Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

‘Aan dié wat eensaam agterbly ná selfdood: Jy is nie alleen nie’

Het ek ooit gedink selfdood sal ’n deel van my en my man Jaco se storie wees? Nee! ’n Besliste nee!

Kyk episode 47 van LiG: God se krag in my krisis waarin Christia haar hart oopmaak en die seer deel nadat haar sielsgenoot selfdood gepleeg het.

Ongelukkig is daar op 28 Januarie 2020 ’n onverklaarbare besluit geneem en Jaco het ’n einde aan sy lewe gemaak.

Mense vra my dikwels of ek vir hom daaroor kwaad is, maar ek kán nie vir hom kwaad wees nie. Kan jy jou indink hoe moedeloos my mooie man moes gewees het om tot so ’n besluit te kom? Hoe hard hy moes werk om dit so goed weg te steek dat niemand besef het daar is fout nie?

LEES OOK: ‘Genade en nog genade ná my ma se selfdood’

Hy was ’n wonderlike mens, iemand wat graag ander mense gehelp het. Hy het sóveel van homself vir ander gegee …

Maar dit ís so dat alles wat ons geken het, ons hele lewe, op daardie dag verpletter is. Dit maak steeds nie sin nie, maar ons probeer ons bes om voort te beur, elke dag.

Alles het verander. Die mens by wie jy geborge en geliefd gevoel het, is skielik weg. En daar is duisende vrae. Ook skuldgevoelens: Wat het jy misgekyk; wat het jy nie aangevoel nie; wat het jy nie verstaan nie?

Hoe kón dit gebeur? Hoe het dit óns storie geword?

Die seer gaan nooit weg nie. Dis soos ’n gat in jou wat dreig om jou in te sluk. Maar op ’n dag besef jy dat jy moet kies wat jy met die seer en die hartseer wil maak.

Jy kan kies om daarin verlore te raak; dit sou die maklikste wees. Of om jou oor te gee aan ’n lewe vol skuldgevoelens en nimmereindigende hartseer. Maar wat dan?

Dis waar YouMatterWalk in die prentjie kom, want ek kies hoop!

Ek het saam met Ilse Meiring en Carla de Jager besluit om iets te doen wat ander gesinne kan help om óf te voorkom dat hulle deurmaak wat ons deurmaak, óf om dit te verwerk.

Pas ná Jaco oorlede is, het ek na hulp en ondersteuning gesoek. Ek wou iemand hê om my met hierdie gekompliseerde rou te help, maar ek kon nêrens regkom nie. Ek het die idee gekry dat niemand oor selfdood wil praat nie. En ek het gevind daar is baie min ondersteuningsgeleenthede vir mense wat direk deur selfdood geraak word.

En toe kom Covid-19 en die inperking, en daar was geen geleentheid om by iets nuuts betrokke te raak nie. Daarom het ek begin om aanlyn te soek, en ek was verras om te ontdek hoeveel Facebookondersteuningsgroepe daar in die VSA is vir mense wat deur selfdood geraak is. Ek het by almal aangesluit, en dis verstommend om soveel mense se hartseerstories te hoor en te besef hoeveel in dieselfde bootjie as ek is. Dit was ’n groot troos om te ontdek ek is nie alleen nie. Om te kon sien dat ons almal met dieselfde vrae, skuldgevoelens en pyn worstel.

Dis op een van hierdie Amerikaanse ondersteuningsgroepe waar ek nog ’n Suid-Afrikaner ontmoet het – Ilse. Ons het afgespreek om mekaar in Centurion te ontmoet, en ons het gou ontdek ons onderskeie mans is enkele maande van mekaar oorlede. Die wedersydse omgee en verstaan het ons al twee so baie gehelp.

Ons het saam met Carla besluit ons wil graag iets doen wat hoop vir ander kan skep. Om hulle te wys hoe om by die regte plekke uit te kom waar hulle gehelp kan word, onder meer deur middel van die virtuele ondersteuningsgroepe.

My pad na genesing is steeds in ’n vroeë fase; ek leer nog om te kruip. Maar saam met God, my familie, goeie vriende en die YouMatterWalk se hoop-aksie, vind ek elke dag nuwe redes om nóg ’n tree op my pad na genesing te gee.

  • Christia is ’n opleidingsbestuurder in Pretoria. Sy het twee dogters, Janica (17) en Izette (22).
  • YouMatterWalk gaan nie oor ons, die drie stigterslede, nie; dis wel uit ons onderskeie stories gebore. Ons kies om hoop te skep, al is ons steeds stukkend. Die doel is om ander mense te help, dié wat moet deurmaak wat ons deurmaak. Ons wil ook diegene help wat met selfdoodgedagtes stoei. Want dis in albei gevalle ’n baie eensame paadjie. Ons wil ook die stigma rakende selfdood help verwyder. Ons wil mense aanmoedig om gemakliker oor geestesgesondheid te praat, en om dadelik hulp te soek. Besoek http://youmatterwalk.co.za. Of soek “YouMatterWalk” op Facebook en You_matter_walk op Instagram.
Geborg

Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.

Projek 108

Ons wil ‘n dringende beroep op medegelowiges doen om ons te help om die Evangelie te versprei – voordat dit te laat is. Jou donasie kan iemand se storie herskryf – nou en hierna…

Hulle Wag

Ons kan die rede wees dat iemand vir die eerste keer vir Jesus leer ken…

Kinderpret-leesreeks

Beleef ‘n avontuurlike leesreis met ons Kinderpret-leesreeks! Vir jong lesers, elke boekie vol pret en leersame avonture…

Kinders van die Lig

Gee geloof en hoop aan kinders deur geloofsboeke in kinders se hande te plaas…

Laat ‘n Ligspoor

Help ons om die boodskap van lig uit te dra en verander kinders se lewens deur die krag van stories…

BybelBouBlokke

Bou saam aan ‘n geestelike toekoms deur die geloof van kinders, gesinne, en lidmate te versterk…

KinderKersKous

Gee ’n geskenk van hoop aan kinders deur hulle lees-met-begrip-vermoë te bevorder en hul geestelike ontwikkeling te ondersteun…

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF