Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Previous slide
Next slide
Search

Jana Kruger: ‘Net God kan ons werklik vergenoeg laat voel’

Hulle is ’n hegte gesinnetjie van donkerkoppe, krulkoppe en diep denkers. Hulle is die Krugers. Mamma Jana is die siel en hart wat almal omvou met intense liefde en sorgsaamheid. Sy het die kalklig vir ’n wyle verruil vir alles wat ma-wees van haar vra.

Ons het Jana Kruger onlangs weer in haar rol as aktrise gesien in die TV-reeks Een keer om die son. Hier was haar karakter, Lani van Wyk, ’n goeie en teenwoordige ma. ’n Ma met ’n diep verstaan van haar huismense se hartsake en behoeftes.

Baie soos Jana self.

Wanneer jy dié aktrise oor haar gesin uitvra, vou sy oop soos ’n boek – gretig om te vertel, om haar insigte en ontdek­kings soos ’n kosbare kleinood voor jou neer te sit.

LEES OOK: Natasha Joubert: ‘Die Here het my, ’n geskeide enkelma, nooit alleen gelaat nie’

Sy vertel: “Ons eet saam en bid saam en weet wat in mekaar se lewe aangaan. Ons speel, en ons help mekaar waar ons kan en waar dit nodig is.

“Die kinders het takies waarmee hulle in die huis help, soos om die skottelgoed­wasser uit te pak en die vensters te was. Om huis skoon te maak en wasgoed te was is ’n spanpoging, en daar is altyd ’n leergeleentheid.

“Sondae is dit tyd vir kerk. Ons is baie lief vir ons kerk in Johannesburg, Mosaïek. Ons skakel dus elke week in vir die diens wat van daar af uitgesaai word.”

Jana en haar gesin woon die afgelope tien jaar in Glencairn, net so neffens Simonstad in die suidelike deel van die Kaapse Skiereiland. “Ons sal soms ge­meentes in ons omgewing besoek,” vertel sy, “om die fisieke belewenis van kerk en gemeenskap ook weer aan ons almal tuis te bring.”

’n Tuisbly-ma

Jana vertel só oor haar besluit om ma-wees haar prioriteit te maak: “Die eerste tien jaar van kinders se lewe vorm tot ’n groot mate die fondament van hul fisieke, kognitiewe en sosiale funksies. Die manier waarop hul primêre versorgers die lewe vóórleef, het ’n massiewe impak op hoe hul brein werk, en op die soort mens wat hulle eendag sal word.

“Die tuisbly-besluit was gegrond op wat vir ons belangrik is, wat ons gevoel het reg is vir ons en die manier waarop ons ons kinders wil toerus en grootmaak. Hulle is net een keer klein!

“Baie van dié dinge wat ons glo, en hoe ons oor die wêreld en onsself dink, het te doen met wat ons by ons ouers leer.”

Jana vertel hoe intens sy, met die geboorte van haar eersteling Ohan, die in­terne proses van meisie na moeder ervaar het. “Dit was asof ek toe die verste van my ware self was as wat ek nog ooit gevoel het. Maar ’n mens groei in jou ma-wees, en nou voel ek weer soos myself. Net anders.”

Die Kruger-gesin: Agter, van links is Luka, Hannes en Jana. Voor sit Anouk en Ohan. Foto: Salomien Smal

’n Eenvoudige lewe

Jana kies om die lewe eenvoudig te hou, ten spyte van die eise wat ’n gesin, ’n beroep en die lewe na haar toe bring. “My man Hannes en sy familie het die wonder­like geskenk van eenvoud en om ‘net te wees’ vir my gewys.

“Wanneer jy besig is met dinge en mense en goeters, word jou aandag so afgelei dat jy nalaat om in voeling met jou diepste self te leef. Hierdie self kommuni­keer saggies en subtiel, nie luidrugtig en voor-op-die-wa nie.

“Daarom is alleentyd en om net te ‘wees’ die sleutel om jouself beter te leer ken. Hoe beter jy jouself ken, hoe beter kan jou lewensgehalte uiteindelik wees.

“Ons is na God se beeld geskape. Ons sonde en swakhede kan nie groter as God se liefde en genade vir ons wees nie. Wan­ neer ons dus introspeksie doen, word ons terselfdertyd bewus van die grootte van God se liefde vir ons. En sy genade oortref altyd ons gebrokenheid.”

“Ons hou ons lewe eenvoudig deur te onthou – en ons kinders daaraan te herinner – dat net God ons werklik vergenoegd kan laat voel. Die samelewing wentel om verbruikerswese. Mense bestee ’n enorme hoeveelheid energie, tyd en geld daaraan om dinge te bekom. Dis asof daar gedurig ’n leemte is wat gevul móét word, omdat so baie mense diep binne-in hulle voel hulle is ‘te min’.

“Maar wanneer ons tyd maak vir ons­self, en ook vir God wat in ons leef, gee dit ons die geleentheid om ons waarde in Hom en ons identiteit in Christus te herken. Sodoende word ons gevul met die wete en gerustheid dat ons kosbaar is.

“En daar vind ’n verskuiwing plaas wan­neer ons aandag en fokus op die Een is wat Liefde is.

“Ons hou ook ons lewe eenvoudig deur gesonde en veilige grense te hand­haaf. Om ‘nee, dankie’ te sê as dit nie tot ons beswil is, of die groter prentjie dien nie. Dis nie altyd maklik nie!

“Maar ek sê altyd vir my kinders: ‘Ons kan moeilike dinge doen!’”

’n Diep tevredenheid

Jana bevind haar nou in die besige seisoen van ma-wees. Haar kinders is onderskeidelik 7, 12 en 14 jaar oud.

“Ek kies om ’n betrokke mamma te wees,” sê sy, “wat beteken dat ek nogal min tyd vir myself het. Dis soms moeilik en selfs oorweldigend. En ek kry dit nie altyd reg om al die balle in die lug te hou … met boonop ’n geduldige glimlag op my gesig nie. Maar ek het geleer om vrede te maak met moeilike en ongemaklike emosies.

“My ‘voel’ is sterk. Ek is fynbesnaard. En ek het geleer die vinnigste manier om van die slegte emosies ontslae te raak is om dit sonder inhibisie of oordeel te vóél.

“Dis vir my lekker om te sien hoe my kinders groei en leer, en hoe hulle my wys wie hulle is. Hoe hulle die lewe ervaar. ’n Mens voel diep tevrede wanneer jou kinders gesond en gelukkig is. Die digter van Psalm 128 sê ons sal die vrug van ons arbeid geniet.

“Alles wat ek insit, is ’n belegging vir ’n beter toekoms. En dan is daar natuurlik die kosbare geskenk van verhouding. Om in ’n veilige verhouding met ’n ander te verkeer. Die diep tevredenheid wat veiligheid en intimiteit en weerloosheid en deursigtig­heid bring. Om eerlik en opreg jouself te kan wees, sonder vrees. Dit maak alles die moeite werd.”

’n Man van God

Jana en Hannes het mekaar ontmoet toe sy 15 jaar oud was. Hulle is vanjaar 25 jaar getroud. Hannes is ’n sielkundige en hy verteenwoordig tans vir SleepImage, ’n Amerikaanse slaaptegnologiemaatskappy hier in Suid-Afrika. Jana vertel: “Hy werk by die huis, en ons is dus baie in mekaar se geselskap. Ons maak saam kos, eet saam, gaan stap, gesels, beplan, maak saam huis skoon en kinders groot.

“Hy is my beste vriend, my anker. En ’n groot dryfveer vir innerlike groei.

