Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

Dogter se skokbesef: ‘Ek het my ma liefgehad, maar nooit werklik geken nie’

Die moeder-dogter-verhouding is een van die kosbaarste verbintenisse op hierdie aarde. Hoe gebeur dit dan dat soveel ma’s as ’t ware ’n vreemdeling vir hul dogters bly? Hoekom word daar soveel geleenthede verbeur om mekaar beter te leer ken? En, belangrik, kan dié situasie omgekeer word?

Ek onthou hoe ek ná my ma se dood op ’n boks vol foto’s afgekom het – sy in haar jong dae. Ek het vol verwondering daarna gekyk: Wie is die meisie in die bikini? Waarheen het sy gereis?

Dit het byna gevoel asof ek na foto’s van ’n vreemdeling kyk. Ek het besef dat ek nie veel van daardie vrou weet nie. Dit was nogal onthutsend. Sy was my ma en ek het haar liefgehad, maar ek het haar nooit werklik geken nie. Sy het maar min oor haar jong dae gepraat, en aan die einde van haar lewe het die gesprekke wat ons toe moes gehad het ook nie plaasgevind nie.

En dit het my laat dink. Ek wil hê my dogtertjie moet my eendag werklik ken. Anders as ek wat nou so bitter min van mý ma weet.  

Só kan dit anders word

Hoe gebeur dit dat soveel dogters, nadat hulle volwassenheid bereik het, skielik besef dat hulle nie hul ma ken nie? Is daar ’n manier om dit anders te maak?

LEES OOK: 2024 se mees gelese getuienisse: Ma se berou en twee vroue se stryd ná man se selfdood, tikverslawing

Daar ís, ja. Kenners beveel, onder meer, die volgende aan:

1. Wees oop vir die verandering(s) in jul verhouding                                                                                                 

Geborg

Wees sensitief vir die spanning tussen outonomie en nabyheid, en hoe dit verander namate julle al twee ouer word. Praat openlik oor hoe julle jul verhouding beskou en beleef, en oor watter grense vir elkeen belangrik is. Probeer om vrou-tot-vrou met mekaar te gesels, eerder as ouer-tot-kind.

2. Praat oor die verlede                                                                                                                                            

’n Ma is net ’n mens, en mense maak foute. As jy reken dat jou ma nie reg teenoor jou opgetree het toe jy ’n kind was nie, probeer om ’n eerlike gesprek daaroor met haar te hê.

Hou in gedagte dat sy ook baie dinge “reg” gedoen het, dinge waarvan jy dalk nie eens bewus is of was nie. Indien jy kies om dié soort gesprek aan te voor, vertel haar van jou emosies oor die destydse gebeure, eerder as die “feite” soos jy dit onthou.

As daar dinge uit jou grootwordjare is wat steeds pla, neem self verantwoordelikheid en takel daardie kwessies pro-aktief.

3. Bring saam tyd deur                                                                                                                                               

Karen van Niekerk, ’n kliniese sielkundige in Pretoria, sê: “Tyd, tyd, tyd. Ja, daardie kosbare gehaltetyd is broodnodig vir ’n gesonde verhouding tussen ma en dogter.

“Maar onthou ook die geleenthede wat julle kan aangryp om doodgewoon tyd by mekaar deur te bring. Sommige loer dalk in vir ’n vinnige koffie, terwyl ander met ’n daaglikse telefoon- of video-oproep volstaan. Die hoe is minder belangrik as die dat.”

Karen beklemtoon die waarheid dat ‘n verhouding slegs kan groei wanneer sowel die ma as die dogter veilig genoeg voel om in hul broosheid by mekaar te wees, sonder vrees vir veroordeling. Allerlei tegnologiese hulpmiddels maak dit deesdae maklik om gereeld saam te wees, al is dit virtueel. Karen sê: “Dis belangrik om mekaar in die oë te kyk.”

4. Laat ruimte vir mekaar                                                                                                                                              Laat ruimte vir elkeen se individualiteit; jul verskille hoef nie ’n bedreiging vir jul verhouding te wees nie. Moenie bang wees om jouself te wees, jou mening te lug of jou eie keuses te maak nie. Hoe meer julle mekaar se uniekheid kan vier en binne ’n vertrouensverhouding jul onderskeie standpunte handhaaf , hoe groter sal jul waardering vir mekaar word.

