FOTO: FACEBOOK
“Die liedjie wat my elke dag hoop gee is ‘Voel jy die genade’. Ek (is) net ’n karwag en loop elke dag 5 km en ja, dis net genade dat ek nog lewe. Dankie vir jou sterk geloof wat jy met ons deel.”
So het Charmaine van der Walt, ’n karwag van Durban, KwaZulu-Natal, op Facebook geantwoord nadat die kunstenaar Jo Black aan sy Facebook-volgers gevra het watter van sy liedjies hulle gunsteling is.
Jo Black het Charmaine bemoedigend geantwoord: “Jy is nie net ’n karwag nie, Charmaine – jy is ’n volwaardige Koningskind. Ons almal het ons plek om vol te staan. Maak ’n verskil net daar. Dankie dat jy saam luister na my musiek.”
Jo Black se antwoord het baie ander kommentaar uitgelok. Riki Ferreira van Pretoria-Wes het met Charmaine se liedjie-keuse saamgestem en geskryf: “Ek love dit dat jy haar (Charmaine) so mooi antwoord. Dis alles so waar. Ongeag ons kleur, status of geleerdheid. Ons is een en dieselfde vir God.”
Gebroke ‘kinderhuiskind’ vind vrede: ‘Dis my kans om terug te gee nadat ek soveel seën ontvang het’
Amanda Visser het geskryf: “Jo Black, jy is so ’n diep mens. En jou hart bloei vir elke mens. Jou mooi woorde gee vir ander hoop. Jy is ’n hemelmens …”
Later het Charmaine, wat op haar Facebookbladsy aandui dat sy onlangs alles verloor het, almal vir hulle bemoediging bedank. Maar dat verskeie dinge haar hoop wil steel: “Ons is al vir vyf dae op fase 6 van loadshedding. Ek het drie dae laas geëet. Weet julle, ek het nou vir ’n vrou gevra vir twee snytjies brood. Ek het na haar kar en twee honde gekyk maar sy het gesê: ‘Jammer, ek het nie’. Sy het vier brode by haar gehad. Dis reg. Ek loop nou maar huis toe. Mense vergeet te vinnig. God slaap nie.” – Conette le Roux
- Stuur jou getuienis van hoop in sowat 800 woorde na lig@tydskrifte.co.za. Onthou ook om foto\’s by te voeg.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.