Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Sy weet haar doel is om ’n onderwyser te wees,’ sê man wat 600 km stap om vrou se studieskuld voor gradeplegtigheid te betaal

DEUR MARYKE HANSEN

“Ek sal loop, want ek het dit is onmoontlik, jy kan dit nie doen nie, jy is te oud, te arm al te veel keer gehoor. Ek is heeldag omring deur negatiwiteit,” vertel Lucien Williams (39) van Goodwood oor sy besluit om 600 km in 10 dae te stap.

Hierdie staptog, vanaf Kaapstad-stadion na George, sal op 23 Maart op sy 40 ste verjaarsdag begin, spesiaal om sy vrou Washiela se studieskuld te delg. Alhoewel sy haar studies by Unisa geslaag het, word sy nie toegelaat om te gradueer voordat die rekening van R30 000 vereffen is nie. Lucien en sy vrou het die afgelope drie jaar gesukkel om die Covid-pandemie te oorleef en om kop bo water te hou. Verder het hy ook twee mislukte besighede gehad, twee woonstelle en ’n motor verloor.

“Baie van ons weet nie wat ons doel is tot laat in die lewe nie, maar sý weet haar doel is om ’n onderwyser te wees. Sy voel lewendig wanneer sy met kinders werk en aktief betrokke is by die opvoeding van die toekoms. My doel is dus om haar te ondersteun soos sy my 16 jaar lank al ondersteun. My doel is om haar oor daardie eindstreep te help, om by daardie gradeplegtigheid uit te kom en daardie graad te kry,” vertel Lucien. Foto verskaf

“Ek is ’n normale, getroude ou met twee pragtige dogters. Ek is lief vir God, my familie en fudge – in daardie volgorde. Behalwe dit is ek net ’n gewone ou, glad nie spesiaal nie ten spyte van wat my ma sê … jammer, Ma.” skerts hy op sy webblad.

“Ek het genoeg gehad en daarom wou ek dit doen om aan die nee-sêers te bewys dat jy met die krag van gebed, selfgeloof en wilskrag enigiets kan doen. As pa van twee wonderlike dogters wil ek vir hulle wys dat hulle ook enigiets kan doen as hulle genoeg glo. Ek het nagedink en gebid, en ek het gesoek na die antwoord oor wat ek kan doen, en dit is die antwoord wat ek gegee is.”

LEES OOK: In die droogte sal ons steeds jubel en juig, sê twee boervroue uit ‘Jesus se swietsfabriek’

Hy pak hierdie reis alleen aan, maar lede van verskeie kerkgemeentes het oornagverblyf aangebied.

“Deur my kerk het ek begin om gemeentes van gebiede soos Struisbaai en Gansbaai te kontak om by lidmate se huise oor te bly, want baie hiervan kom uit my sak en ek kan nie bekostig om vir hotelle of backpackers te betaal nie,” het Lucien aan News24 gesê.

Washiela, Lucien se vrou, vertel op die skarebefondsing-webwerf, Backabuddy, dat sy die eerste kind in haar familie is wat ’n graad kry. Haar ouers kon nie bekostig om haar en haar drie broers na ’n universiteit te stuur nie. Sy het befondsing gekry vir die eerste drie jaar van haar studies, wat sy goed geslaag het, maar nie vir haar laaste jaar nie. Daardie selfde jaar, 2021, het sy ook haar werk verloor as gevolg van die Covid-pandemie. Sy het by verskeie biblioteke gaan leer om hulle studiemateriaal te gebruik en moes haar eindeksamen op haar selfoon aflê. In daardie stadium moes alle eksamens aanlyn afgelê word en sy kon nie haar eie rekenaar of internet bekostig nie.

Lucien spog wanneer hy oor sy vrou praat en vertel: “Baie van ons weet nie wat ons doel is tot laat in die lewe nie, maar sý weet haar doel is om ’n onderwyser te wees. Sy voel lewendig wanneer sy met kinders werk en aktief betrokke is by die opvoeding van die toekoms. My doel is dus om haar te ondersteun soos sy my 16 jaar lank al ondersteun. My doel is om haar oor daardie eindstreep te help, om by daardie gradeplegtigheid uit te kom en daardie graad te kry.”

Bystand en donateurs van so ver as San Diego, Amerika het ingestroom ná Lucien se aankondiging op 15 Februarie.

Hierdie staptog kan finansieel ondersteun word deur Washiela se Backabuddy-rekening via die skakel of deur middel van ’n direkte skenking.

Lucien benodig nog gereedskap vir sy stap, maar sê dat sy hart vol is en hulle nederig dankbaar is vir almal wat hulle ondersteun.

Volg lucienswalk op Instagram of Lucien\’s Walk op Facebook.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.