Die tienjarige Zhara du Toit van die Strand laat nie toe dat ’n seldsame kanker haar onderkry nie. Sy kies om nie op die aggressiewe gewas, wat in die membraan om haar longe voorkom, te fokus nie. Om haar aandag eerder op ander kankervegters toe te spits.
Dié wyse graad 5-leerling van Laerskool Lochnerhof gee graag raad aan ander kinders wat aan kanker ly. Sy sê: “Jy is Jesus se skapie, en Hy sal jou oppas. Jy is ’n fighter, jy kán dit doen. Ek weet jy is hartseer omdat jy sekere dinge nie kan of mag doen nie, maar kry vir jou iets anders wat jou opgewonde maak. Loods ’n projek, pak kunsklasse aan, of begin met enigiets anders waarna jy kan uitsien.”
Dit is presies wat Zhara self gedoen het.
Die onsekerheid is die slegste
Zhara is in Januarie vanjaar met pleuropulmonêre blastoom gediagnoseer. Die dokters het aanvanklik gedink sy het longontsteking. Maar toe het hulle ’n groot sist opgemerk. En tydens die verwydering hiervan en ná ’n biopsie is vasgestel dat dit kanker is.
LEES OOK: In die droogte sal ons steeds jubel en juig, sê twee boervroue uit ‘Jesus se swietsfabriek’
Voor die operasie het haar tannie vir haar ’n sagte speelding gegee, ’n skapie. Dit moes Zhara daaraan herinner dat sy Jesus se skapie is en dat Hy haar herder is.
Terwyl Zhara in die hoësorgeenheid herstel het, het sy ’n vier maande oue babatjie, wat uit die Kongo afkomstig is, baie jammer gekry. Zhara het ook ’n sagte hasie by haar gehad en sy het dié vir die kleinding gegee. En só het die Skapie-projek begin.
Zhara het net ná haar eerste chemoterapiesessie – ’n behandeling wat altesaam 36 weke lank gaan duur – via stemboodskappe met LiG gesels. Hulle glo egter haar pad van behandeling gaan korter wees, het haar pa Johan vertel. Hy het ook vooraf laat weet dat dit juis nou ’n swaar tyd is omdat Zhara pas haar hare verloor het.
Zhara gee toe dat haar nuwe omstandighede nie maklik is nie: “Vir my is die onsekerheid die slegste,” sê sy. “Die situasie verander die hele tyd. Ek kan nie netbal of tennis speel nie. Ek mis kaskardag en atletiek by die skool. Ek mis my klasmaats en my vriende. Die idee dat ek skielik siek kan word en hospitaal toe moet gaan, maak my bang. Dit voel asof ek nie kan ontspan nie.”
Maar dan, eensklaps, verskuif haar fokus: “Die skapie-projek gee my hoop,” sê sy. “Elke keer as daar ’n skapie* aankom, is ek opgewonde. Dis nie só sleg om gereeld hospitaal toe te moet gaan nie, want eintlik kan ek nie wag om ’n skapie vir iemand anders te gaan uitdeel nie.”
Sy verklap ook dat sy nou haar tyd tuis gebruik om ’n boek te skryf, waarin sy ander kankerslagoffers wil bemoedig.
‘Dit gee ons krag …’
Hoewel Zhara se ouers dankbaar is dat sy so positief is, is dit vir hulle origens ’n baie moeilike tyd. Haar ma Zachary sê: “Om te sien hoe Zhara, wat net tien jaar oud is, soveel emosies moet verwerk, is swaar. Al die seer wat sy gehad het – toetse, operasies, chemoterapie … Ek wens ons kon dit van haar weggehou het.”
Maar die Du Toit-egpaar, wat ook pa en ma vir Annelize (8) en Beatrice (6) is, is vol hoop. Hulle hou vas aan Jesaja 35:10, wat Johan reeds in 2004 van die Here ontvang het, en hulle glo dat “ellende en smart sal verdwyn”.
“Van ons vriende het ook dié Bybelvers aan ons gestuur en gesê die Here het dit vir hulle gegee,” vertel hulle. “Dit gee ons krag om te weet dat wanneer ons swak is, ons vriende vir ons met hul gebede intree. Ons kry ook die regte boodskappe op die regte tyd. Ons het vriendinne en vriende wat ons gedurig bemoedig.
“Ons het ook hoop omdat daar fantastiese dokters in ons land is. Zhara het by baie bekwame medici beland. Ook ons land se mense gee ons hoop. Daar is etlikes wat ons ondersteun: Ons word bemoedig deur die kelnerin in die hospitaal se kafeteria, die assistent agter die toonbank in die apteek, die suster langs Zhara se bed. Almal dra ons deur hierdie moeilike tyd.”
*Zhara se Skapie-projek laat flits die hekel- en breipenne regoor Suid-Afrika. Talle mense maak só skapies, sodat Zhara hierdie sagte speelgoed aan ander kinderpasiënte, voor groot operasies of tydens enige siekbed, kan uitdeel.
- Zhara het ’n beroep op LiG-lesers gedoen om te help brei of hekel aan skapies wat sy kan uitdeel wanneer sy chemoterapie ontvang. WhatsApp Juanita by 071 685 9142 vir ’n patroon, of vir die adres waarheen die voltooide skapies gestuur kan word.
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.