5. Reis saam                                                                                                                              
Dalk moet julle ’n slag ’n eksotiese eiland besoek, of ’n droombestemming kies, of ’n doodgewone dagbesoek aan ’n naburige dorp bring. Die punt is: Reis ’n keer saam met jou ma. Reis skep gedeelde stories. En stories is die bedding waarin nabywees floreer.

Beplan ’n gesamentlike uitstappie, of oorweeg dit om saam met jou ma haar grootwordplek te besoek. Neem baie foto’s. En skep vir elkeen ’n fotoalbum of -boek van julle avonture.

6. Doen ook ander dinge saam                                                                                                                                                                                                 Hier is ’n oneindige aantal moontlikhede: saam kosmaak; saam stap; saam na ’n manikuur-afspraak gaan; saam uiteet.

’n Vriendin vertel dat sy en haar ma graag saam gaan fliek: “Ek onthou dat ek destyds my ma geneem het om die Barbie-fliek te gaan kyk. Dit was interessant om haar reaksie dop te hou. Ons kon ná die tyd lekker oor die fliek gesels. Ek het daardie dag baie oor my ma geleer.”

Geborg

7. Luister na mekaar, selfs al verskil julle van mekaar                                                                                                                                                      

Wees eerlik met mekaar. Knoop doelbewus oop gesprekke aan, met die uitgesproke doel om mekaar se sienings en behoeftes beter te verstaan.

8. Wys jou waardering                                                                                                                                                       

Doen dit met ’n WhatsApp-boodskap of dalk ’n bossie blomme. Ook hier geld daardie ou cliché: Moenie wag vir haar begrafnis om dankie te sê vir wie sy is en vir wat sy deur die jare vir jou gedoen en beteken het nie. En moet tog nie uitstel nie … 

9. Wees nuuskierig                                                                                                                                                             

Vra haar uit. Stel werklik belang. Stel ’n lysie vrae op* en vra haar dan, elke keer as julle gesels, ’n vraag of twee. Enigiets: Van “hoe oud was Ma toe jy die eerste keer gesoen is?’ tot “vertel my die verhaal van Ma se geloof”. Dalk kan jy haar antwoorde neerskryf en dit bêre.

10. Vra haar hoe sy oor jou dilemma dink                                                                                                                     

Selfs al vermoed jy sy sal nie jou probleme verstaan nie, vra haar nietemin hoe sy daaroor dink. Jy mag dalk net verras word oor wat sy te sê het; die kanse is immers goed dat sy voorheen dieselfde of ’n soortgelyke tameletjie moes hanteer.

11. Verbind aan mekaar, en tog uniek. Vier dit!

Ons gebruik dikwels ons moeder as verwysingspunt om onsself te vind. Dan hoor ons onsself sê: “Ek is darem glad nie soos my ma nie!” Of: “Sjoe, ek klink so baie soos my ma, ek kan dit skaars glo!”

Die waarheid is dat ons tegelykertyd op twee plekke kan wees. Oftewel, ons kan ons identiteit aan ons ma ontleen, en terselfdertyd ons unieke passie en persoonlike oortuigings volg. Dit is iets om te vier: Ek is vir seker my ma se kind, maar ek is ook my eie mens.

Moontlike vrae aan jou ma

– Vertel my van jou eerste liefdesteleurstelling.

– Hoe en waar het jy en Pa mekaar ontmoet?

– Was daar iewers ’n reisbelewenis wat jou perspektief op die lewe verander het?

– Het jy ’n emmerskoplys? Hoeveel items daarop het jy al afgemerk?

– Wat is die moeilikste besluit wat jy al ooit moes neem?

Geborg

– Wat is vir jou die mees bevredigende deel van moederskap?

– Wat is die waardevolste les wat jy by jou kinders geleer het?

– Watter raad sou jy gee aan ’n paartjie wat dit oorweeg om met ’n gesin te begin?

– Is daar enigiets wat jy, as ouer, wens jy het anders gedoen?

– Hoe het ouerskap jou as mens verander?

– As jy een dag uit jou verlede kon herleef, watter dag sou dit wees? Waarom?

– Hoe het jy as jong mens mislukkings of terugslae hanteer?

– Watter lewenslesse het jou mislukkings jou geleer?

– Vertel my van jou grootste seerkry.

– Waaroor is jy baie spyt?

– Waarvoor is jy deesdae bang?

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF