Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Aanspreeklikheid – wie sien kans?

28 April 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Kan ek by jou kom lê
in die donker van my hart?
As my sondes my verswelg
en ek verdrink in droefheid en smart?

Vind jy my op die maklike breë pad,
verdwaal en verward –
sal jy my siel se hand vat
en hom dra na die smal, moeilike pad?

Sal jy my vermaan
as ek dinge verkeerd benader?
Ons wil tog almal uiteindelik
net nader aan die Vader.

Sal jy my help dra
aan wat ek kortkom en waar ek faal,
selfs al weet ek nie aldag
hoe om jou te vra?

Kan ek jou vertel wanneer
my gewete my aankla?
Sal jy saggies met jou woorde sny
as jy sien hoe my doring my pla?

Sal jy op dieselfde manier na my kyk
as jy sien waar my donker lê?
As jy sien hoe diep dit strek,
sal jy my steeds liefhê?

LEES OOK: ‘My twee babas wat nie ’n tweeling is nie’

“Yster slyp yster, vriende vorm mekaar” (Spr 27:17).

Aanspreeklikheid is nie vreemd aan die Bybel nie, inteendeel. As jy gereeld tyd in die Woord deurbring, sal die Heilige Gees dié dele in jou lewe blootlê waaraan jy moet snoei.

Maar ons het ook mense in ons lewe nodig wat ons aanspreeklik kan hou.

Hulle kan erkende mentors wees, ja, maar dikwels is dit bloot diegene by wie jy die meeste tyd deurbring. Daardie mense wat jou die beste ken.

Daar is egter minstens twee voorwaardes waaraan sulke mense, en jy, moet voldoen voordat hulle aanspreeklikheid vir jou kan aanvaar:

EERSTENS moet julle onderlinge verhouding van so ’n aard wees dat hulle kan sien wanneer jy koers verloor het. Jy moet hulle toelaat om naby genoeg aan jou te kom sodat hulle jou foute kan raaksien. Van ver af kan dit maklik lyk asof ons sonder foute is. Daarom moet jy jouself weerloos maak. Jy moet ander in die kamers van jou hart toelaat, juis ook in dié dele waarvoor jy skaam is.

TWEEDENS moet jy aan hierdie mense toestemming gee om insette rakende jou leefstyl en gewoontes te lewer. Dit kan letterlik toestemming wees (“doen dit, asseblief”), maar dikwels geskied dit deur die manier waarop jy reageer as iemand kommentaar lewer. As jy gou-gou op jou perdjie is en dadelik begin verdedig, gaan daardie persoon nie sommer weer iets sê nie.

LEES OOK: Waar die liefde woon

Dalk moet jy twee keer dink voordat jy op kritiek reageer. Dalk moet jy jou afvra of daar nie ’n les te leer is uit wat ander oor jou sê nie.

Is jy bereid?

Om aanspreeklikheid te omarm, vra ’n bereidwilligheid om te leer. En om verantwoordelikheid vir jou optrede te aanvaar. Daar is dikwels iets waarvoor jy verskoning sal moet vra.

Groei is nie maklik nie. Ons praat nie verniet van groeipyne nie . . .

Daar sal in jou leeftyd baie mense wees wat hul mening gaan uitspreek en allerlei soorte raad gee oor die pad wat jy stap. Kies daardie mense wie se waardes met joune ooreenstem, en stap die pad saam met hulle. Die Spreukedigter sê: “Gee jou aandag aan ’n wyse mens, en hy kry meer wysheid, leer ’n regverdige, en sy kennis vermeerder” (Spr 9:9).

Leer by hulle, luister as hulle praat, vra hul mening. En praat openlik oor waarmee jy tans worstel. Die grendeltyd en die isolasie wat dit meegebring het, het ons in ’n situasie geplaas waarin ons eie menings te belangrik vir ons geword het.

MY WENS VIR JOU is dat jy mense om jou sal hê wat jou aanspreeklik hou, sodat jy sal aanhou groei in Christus. En ek hoop dat jy sulke mense opnuut sal waardeer.

Skrifgedeeltes om te onthou

“Broers, as iemand in die een of ander sonde val, moet julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ’n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom” (Gal 6:1).

“Laat ons ook na mekaar omsien deur mekaar aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Heb 10:24).

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir ’n gesonde, gelukkige gesin met gesonde, gelukkige kinders.

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF

Kry
LiG

Jou daaglikse inspirasievennoot.

Die LiG-app is nou beskikbaar vir jou selfoon. Installeer dit vandag nog.