Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Ek leer my dogtertjies ’n mooi gesiggie kan jou net só ver bring’

Sy is die doodgewone meisie wat langsaan woon – en tog ook nie. Sy is die gewilde TV-persoonlikheid en ‘influencer’, maar ook die liefdevolle ma en selferkende huishen. Sy is die skoonheid met die perfekte glimlag en die modellyf – en ook veel meer as dit.

DEUR FRANCINE PRINS

Dit moes haar ouma Dinah se woorde gewees het wat gesorg het dat Minki nie bloot ’n mooi model is wat gekom en gegaan het nie. Dié woorde het in haar hart bly vassteek: “Mooi vergaan, maar deug bly staan.”

Sy wil dít graag vir haar drie dogters, Katerien (7), Elise (6) en Elsa (3) leer, sê Minki. Dat ’n mooi gesiggie jou net só ver bring. “Om verder in die lewe te vorder, om dieper verhoudings en ’n volhoubare loopbaan te hê – daardie dinge gebeur wanneer jou hart reg is, en jy bereid is om altyd ’n ietsie meer te doen, die ekstra myl te loop.

“Dis mos hoe dit met kinders is: Hulle doen wat jy doen. En dis nie altyd so maklik vir ’n ma nie, hoor!

“Maar in ’n wêreld wat so op die uiterlike gefokus is, probeer ek om gereeld met hulle oor innerlike krag te praat, oor die dinge wat éintlik belangrik is.”

’n Buitengewone jaar

Die Covid-19-pandemie het die wêreld, ook Minki s’n, behoorlik op sy kop gekeer. Vir haar het dit onder meer ingehou dat ’n fotosessie in Parys saam met die mode-ontwerper Stephen van Eeden afgestel moes word.

“Maar op ’n meer persoonlike vlak was dit vir my en my gesin eintlik ’n wonderlike jaar. ’n Jaar van rus, waartydens ons gesin gehaltetyd saam met mekaar kon deurbring.

LEES OOK: Lindie Strydom: ‘Ek is nie ’n goeie bidder nie, maar ek kan soos ek is na God gaan’

“Ons jongste, Elsa, se liefdestaal is gehaltetyd, en ek kon sien hoe sy die afgelope jaar floreer het. Katerien en Elise natuurlik ook.”

Minki en haar man, Ernst Joubert, moes ook inspring en onderwyser speel vir die twee oudste spruite. “Hier moet ek my man die eer gee,” vertel sy. “Hy het baie met die tuisonderrig gehelp. Ek het vir Katerien les gegee, en Ernst vir Elise.”

Sy lag effens as sy daaraan terugdink: “Ek is soms ongeduldig as hulle iets nie dadelik snap of regkry nie. Dis immers hul grondslagfase, en lees en skryf moet nóú vasgelê word. Maar dan herinner ek myself ook daaraan dat hulle slegs in graad 1 en graad R is.

“Hoe ook al: Tuisonderrig was vir ons, soos seker vir alle ma’s en pa’s, ’n groot uitdaging.

“Die pandemie en die gepaardgaande inperking het my weer laat besef dat niks in jou hande is nie, absoluut niks nie. Jy kan beplan, jy kan drome koester. Jy kan dink jy is in beheer – maar uiteindelik is dit God wat in beheer is. Niks betrap Hom onverhoeds nie.”

Nie net glans en perfeksie nie

Dis nie die eerste keer dat Minki op LiG se voorblad verskyn nie. Sedert 2013 was sy nie minder nie as vier keer ons voorbladvrou. En elke keer loop daar dié goue draad deur haar gesprekke: Sy is gaande oor mawees, sy is gelukkig getroud. En sy staan in dankbaarheid teenoor God vir die beroepsgeleenthede wat Hy vir haar laat oopgaan het.

“Die afgelope klompie jare is my grootste fokus om my drie dogtertjies groot te maak,” vertel sy. “Daar is nie regtig tyd vir ander dinge nie.”

Dis dalk juis waarom ons lesers so graag oor haar lees of haar op sosiale media volg: Alles wat om Minki plaasvind, is nie bloot glans en perfeksie nie. Sy is ook ’n ma wat ál die lewe se verwagtinge met mekaar moet balanseer.

“Natuurlik is dit lekker om die perfekte foto op Instagram te plaas! Maar dis nie volhoubaar nie. So tussendeur wys ek wel die glans en die roem, maar eintlik draai my lewe om my gesin.”

Baie vroue kan hulle hiermee vereenselwig, en die egtheid waarmee Minki haar lewe met ander deel, maak haar gewild. “Ek probeer nie voorgee nie,” sê sy. “Daarvoor is die wêreld net te vol onnatuurlike en ‘fake’ dinge.”

“Ek wil eendag werk tot ek 80 is!” sê Minki. Foto: Salomien Smal

Sy dra lig

Die onderhoud vir hierdie artikel vind in sarsies plaas – nóg ’n gevolg van Covid-19. Eers antwoord Minki ’n klompie vrae met stemboodskappe, en daarna gesels ons so tussen die grimeerkwaste en kameras deur terwyl sy vir LiG se voorblad gefotografeer word.

Dis die sóveelste keer in haar lewe dat Minki vir die kamera gegrimeer word. Sy neem spontaan deel aan alles wat moet gebeur om die foto’s perfek te kry. “Ek wil eendag werk tot ek 80 is,” lag sy.

“My rolmodel is Maye Musk, Elon Musk se ma. Sy is al amper 80, en sy doen steeds modelwerk.”

Om ’n loopbaan in die openbare oog te hê wat so volhoubaar soos Minki s’n is, vereis ’n paar dinge: Geloofwaardigheid en harde werk is twee daarvan. Respek vir mense is nog een. Voeg daarby ’n positiewe uitkyk op die lewe, ’n kop wat reg aangeskroef is.

O, en jy moet tog nie alte fyngevoelig wees nie …

Al hierdie dinge is by Minki teenwoordig.

LEES OOK: Lindie: ‘Ons groot skuif net nog ’n tree agter Jesus aan’

Asook dít: “As dinge nie vir my uitwerk soos ek beplan het dit moet nie, is ek teleurgesteld, ja. Maar ek kan gou daarby berus, en dit gee my vrede. Hoe gouer jy vrede maak, hoe gouer vind jy rus vir jou siel.”

’n Wonderlike loopbaan

“Ek leef met groot verwagting, en ek is vol hoop vir die jaar wat voorlê. Ek dien ’n almagtige God, en ek weet dat sy planne reeds vir my uitgelê is.

“Ek weet in my hart en siel dat elke geleentheid wat ek kry van Hom af kom. As die geleentheid dan opduik, doen ek alles met oorgawe en tot die beste van my vermoë.”

Meer as ooit, vertel Minki, is sy dankbaar vir haar verskillende sosiale media-platforms. Dit was as gevolg hiervan dat sy tydens die inperking steeds ’n inkomste kon genereer.

“Ek is regtig dankbaar, sonder ophou dankbaar, want God het my ’n wonderlike loopbaan gegee.”

“Tyd vir my gesin”

Minki sê dat sy, soos baie ander ma’s, sukkel om genoeg tyd vir haar man en kinders in te ruim. “Drie kinders is méér as ’n handvol!

“Maar net nadat Elsa gebore is, het ons met ‘alleentyd’ begin. Dis die tyd wat ek met elke dogtertjie afsonderlik deurbring.

“Deesdae sal een van hulle maklik sê: ‘Ek wil alleentyd hê.’ Dan sal ons twee gaan piekniek hou of ’n koeldrank drink. Alleentyd sluit gewoonlik ’n lekker of roomys of koeldrank in.

LEES OOK: Resepte: Warm (gesonde) trooskos

“Ek is ook in my huwelik goed daarmee om te sê wat ek nodig het. Ek en Ernst probeer gereeld om spesiale tyd saam te hê, soos ’n ‘date night’ of ’n naweek wat ons saam weggaan.

“Gewoonlik het ons darem ook ons spesiale tyd saam wanneer die kinders gaan slaap. Maar noudat hulle nie vroeg hoef op te staan om skool toe te gaan nie, gebeur dit ook nie aldag nie!”

Vol tenkies

“Baie genade, baie liefde en genoeg sekuriteit – dís hoe ’n mens ’n gelukkige kind grootmaak,” sê Minki. “Daar is só baie dinge wat ek ter wille van my kinders se geluk sal opoffer …

“Dis vir my belangrik dat hulle ’n voorbeeld kry van ’n ma en ’n pa wat vir mekaar lief is, wat saam kerk toe gaan en bid, wat vir Jesus lief is. Dat hulle grootword in ’n gesin wat saam tyd deurbring en saam dinge doen.”

En hoe hou Minki haar eie emosionele tenk vol?

“Ek vra nie veel nie. ’n Halwe dag vir myself of ’n middagete saam met ’n vriendin – en dan is my tenk weer vol. Gelukkig het ek ’n wonderlike vrou wat by my werk, Lisa Mpofu. Ek kan my kinders met ’n geruste hart in haar sorg laat en ’n blaaskansie kry.”

  • Dié artikel het in die 2021-Paasuitgawe van die gedrukte LiG verskyn.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF