Deel jou getuienis
Klik Hier
TEKEN IN OP LIG-TYDSKRIF
Lees Meer
Search

As Oprah Ozempic gebruik, kan ek seker ook. Of hoe?

Met die Feestyd en sy oordaad iets van die verlede, het baie vroue ’n behoefte aan ’n skraler en gesonder liggaam. En hulle soek na ’n vinnige oplossing. Hulle moet goed hieroor dink …

Die nuwe gonswoord wanneer gewigverlies ter sprake kom, is GLP-1-produkte. Die bekende middel Ozempic vorm deel daarvan. En, sê die ingeligtes, daar is nou ook Mounjaro, wat blykbaar nóg beter werk as Ozempic.

Die Amerikaanse kletskoningin Oprah Winfrey, wat oor baie jare op die “harde” manier teen die vetjies stry, gebruik Ozempic nou onafgebroke, aldus die webwerf Business Insider. Daar sê Oprah dat sy spyt is sy het nie dié middel vroeër begin gebruik nie; sy kon haarself baie hartseer gespaar het.

Een ding staan vas: Die gebruikers van hierdie “wondermiddels” kan baie gewig afskud. Maar is dit gesond?

‘My Ozempic-reis’

Die 41-jarige Kate de Jong* van Durbanville sukkel reeds jare lank met haar gewig. Dit het veral ná haar kinders se geboorte ’n probleem geword.

LEES OOK: Van Parkrun na Comrades: Seun motiveer ma om te begin draf

Sy vertel: “Ek het besluit om Ozempic te probeer nadat ek soveel ander opsies op die proef gestel het. Ek het as ’t ware rondgedobber tussen verskillende kitsdiëte, allerlei aanvullings en verskeie ander produkte met leë beloftes op die verpakking. Ek het baie geld hierop uitgegee.

“En al was ek nooit radikaal oorgewig nie, het ek verlang na die liggaam wat ek voor my twee kinders se geboorte gehad het.”

Die gesin se gesonde leefwyse het geen uitwerking op Kate se gewig gehad nie; gereelde oefening en ’n gesonde eetplan het nie die skaal se naald in haar guns geswaai nie. Uit pure desperaatheid het sy haar later selfs tot skedule 5 en skedule 6-gewigverliesmedikasie gewend. Sonder sukses. 

“My huisdokter, wat intensief met gewigbestuurprogramme werk, ken my geskiedenis baie goed. Sy het my deeglik ondersoek voordat sy besluit het om my op die laagste dosis Ozempic te plaas. Sy wou hê my gesondheid moes verbeter en my negatiewe gevoel oor my liggaam omgekeer word.

“Die Ozempic het wel newe-effekte meegebring en ek het soms naar geword wanneer ek vetterige kos eet. Ek het heeltemal opgehou om alkohol te gebruik; ek was eensklaps net nie meer lus daarvoor nie. Ons gesin se spyskaart was onveranderd, maar my porsies was nou baie kleiner. Dit het nie my energievlakke beïnvloed nie.”

Kate het dié behandeling vier maande lank volgehou, voordat sy in Desember 2024 besluit het om daarmee op te hou. Ná die vakansie was sy vyf kilogram swaarder.

Aangesien sy ’n verdere twee maande se voorskrifte tot haar beskikking gehad het, het sy weer met die Ozempic begin. En spoedig was haar gewig weer waar sy dit graag wou hê.

Sy vertel: “Ozempic is duur,** maar ek het besluit om dit vir my gesondheid en selfbeeld te doen. Ek bederf myself selde, en ná jare se worsteling met my gewig het ek gereken om hierin te belê. Dit was nie bloot om estetiese redes nie, maar veral ter wille van my gesondheid.

“Toe ek begin sien wat die gevolge daarvan is, het ek my identiteit herwin. Ek wou wel nie gewigverliesmedikasie permanent gebruik nie en het besluit om eerder op ’n natuurlike reis te vertrek. Ná vier maande het ek gevoel dat ek my aanvanklike doel bereik het.”

Kate sê sy sal niemand aanraai óf afraai om Ozempic te gebruik nie en sy reken dat dit, indien nodig, om gesondheidsredes voorgeskryf moet word. Maar dan onder ’n dokter se toesig, sodat ook die pasiënt se mediese geskiedenis deeglik verreken word.

Vir haar het die Ozempic-gebruik groot waarde gehad. Sy besef ook dat dit nie vir almal ewe geskik is nie.

Tans, sê sy, beskik sy oor die vaardighede en selfbeheersing om haar gewig in toom te hou. Sy jaag nie meer ’n perfekte gewig na nie, maar fokus op balans en respek vir haar liggaam.

‘Dit kán jou lewe verander, maar …’

Dr Pierre de Waal is ’n bekende algemene praktisyn in Durbanville. Hy is deeglik ingelig oor die voordele en nadele van die GLP-1-produkte. Hy verduidelik dat dit ’n glukagonagtige peptied is wat hoofsaaklik gebruik word vir pasiënte met weerstandige Tipe 2-diabetes deurdat dit die bloedsuikervlakke stabiel hou. Dit het intussen ook ’n kruk geword wat mense help om minder te eet. Die pasiënt word een keer per week daarmee ingespuit.

“Alhoewel die media soms die GLP-1-produkte negatief benader, kan dit ’n oorgewig persoon se lewe verander. Hiermee kan jy ’n pasiënt se leefwyse en verhouding met kos drasties verbeter.”

Hy sê dat hoewel GLP-1 baie goed werk by oorgewig mense, en spesifiek dié met Tipe 2-diabetes, sal hy dit nie aanbeveel óf voorskryf vir iemand wat ’n klein hoeveelheid gewig vir ’n spesiale geleentheid wil verloor nie.

Hy vertel: “Ek het ’n paar diabetes-pasiënte wie se suikervlakke baie swak beheer was. Ozempic het tot gevolg gehad dat hulle die gebruik van insulien kon vermy. Dit beloof aan hulle ’n beter en langer lewe met ’n laer risiko vir kardiovaskulêre- en ander lewensbedreigende siektes.”

Volgens dr De Waal is daar ook pasiënte in sy praktyk wat meer gewig verloor deur Mounjaro eerder as Ozempic te gebruik. Sommige verloor tot 20% (en meer) van hul aanvanklike liggaamsgewig. Hierdie mense ervaar ook minder newe-effekte as dié wat Ozempic gebruik. GLP-1-produkte het aanvanklik wel soms akute diarree en naarheid tot gevolg.

Wees realisties!

Dr De Waal waarsku: “Sommige pasiënte word op té hoë doserings geplaas en ervaar dan erge newe-effekte. Niemand behoort te mik om 10 kg in een week te verloor nie. Ek hou daarvan om pasiente se gewigverlies tot tussen 1 en 2 kg per week te beperk. Dit is realisties en gesonder.”

GLP-1-produkte bring nie vir almal dieselfde resultate nie. Aan sommige mense moet hoër doserings toegedien word, en hulle mag dalk minder gewig verloor as ander. Tog eet die troos-eters dan minder en kan hulle die versoekings makliker weerstaan.

“Ek sê weer: Ek beveel dit nie aan vir mense wat van ’n paar vetrolletjies wil ontslae raak nie. Ons praat van diegene wat minstens 15 kilogram of meer het om af te skud.”

Die rooi vlae

Die GLP-I-produkte is nie sonder gesondheidgevare nie. ’n Geskiedenis of familiegeskiedenis van skildklierkanker of nierversaking of pankreatitis is ’n rooi vlag as jy dié produkte oorweeg. Die gebruik daarvan kan ook aanleiding gee tot verskeie newe-effekte, onder meer pankreatitis, gastroparese en nierbeserings as gevolg van dehidrasie.

Dr De Waal sê dat dit noodsaaklik is om GLP-1-medikasie in oorleg met jou dokter te gebruik. Wees eerlik oor jou mediese geskiedenis ten einde risiko’s te verminder.  

Jy moet ook besef dat oefening van wesenlike belang is om spiermassa te behou. Van elke kilogram wat jy verloor, is 80% dalk vet and 20% dalk spiermassa. Weerstandoefeninge moet deel vorm van jou oefenprogram. Optimale proteïn-inname is essensieel.

“Oorgewig is nooit goed vir jou nie, ongeag wat die positive body image-navolgers alles kwytraak. Indien jy baie oorgewig is, verkeer jou liggaam voortdurend in ’n pro-inflammatoriese fase. Dit is baie nadelig vir jou gesondheid.”

Pasop vir bedenklike samestellings en onwettige verspreiding

“Daar is mense wat tans hierdie produkte onwettig in die land versprei en verkoop,” sê dr De Waal. “Soms is dit boonop namaaksels wat nie deur die Suid-Afrikaanse Gesondheidsproduktebeheerraad (SAHPRA) goedgekeur is nie, en word uit lande soos China ingevoer. Daar is ook sommige verpleegsters en skoonheidsterapeute en liggaamsbouers wat daaraan skuldig is dat hulle die produk via WhatsApp bemark en verkoop.

“Daardie produkte is dan spotgoedkoop, maar niemand kan met sekerheid sê of dit veilig is of waaruit dit werklik saamgestel is nie. Desperate mense se naïwiteit word sodoende uitgebuit, en hulle word aan gesondheidrisiko’s blootgestel.”

* Skuilnaam

** Ozempic en Mounjaro kan jou ongeveer R1 700 tot R5 000 per maand uit die sak jaag, afhangende van die dosering.

No data was found

Verwante Artikels

ONTVANG LIG SE GRATIS NUUSBRIEF
LiGland Kyk nou ►