“Hannes is ’n man van God. Hy word dikwels misverstaan, en hy kry soms teenkan-ting omdat hy nie inkoop in die wêreld en sy dinge nie. Maar in die loop van 25 jaar het ek God deur hom leer ken. En ek weet, onwrik­baar, dat liefde die waarheid is. Dis aan hom te danke.”

“Wat vir my mooi en lekker van ons huwelik is, en die dinge wat ons verhouding laat werk, is onder meer:

  • Ons dien Liefde.
  • Ons laat mekaar toe om onsself te wees. Daar is respek, aanvaarding en bewonde-ring vir wie jou maat is, eerder as wie jy wil hê hulle moet wees.
  • Ons geniet dit om tyd by mekaar deur te bring. Ons is opgewonde om te connect en op te vang.
  • Ons lê grense neer wat ons familie betref. Ons plaas ons verhouding eerste en neem nie besluite op grond van wat die familie sê of wil hê nie.
  • Ons moes al donker dae deurmaak. Elke verhouding word met moeilike tye en konflik gekonfronteer. Wanneer jy egter kies om daardéúr te werk, bou jy vertroue, deursettingsvermoë en veerkragtigheid.
  • Ons voer soms moeilike en ongemaklike gesprekke. Ons kommunikeer eerlik en deursigtig. Dinge word oopgemaak en uitgepak. Ons kyk daarna en bespreek dit. Ons gee taal daaraan, en bring dit wat in die donker is na die lig.
  • Ons baklei. Ons is partykeer gefrustreerd, of word kwaad vir mekaar. Soms is dit eenvoudig en maklik om dan weer vorentoe te beweeg. En soms vra dit meer tyd en groter toewyding om ’n probleem te ont-knoop of dit werklik te begryp.
  • Ons gesin is ’n eenheid. Wanneer ek twyfel, kies ek wat die beste vir die eenheid sal wees. Ek het my man en my kinders as ’n deel van myself toegeëien. Hul beste belange is ook my beste belange.
  • Dis heerlik om ’n veilige ruimte te hê waarin jy volledig jouself kan wees, sonder inhibi­sie of oordeel. Waar jy geliefd en tevrede en geborge kan wees.”

‘Ons kinders’

Ohan is ons diep seun. Hy is sensitief en slim. En mooi, binne en buite. Ohan is diep gelowig en baie familie-georiënteerd. Hy beleef die lewe in­tens. Hy hou van rooibostee en beskik oor ’n soort wysheid wat sy jare vér te bowe gaan.

Luka is ’n wonderlike voorbeeld van hoe balans lyk. Sy is byna altyd opgeruimd, en opgewonde oor die een of die ander ding – van alles wat sy maak of teken, tot die koekverkoping by die skool, tot om saans te gaan slaap! Sy is sterk en onafhank-lik, en terselfdertyd sag en weerloos. Sy is sassy en snaaks en maklik om van te hou.

Anouk! Sy is ’n ‘force of nature’ en ’n voorbeeld van ‘big things come in small packages’. Sy is fyn en klein, maar slim en sosiaal. Sy kry haar energie by mense. Sy is cute en skerp, en meesterlik om jou in te trek by waarmee sy ook al besig is. Sy het soveel liefde, wat sy vryelik uitdeel.

Die dood

Die TV-reeks Een keer om die son het die dood-tema vir die Krugers op die voorgrond geplaas. Jana vertel: “My kinders was baie ontstig ná die eerste episode – waarin my karakter sterf. Maar ons kon begin gesels oor hoe dit sou wees as ek of ’n ander gesinslid nie meer daar is nie.

“Ons geliefde Franse bulhond Dusty is vroeër vanjaar oorlede. Ons moes deur ’n afskeid- en rouproses gaan. Ons kon egter vir die kinders ’n veilige ruimte bied waarin hulle kon hartseer wees en uiting gee aan wat hulle voel. Dit was natuurlik ’n baie waardevolle ervaring. En dit het ons almal voorberei op die dood, wat in die een of ander stadium aan ons almal se deur sal kom klop.”

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF