Twee jaar gelede het Lillibet Jordaan, ’n geliefde boervrou van Montagu, haar eie lewe geneem. Haar familie is daardeur tot stilstand geskok. Soos ook die ganse gemeenskap. Lillibet se oudste dogter het haar hart vir LiG oopgemaak.
DEUR DEONETTE DE KOCK
“My ma was ’n borrelende en positiewe mens wat uitdagings gaan soek het. Sy was nooit negatief of depressief nie.”
Só gesels Lize Rossouw (44), ’n boervrou van die plaas Brookhill in die Koo buite Montagu. Sy is getroud met Freek, en die ma van twee kinders, Elizabeth (13) en Daniel (12).
Lize is die oudste van vier sussies. Die ander drie is Helen (43), Tena (40) en Minke (35) – en hulle almal het ’n hegte band met hul ma gehad.
LEES OOK: ‘Dis moeilik om oor te begin, maar ons is planmakers,’ sê dié Karooboere
Lize se goudbruin krulle is ’n trotse kroon wat sy by haar ma geërf het. “Ek praat en raas nog dikwels met haar. Dit was so onnodig; sy het ons van so baie ontneem deur haar lewe te beëindig …”
Liefdevol, betrokke by almal
Lillibet was 45 jaar lank met haar man Charl getroud en hulle het op die plaas De Erf, vlak teen Montagu, gewoon. Hier het sy haar vier dogters grootgemaak en haar rol as ouma van ses kleinkinders besonder baie geniet.
Lize vertel: “Sy was nie ’n tradisionele ma nie, sy kon nooit stilsit nie. Sy het altyd ‘buite die boks’ gedink en gedoen.
“En jy sou haar nooit sonder haar rooi lipstick sien nie! Die kleinkinders was altyd vol rooi soenmerke. Sy was ’n betrokke ma en ouma. Liefdevol.”
LEES OOK: ‘Die dood van ’n kind is nie ’n lewenslange vonnis nie’
Lillibet was ook by die plaaslike kankervereniging se hulpsorg betrokke. Sy was lief vir tuinmaak, en een van die stigterslede van die roosskou in Montagu. Sy was aktief betrokke by die tuinbouvereniging en die VLV. Daarby het sy ’n gastehuis op die plaas bedryf, en was lief vir konfyt kook en handwerk. Haar vriendinne was vir haar baie belangrik.
Vrese en knoue
Volgens Lize het haar 64-jarige ma nie aan depressie gely nie. Sy moes wel in die jaar voor haar dood twee keer groot operasies ondergaan en het telkens by die dood omgedraai. Dit het haar emosioneel geknou. Ná die operasies het sy in haarself gekeer geraak; sy wou nie meer so baie dinge aanpak nie.
Twee maande voor haar dood kon almal sien dat sy nie meer die “ou” Lillibet is nie. Dit het Lize en haar susters baie gepla.
“My een sussie wat in London woon, en deur ’n egskeiding is, sou vir ons kom kuier. Maar met die Covid-19-pandemie is die land se grense gesluit. My ma het hulpeloos gevoel omdat haar dogter swaarkry – en sy, wat die ma is, kon nie help nie.
“Die pandemie het haar baie ontstel. Haar grootste vrees was dat sy iemand anders sou aansteek en dat die persoon doodgaan. Sy het ons gedwing om maskers in die huis te dra. Sy het nie meer drukkies en soentjies uitgedeel nie, en nie meer die warmte en liggaamlike kontak van familie en vriende ervaar nie.”
Toe het sy die hele huis begin uitpak, regpak. Weggooi.
“Vandag besef ons: Al die tekens was daar … Maar dat sy haar eie lewe sou neem, was destyds die laaste ding wat ons verwag het.”
Onwerklik
Die dag voor haar dood het Lillibet al haar dogters gebel. Uit haar stemtoon kon Lize en haar sussies hoor daar is groot fout.
Die volgende dag, 14 Julie 2020, sal altyd in die familie se geheue gegraveer wees. Lize het ’n oproep van haar geskokte pa gekry dat haar ma haarself opgehang het in hul dorpshuis in Montagu.
Sy het ’n brief nagelaat. Daarin het sy bloot verskoning gevra, maar geen verduideliking gegee nie.
“Wat baie gehelp het, is dat ons predikant vir ons gesê het dat ons nooit moet dink dat iemand wat selfdood pleeg nie hemel toe gaan nie. Hy het gesê dat dit so donker geword het in haar lewe dat sy na die lig wou gaan. Dat sy geweet het die Here wag daar vir haar.
“Terug by die huis het ek met my kat in die gang gaan sit. My hart het in duisend stukke gebreek. Dit was so onwerklik …
“Dit was vir my bitter moeilik om te verstaan hoekom my ma, ten spyte van al die liefde wat haar omring het, so iets kon doen.”
‘Moenie bang wees om te praat nie’
Dit was Covid-19-tyd, en slegs 50 mense is by die begrafnis toegelaat: die naaste familie, en Lillibet se beste vriendinne.
Lize en haar sussies het naarstiglik na antwoorde begin soek. Hulle het selfs probeer vasstel of hul ma nie aan die een of ander siekte gely het nie. Toe het hulle onthou dat sy ’n vrees vir demensie begin ontwikkel het omdat sy so vergeetagtig geword het. “Dit alles kon tot haar swaarmoedigheid bygedra het; dit was dalk selfs die laaste strooi.”
“Daarna het ek vir myself gesê: ‘Gee net een tree, net een asemteug, leef net een dag op ’n slag. Ons almal, ek en my sussies en ons pa, is na ’n trauma-terapeut wat ons gehelp het. Hy het herbevestig dat dit nie ons skuld is nie, dat ons dit nie sou keer nie. Ook my kinders het vir berading gegaan. ’n Mens weet nooit watter emosionele letsels so iets, en mense se onverskillige woorde daaroor, op ’n kind laat nie.
“Genade en nog meer genade het ons deur hierdie pynlike tyd gehelp. Ek glo dat my ma by die Here is. Hy sorg nou vir haar en sy is veilig.
“Ek is nie bang om oor my ma se selfdood te praat nie. Dis trouens my hanteringsmeganisme. Ek is rustig oor alles.
“Daarom wil ek graag vir ander mense sê wat dieselfde soort trauma moet deurmaak om nie bang te wees om daaroor te praat nie. Ek besef daar kleef steeds ’n stigma aan selfdood, en niemand wil geëtiketteer word as die een wie se ma haar eie lewe geneem het nie. Hoewel daar verwyte sal wees, hoef jy dit nie met jou saam te dra nie.
“Ek het in dié tyd nader aan die Here gekom. Ek het soveel sterker geword deur sy krag en genade. Ek praat ook meer met Hom. Ek weet nou daar is geen ander manier om deur sulke trauma te kom as met sy hulp nie.
“My missie sedert daardie swaar tyd is om groter deernis vir die mense om my te hê. Om sonskyn te bring waar ek ook al gaan. Om drukkies uit te deel, en blomme.
“Ek het geleer om na buite te leef. Ek gee meer van myself en probeer om elke dag te lag. Ek weet die Here het ’n doel met my lewe.
“Ja, ek kan vandag getuig dat ek vrede het. God se vrede, dié soort vrede wat alle verstand te bowe gaan.”
Getuienisse wat deur LiG gepubliseer word, weerspieël die skrywer se persoonlike ervaring en mening. Dit word geplaas soos ontvang en ons dra geen verantwoordelikheid vir die inhoud nie. Die verhale is nie bedoel as mediese of geestelike advies nie.