis voorts belangrik om te onthou dat daar nie beter of slegter persoonlikheidsvoorkeure is nie. Hulle vul mekaar aan en dié aanvulling is uiteindelik tot voordeel van die verhouding.
Verskillende mense kry hul energie op verskillende maniere. Louis sê: “Ekstroverte het ander mense in hul lewe nodig, terwyl introverte hul energie kry by dinge soos lees, skilder, houtwerk of om na mu-siek te luister.”
Louis sê dat jy en jou maat mekaar moet ruimte gee. Dit sal dalk help dat julle al twee met nuwe energie gevul word. Dan kan daardie positiewe energie na jul verhouding teruggebring word. “Om ruimte te gee, begin by die kennis oor jou en jou maat se onderskeie voorkeure.”
Daar is egter wel mense wat te afhanklik van die ander een is. In sulke verhou-dings is daar ’n sterk behoefte aan die voortdurende versekering van jou maat se liefde en aandag.
Wanneer die rooi ligte flikker …
Hoe weet ek of ek te “klouerig” is? Kyk na die onderstaande:
- Jy stel nie daarin belang om alleen te wees nie, al het julle reeds so ooreengekom.
- Jy stuur aanhoudend teksboodskappe wanneer jou maat by vriende of familie kuier.
- Jy reageer op ’n onvanpaste manier as jou maat nie onmiddellik op jou oproepe of teksboodskappe reageer nie.
- Jy volg noukeurig jou maat se doen en late op sosiale media. Dis gevaarlik. Wat as nuuskierigheid begin, kan obsessiewe gedrag word.
- Jy “stoomroller” die verhouding, veral as julle nog nie lank bymekaar is nie. Dis amper asof jy bang is jul verhouding sal op die rotse beland as julle nie gedurig saam is nie. Jy wil so gou moontlik verloof raak en trou.
- Jy vra dikwels vir jou maat of sy/hy lief is vir jou.
- Jy is deurentyd op soek na tekens van verwerping in jul verhouding.
- Jy probeer jul verhouding beheer. As julle nie bymekaar is nie, hou jy jou maat se bewegings op jou foon dop.
- Jy kan of mag nie altyd saam met jou maat funksies bywoon nie, maar jy dring daarop aan.
Wanneer jy sukkel om dinge alleen gedoen te kry en byvoorbeeld jou maat na elke sosiale geleentheid wil saamsleep, kan dit gevaarlik wees vir jul verhouding. Sommige gesellighede by die werk, of iets soos ’n jagnaweek, is bloot nie geskik vir ’n paartjie nie. Besef tog dat hoewel jy en jou maat getroud is (of in ’n stabiele verhouding) julle steeds twee mense met afsonderlike behoeftes is.
Waar begin ek?
- Vra hoeveel tyd en ruimte jou maat nodig het om alleen te wees, en hoe gereeld.
- Wat presies word met “tyd en ruimte” bedoel? Vir een is dit ’n kuier een keer per maand saam met vriende, terwyl ’n ander gereeld oor ’n naweek wil wegbreek.
- Probeer om te verstaan wat jou maat nodig het. As jy die een is wat baie tyd saam met jou vriende nodig het, vertel dit vir jou maat. Speel oop kaarte. Bloot ’n teksboodskap kan julle al ver bring om mekaar veilig te laat voel in jul verhouding.
- Probeer verstaan waarom destydse ervarings jou huidige gedrag in jou verhouding beïnvloed.
Daar is ook verskeie persoonlikheidstoetse beskikbaar wat paartjies kan help om mekaar beter te verstaan. Kies een waarmee jy gemaklik is, of dit nou StrengthsFinder of die Myers-Briggs-model is.
Maar moenie jou of jou maat hierdeur in ’n boksie probeer druk nie; gebruik die modelle eerder om insig in jou maat se optrede te verkry. Dié modelle is slegs hulpmiddels waarmee jy jouself en jou maat beter kan leer ken. Dit help julle om wedersydse vertroue en respek te herstel. En dit sal julle help om saam in jul verhouding te groei.
Doen net iets!
Volg jou eie droom! Baie mense is so geneig om hulleself as ’t ware prys te gee sodra hulle in ’n verhouding betrokke raak dat hulle dit later moeilik vind om te onthou wie hulle regtig is.
Doen selfondersoek. Begin deur jou af te vra hoekom jy so afhanklik van jou maat is. Hoekom voel jy angstig as jou maat nie by jou is nie? Is jy bang dat jou maat die verhouding gaan beëindig? Wat maak jou so onseker? Is dit vrees, ’n lae selfbeeld, ’n gebrek aan grense, vorige verhoudingspatrone, die manier waarop jy jou aan jou maat verbind (jou “attachment style”)? Of is dit eksterne stres soos jou beroep, jou gesondheid of ’n familie-aangeleentheid?
Leer om jou maat voldoende alleentyd te gun sonder om sommer allerlei aannames te maak. Net omdat jou maat by vriende kuier, beteken nie dat daar ’n buite-egtelike verhouding is nie. Moenie moontlike (en onmoontlike!) scenario’s in jou kop laat afspeel nie.
Bou aan jou selfbeeld. Jy is ’n mens met unieke behoeftes. Jou maat ook. Dis onrealisties om te verwag dat julle al jul tyd saam moet deurbring.
Praat reguit met jou maat oor hoe jy voel. Verduidelik waarom jy onseker voel indien jy geïgnoreer word as jou maat by vriende is. Of as jy nie gebel word as jou maat die naweek op ’n ander plek deurbring nie. Bespreek wat jou maat kan doen om jou geborge te laat voel.
Probeer om iets prakties te bewerkstellig wat julle sal help om vir mekaar die ruimte te skep wat elkeen nodig het.
Bring genoeg tyd saam met jou vriende en familie deur. Moenie van jou maat verwag om jou gelukkig te maak en in al jou behoeftes te voorsien nie. Ontwikkel die vermoë om onafhanklik te funksioneer. Fokus op jou eie belange, stokperdjies en vriendekring. Aanvanklik is dit dalk moeilik, maar met verloop van tyd kom jy dalk agter dat dit goed is om dinge alleen te doen.
Leer om in die oomblik te leef. Hou op om oor die toekoms te tob en om jou oor allerlei “wat as …”-vrae te bekommer.
Probeer om die balans in jul verhouding te herstel. Breek die ou patrone wat nie vir al twee gewerk het nie.
Oorweeg dit om professionele hulp in te roep. Daar is baie soorte terapeute beskikbaar en allerlei ander moontlikhede om jou te help om jou maat beter te verstaan. ’n Professionele terapeut is ’n goeie begin. Onthou egter dat die proses om ’n balans te vind tussen saamwees en onafhanklikheid nie eenvoudig is nie. Dat dit dalk langer sal duur as wat jy dink.
Lees ook die artikel: My huwelik – kritiseer ek te gou, te maklik?