Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Boervrou voltooi sewe jaar lange pennereis deur Bybel

Sewe jaar, 15 balpuntpenne, 1 370 bladsye, vyf boeke vol. Dit is wat dit geverg het om die Bybel met die hand oor te skryf. Wie sou hierdie reusetaak wou onderneem, en hoekom?

Deur René Badenhorst

Esther Scott is 62 jaar oud, ’n boervrou uit Delmas se wêreld, orrelis in haar kerk. Sy besit nou ook die Afrikaanse Bybel se 1983-vertaling – in haar eie handskrif. LiG het haar, so op die vooraand van Bybelsondag*, ’n klompie vrae gevra.

Wat het jou geïnspireer om die Bybel met die hand oor te skryf?

“Sewe jaar gelede het ek die behoefte ervaar om die Bybel met die hand oor te skryf, aangesien ek tot op daardie stadium nog nooit die Bybel deurgelees het nie. Ek het die Here gevra om my die krag en gesondheid en moed te gee om wat ek begin het, te kon voltooi.

LEES OOK: ‘Dis moeilik om oor te begin, maar ons is planmakers,’ sê dié Karooboere

“Daar was ook ’n klompie bekendes in die geskiedenis wat my geïnspireer het terwyl ek al besig was. Onder meer die destydse Amerikaanse president, Abraham Lincoln, wat gesê het: ‘Ek is tans besig om die Bybel tot my eie voordeel te lees. Probeer om alles in hierdie Boek te verstaan en om dit wat jy nie verstaan nie in geloof te aanvaar – jy sal ’n beter mens wees en jy sal ’n beter mens sterf.’

“En die kerkhervormer, Martin Luther, wat gesê het: ‘In die Skrif kan selfs ’n klein madeliefie ’n hele weiveld word. Die Bybel is ons enigste betroubare gids in ’n onbetroubare wêreld.’

“Deur die Bybel met die hand oor te skryf, het ek bewus geword van elke jota en tittel, elke feit en aanhaling, elke spreuk en elke beeld. Ek het die kans gekry om elke sin te deurdink – en wanneer daar onduidelikheid is, dit te ondersoek en tot ’n slotsom te kom.”

Waar het jy die tyd gekry om dit te doen?

“Ek het elke moontlike stil tyd gebruik wat ek kon vind. Dié tydjies het my behoorlik geroep. So het die boekstaander en die oop Bybel en die dik skryfboeke en die leeslig en die balpuntpenne die getuies geword van die drang, die dissipline en die emosionele uitwerking wat die openbaring van die Bybelse inhoud op my gehad het.

‘Ek staan nie net hier vir roosterkoek braai nie,’ sê tannie Poppie van Laingsburg

“Ek het nooit opgehou nie, ek het nooit getwyfel of ek moet voortgaan nie. Die uitdaging het ’n plesier en ’n vreugde geword. Ek wou daagliks meer weet en dieper delf in die rykdom van God se Woord.”

Was daar enige uitdagings of struikelblokke met die skrywery?

“Ek het geen struikelblokke ervaar nie. Dit was vir my ’n prioriteit om die projek te voltooi, met die wete dat dit my geestelik sou opbou en met kennis van die Woord sou vul. Ek het ook nie toegelaat dat iets my aanjaag om klaar te maak nie. Ek wou duidelik hoor wat die Bybel sê.”

Wat het jy in die hele proses geleer?

“Ek het deurlopend kantaantekeninge gemaak, en persoonlike opmerkings oor interessanthede en spesifieke gedeeltes wat my geraak het. Ek het tot die slotsom gekom dat die Bybel ’n onuitputlike bron van kennis en inligting is en dat dit ons groot geestelike verryking bied. Kennis is mag; dit rus ons toe om seker te wees van die dinge wat ons wil weet. En om te weet, is om te glo.”

Watter dinge in die Bybel het met hierdie oorskryfproses vir jou uitgestaan?

“Op elke bladsy was daar iets wat soos juwele op ’n strand blink. Dr Kobus van der Westhuyzen, wat gereeld in Landbouweekblad skryf, het op ’n keer die volgende gesê: ‘Hierdie Boek van alle boeke is soos ’n ryk goudmyn wat net nooit leeg gedelf kan word nie.’

“Ek het ontdek dat daar tragedies, blyspele, humor, liefde, haat, jaloesie, simpatie, en, ag, ál die fasette van menswees daarin voorkom. En dat dit alles deur God gebruik word om mense in sy diens te gebruik om Hom te verheerlik. God doen wat Hy wil, want Hy is God. Die heelal gebeur rondom Hom.”

 

Wat is jou gunstelinggedeelte in die Bybel?

“Seker maar soos duisende ander mense s’n – Psalm 23. Ek kon dit reeds as nege­jarige dogtertjie uit die vuis opsê. En wanneer ek in nood verkeer het, was dié psalm se gedagtes die eerstes wat by my opgekom en my vertroos het. Ook elke vers waar musiek of lofsang aangehaal word, is vir my spesiaal.”

Wanneer het jou pad met die Here begin?

“Vandat ek my verstand gekry het, loop ek ’n pad met die Here. Alle eer aan gelowige ouers en grootouers! Maar ek besef elke dag my menslike swakhede en sondige natuur, en my totale afhanklikheid van God.

“Elke jaar, elke maand, elke dag, is genade. Ek wil daardie genade gebruik om tyd saam met my Skepper deur te bring. Namate ’n mens ouer word en die tekens sien en voel van ’n lewe wat besig is om vol te loop, moet ons ons genadetyd gebruik om nader aan God te leef.

“Uit ondervinding weet ek hoe God my seën en liefhet. Ek weet ook dat wanneer ek wegdwaal, Hy my kom haal en na Hom toe terugbring.

“En nou dat ek die skryfwerk voltooi het, begin ek oor, begin ek weer, en nóg ’n keer, om die Here te dien. Ook met sang en musiek en deur al my talente. Ek delf elke dag in die goudmyn wat God se Woord vir my is. Ek leef uit sy genade. Aan Hom al die eer!”

*Sê dankie op Bybelsondag!

Baie Afrikaanse kerke herdenk elke jaar die laaste Sondag in Augustus as Bybelsondag. Dit spruit voort uit daardie Sondag, 84 jaar gelede, toe die eerste Afrikaanse Bybel amptelik in gebruik geneem is. Dit was tydens ’n feestelike geleentheid in Bloemfontein, op 27 Augustus 1933.

Nóg agt pennereise deur die Bybel

Intussen het LiG-leser Johan van Zyl ons gekontak en laat weet van nog agt mense wat die Bybel met die hand oorgeskryf het:

Lukas Barnard, gebore in 1914, was van Nylstroom en het tussen 1987-1988 die Bybel eiehandig uitgeskryf. Lukas is intussen oorlede maar sy handgeskrewe Bybel word tans deur sy seun in die Kaap bewaar.

Koos Steyn, gebore in 1920, was ’n afgetrede polisieman en het sy skryfwerk gedurende 1999-2000 op Middelburg, Kaap gedoen.

Pietie van Schalkwyk (90), ʼn plaasboer van Ficksburg, het sy skryfwerk gedurende 1988-2001 gedoen. Sy voltooide handgeskrewe Bybel is in die besit van sy seun op Delmas.

Drien Adler (82) was van Johannesburg en sy het die Bybel gedurende 1984-1988 uitgeskryf. Haar seun in Johannesburg hou haar handgeskrewe Bybel by hom in bewaring sedert haar afsterwe.

Jan Ras (80), tans emerituspredikant van die Gereformeerde Kerk, het in 2008 begin om die Bybel met die hand uit te skryf en het dieselfde jaar nog daarmee klaargemaak. Sy handgeskrewe Bybel is tans in sy besit op Vredenburg.

Johan van Zyl (71) is afgetree en woon in Gordonsbaai. Hy het in 2008 op ’n “reis” van sewe jaar gegaan en die Bybel op ’n besondere manier uitgeskryf: met inkpen, in blokletters, en op kunsmatig-vergeelde bladsye van A5-formaat. Hy het ook elke Bybelboek van ’n geskilderde voorblad voorsien.

Thea Marais (68) van Edenville, Vrystaat het in 2007 van \’n ernstige siekbed herstel en besluit om uit dankbaarheid dié groot taak aan te pak. Sy het die uitskryf van die Bybel in 2009 voltooi.

Annelie Coetzee (59) van Bloemfontein het in September 2010 begin en in Februarie 2014 die uitskryf van die 1983-vertaling voltooi. Die dryfveer was haar deelname aan die Uitsig-gemeente se Bybelskryfprojek.

Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Bou ’n Toekoms

Belê in ’n Christelike toekomsplan en laat iets aan die volgende generasie van gelowiges na…

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF