Sy is 23 jaar oud, ’n aktrise, die ma van twee kinders, en ’n influencer. Sy gesels hier oor die soet en die suur van dié seisoen in haar lewe, en veral oor daardie dinge wat haar vreugde gee.
“Ek het nooit gedink ek sou so jonk trou en kinders kry nie. Ek het gereken om tot ná 30 ’n vrye voëltjie te wees. Toe kom ’n man oor my pad … en ons kon skaars wag om te trou!
“En dis die lekkerste lekker!”
Só gesels die aktrise Greteli de Swardt.
Met Alé (2) en Jubel (5 maande) as haar eerste prioriteit verskyn Greteli deesdae nie so dikwels op die TV- of die silwerskerm nie, maar haar rol as influencer het haar ’n groot gevolg besorg. Haar kreatiwiteit en geesdrif gee sprankel aan die inhoud wat sy skep, en haar nugter uitkyk is verfrissend.
“Mense moet weet dis moeilik om kinders te hê,” sê sy, “maar ook hoe wonderlik dit is. Selfs in die mees uitdagende oomblikke kan jy humor of genot vind.”
Hoe het Greteli en Juan, haar videograaf-eggenoot, se paaie gekruis?
“’n Gemeenskaplike vriendin het ons afsonderlik vertel sy wil ons aan ons troumaat voorstel. Ek het gesê sy kan dié man gerus maar vir haarself hou!
“En eers nadat ek en Juan op ’n ander manier by mekaar uitgekom het, het ons besef óns is die mense van wie sy gepraat het.

“Elke persoonlikheidstoets beskryf ons as die paartjie wat hoegenaamd nie by mekaar pas nie. Ja, ons verskil baie, maar ons kom uitstekend oor die weg. Juan is my beste maatjie en ons onderskeie uitkyke op die lewe skep ’n lekker balans in ons huwelik. Ons geniet dit om ons twee wêrelde as een geheel aan ons kinders te probeer oordra.
LEES OOK: Jana Kruger: ‘Net God kan ons werklik vergenoeg laat voel’
“Ons leer ken steeds mekaar se kommunikasiestyl. Ek dink nie dis iets wat ’n mens binne twee of drie jaar regkry nie. Eerstens verskil ons onderskeie persoonlikhede, en tweedens kommunikeer mans tog op ’n ander manier as vroue. Juan wil direk praat. En ek sê nie altyd wat ek dink nie. Hy daag my dan uit om te sê wat ek wil sê, sonder om doekies om te draai.
“Ek sien op na Juan. Hy maak die beste van elke situasie, hy is ontsettend hardwerkend en leef deur die moeilikste tye sonder om te kla. Hy straal positiwiteit uit, hy steek almal om hom se liggies aan.
“Wanneer die kinders skree en een naar word en ek my hare uit my kop wil pluk, is Juan die kalmte in die storm.”
Ma-wees, dissipline en tydbestuur
Hoe pak sy die moeilike reis van ma-wees aan?
“Dit was altyd my droom om ’n mamma te wees, en die Here het ons met ’n volmaakte gesin geseën. Alé is ’n wilde rabbedoe-dogtertjie met ’n avontuurlike gees, maar sy het ook ’n girly-kant wat wil rokkies dra en met haar Barbies speel.
“Jubel is altyd tevrede. Wanneer hy lag, kan sy bekkie skaars groter oop. Hy is ’n regte jubel-en-juig-baba. Ek is só lief vir my kinders!
“In hierdie fase van my lewe staan my loopbaan as aktrise ’n bietjie stil; mamma-wees en huishou is nou my groot projekte. En al is ek ’n jong mamma, is ek rustig.
“Ek is wel nie ’n hou-by-die-boek-se-reëls-mamma nie. Ek dink nie ek het al ooit ’n fopspeen gesteriliseer nie; ek suig dit sommer self en druk dit dan in my kind se mond. En my kinders is fine!
“Sommige mammas se oë rek seker as hulle sien wat ek alles aanvang …”
“Spanning is jou grootste vyand. Hoe minder jy stres, hoe beter. Daarom google ek deesdae nie te veel nie. As ’n mens swanger is, google jy baie en bekommer jou oor alles wat kan skeefloop.
“Ek dink nie te ver vooruit nie. Wanneer iets gebeur, maak ek ’n plan.”
“Moederskap kom vir my natuurlik. Ek is dankbaar dat my ma-hulle babatjies in pleegsorg gehad het toe ek in die huis was. Ek was reeds sewe toe my sussie gebore is, en ek het haar help grootmaak.”Is daar bepaalde aspekte van ma-wees waarmee sy gesukkel het?
“Dié ding dat jy ’n idee ontwikkel van wie jy is – en dan kry jy kinders! Alles verander en jy moet jouself herontdek. Maar ook dít is ’n wonderlike reis.
“Dit gaan natuurlik nooit nét goed nie, nie met énigiemand nie. Ek dink die meeste mammas voel soms regtig alleen, hulle dink ander ouers sukkel minder as hulle. Ek deel graag die werklikheid met my volgelinge op Instagram. Ek vertel van slapelose nagte, van siek kinders, van ’n kleuter wat op Marie-koekies leef.
“Geen kind kom met ’n handleiding nie; elkeen is uniek. Nee, daar is nie net een manier om dinge te doen nie.”
Wat van dissipline?
“Dis ’n moeilike saak,” sê Greteli. “Ek dink daar is ’n fyn balans tussen algehele beheer en om deurentyd nee te sê, én om te weet wanneer om nee te sê en dissipline toe te pas.
“Ek glo daaraan om jou kinders soveel moontlik te laat doen. Hulle moet saam met my in die kombuis kan mors. Dis onnodig om te raas wanneer jou kind ’n koppie koffie omstamp; dis tog jou probleem as die koppie daar gestaan het.
“Hulle is klein, die lyfie is lomp en hulle stamp dinge om. Dis nie hulle skuld nie. Jou natuurlike reaksie is om te wil raas, maar in plaas daarvan probeer ek om Alé te leer hoe ’n mens ’n glasbak moet dra.”
“Omdat ek van die huis af werk, beteken dit ek moet die selfdissipline aan die dag lê om die dag nie bloot by my te laat verbyglip nie. Ek maak self ons huis skoon, maar ek bestee slegs ’n uur soggens daaraan. Wat ek nie in daardie uur gedoen kry nie, moet maar wag.
“Dis vir my lekker om ’n influencer te wees. Om woorde by prentjies te pas, om iets van my lewe met ander te deel, om ander te help waar ek kan. En ek is baie dankbaar dat dit my die geleentheid gee om by my kinders te wees.
“As jy dit egter behoorlik wil doen, kom jy gou agter dis ’n voltydse werk. Dat dit minstens vyf ure per dag van jou verg.
“Ek het twee selfone – een vir persoonlike gebruik, en een is my werkfoon wat ek slegs in werktyd gebruik. Ek neem dit nie saam kamer toe nie. Die uitdaging, veral wanneer jou sosiale media-betrokkenheid oor jou persoonlike lewe handel, is om die werk nie by jou persoonlike en gesinstyd te laat inmeng nie.
“As ek en Juan byvoorbeeld ’n date night het, is dit nie die tyd om Instagram-foto’s te neem nie. Ons beplan waar en wanneer ons wil inhoud skep.”
’n Vaste fondament
“Geloof speel ’n deurslaggewende rol in my en Juan se lewe. Dit bepaal ons visie vir ons huwelik en vir ons kinders. Ons al twee kom uit ’n huis waar die Here gedien word, en ons wil ook die grondslag vir ons kinders verskaf om ’n verhouding met die Here te hê.
“Wanneer ek wonder watter keuses ek moet maak, draai ek na my geloof en my waardes, en bid dan daaroor. Dis vir my lekker om die Here te dien en Hom vir hulp en krag te kan vra.
“Dis ’n deurlopende proses om Hom te leer ken. En ek wil lewenslank aan my verhouding met Hom werk.”
Wat sê Greteli vandag vir ander mammas?
“Skuif die fokus weg van jouself. Ons bekommer ons so gou oor wat ander mense dink, terwyl hulle in werklikheid bloot op hul eie lewe fokus.
“En kyk na die groter prentjie, na wat werklik saak maak. Dis bevrydend om jou beheer oor die res prys te gee. Om te weet dís wie ek is, en dís wat ek doen. Want dít is hoe die Here my gemaak het.”
Greteli sê …
Dis wonderlik hoe jou hart, reeds gevul met liefde vir jou lewensmaat, kan rek om vir ’n kind plek te maak – en dan vir nog een.
As ek en Juan opofferings moet maak om ons kinders te help om hul Godgegewe talente uit te leef, sal ons dit doen sover ons kan.
Toneelspeel is vir my ’n passie, nie ’n móét nie. My onlangse rol in Som van twee was ’n hoogtepunt en ek sou dolgraag die hoofrol in ’n film wou speel, maar nie ten koste van my gesin nie.
Ek geniet dit om inspirasie op sosiale media te kry, maar ek kies wie ek wil volg. En ek loop lig vir skermverslawing.
Dis vir my steeds vreemd as mense my op straat herken, maar dis lekker wanneer ons regtig connect en vreemdelinge hul stories vir my vertel.
As influencer het ek ’n reël: om slegs produkte te bemark waarin ek glo.
Om mamma-wees, vrou-wees, jou werk én ’n huishouding te leer hanteer, gebeur nie oornag nie. Dit het twee jaar geduur voordat ek ’n gesonde balans kon kry.
Ek dink dis belangrik om die seisoen waarin jy is te respekteer. As jy ’n pasgebore baba het, is dit nie die tyd om date nights te reël nie. Dit kom wel weer later.
Ons word oorlaai met inligting, veral wat ouerskap betref. Kies die mense by wie jy raad ontvang, en volg die moederinstink wat die Here jou gegee het.
Don’t sweat the small stuff. Stres kan jou opvreet en kosbare tyd met jou kinders steel.
’n Kopskuif kan moeilike tye makliker maak. Ek probeer om slapelose nagte as ekstra tyd met my baba te beskou. Oor ’n paar maande het hy weer uit sy klere gegroei en gaan ek dié lyfie mis.
Ek is mal daaroor om huisie-huisie te speel, om ’n muur te verf of ’n kamer te skuif. Wanneer my man by die huis kom en die sitkamer lyk eensklaps anders, moet hy dit maar so aanvaar!
- Dié artikel verskyn in die winteruitgawe van die gedrukte LiG en is nou op winkelrakke.

















