Deel jy miskien te veel op sosiale media? Volgens ‘n 2022 verslag van Statista spandeer die gemiddelde internetgebruiker ‘n totaal van 151 minute per dag op sosiale media. Dis ‘n gemiddeld van twee en ‘n half ure per dag.
Beheer skermtyd en die deel van inhoud op sosiale media met die riglyne wat ons in hierdie artikel deel.
Wie gebruik sosiale media?
Sosiale media statistieke toon dat die mees aktiewe groep op sosiale media in die VSA tussen die ouderdom van 27 en 42 is – dus die ‘Millennial’ groep. Daarna is die grootste groep ‘Generation Z’, wat in die ouderdomgroep 11 tot 26 val.
Dit beteken natuurlik nie dat die generasies vóór millennials onaktief is nie. Inteendeel, volgens Pew Research se onlangse sosiale media feiteblad is 69% van volwassenes tussen die ouderdom van 50 en 64 en 40% van volwassenes bo die ouderdom van 65 gebruikers van sosiale media.
Die feit bly staan: sosiale media word oraloor en deur alle generasies gebruik. Hoe weet jy of jy te veel deel, en hoe beheer jy skermtyd beter?
Beheer skermtyd | Wat is ‘sharenting’?
Die woord “sharenting” was in 2016 – saam met ander woorde soos “Trumpism” en “Brexit” deur Collins as woorde van die jaar bestempel.
Dié bekende woordeboek omskryf “sharenting” as ouers se gewoonte om gereeld nuus, foto’s en ander brokkies oor hul kinders op sosiale platforms te deel. Hierdie woord is ’n sameflansing van “parenting” en “sharing” – en dié gewoonte het ’n kenmerk van baie ouers geword.
Hulle deel nuus oor hul kinders met al wat leef en beef, ook diegene wat bloot vérlangs of oppervlakkig aan hulle bekend is – die vroegste sonarfoto’s, daardie fraai glimlaggie, die nuwe fiets, die eerste liefde. En die ontvangers oe! en aa! en stuur opduimpies terug …
“In baie opsigte is hierdie tendens in ons moderne leefstyl gewortel,” sê ds Diane Pickford, ’n kapelaan, pastorale berader en motiveringspreker in Pietermaritzburg. Sy verduidelik: “Sosiale media is gerieflik, vinnig en te alle tye beskikbaar. Familielede, insluitend dié wat in ander lande en op verre vastelande woon, kan op hierdie manier met mekaar in verbinding bly en hul nuus met mekaar deel. Dit het ’n hele kultuur geword om op hierdie manier allerlei brokkies uit te ruil.”
Beheer skermtyd | Die gevare van ‘sharenting’
Diane wys op ’n klomp potensiële gevare van te veel deel: “Daar bestaan die moontlikheid van digitale kaping, dit wil sê waar boosdoeners persoonlike data ‘steel’ en hierdie kinders dan as hul eie voorhou. En navorsing het reeds uitgewys dat miljoene kinders se foto’s op pedofiele se webwerwe beland.
“Daarby tas die ouers, onwetend en niksvermoedend, hul kinders se privaatheid aan. Baie kinders is later, wanneer hulle ouer is, ontsteld oor die foto’s wat kleintyd van hulle geplaas is. Of oor foto’s wat ouers sonder hul medewete met ander gedeel het.”
In sommige gevalle kan sulke foto’s en video’s daartoe lei dat kinders geboelie of geviktimiseer word. Die “snaakse” foto van jou kind met die windskewe haarstyl of vreemde gesigsuitdrukking kan daartoe lei dat die kinders by die skool hom spot of byname gee.
Met die plaas van foto’s en video’s skep sulke ouers as ’t ware ’n aanlyn-beeld van hul kinders – maar dan soos wat hulle graag wil hê ander mense hul kinders moet sien. Hulle spog bewustelik of onbewustelik met al die prestasies, en verwag dan erkenning in die vorm van positiewe terugvoer. Dit alles kan baie druk op die kinders plaas om aan sulke verwagtinge te voldoen.
Dit word uiteindelik niks anders nie as ’n soort kompetisie: Ek en my kinders versus jy en jou kinders. Hoeveel ouers lei dikwels hul eie lewe deur dié van hul kinders, of projekteer hul eie mislukkings en verlange deur hul kinders se lewe?
Dalk is dit bloot ’n naarstiglike soeke na erkenning: Sê tog net asseblief dat ek (en my kinders) oulik is! As daar dan nie genoeg mense is wat dit (wil) sê nie, lei dit dalk tot ’n soort depressie, en angs, en word die saadjie vir ’n lae selfbeeld geplant.
Lees ook ons artikel, ‘Die invloed van sosiale media op kinders en tieners’.
Beheer skermtyd | Gebruik hierdie riglyne
Prof Basie van Solms, hoof van kubersekerheid aan die Universiteit van Johannesburg, sê: “Ouers moet ’n baie gebalanseerde benadering tot hierdie saak hê. Moenie foto’s plaas wat later in jou kind se lewe ’n verleentheid kan wees nie. Die kaal klein seuntjie is dalk nou oulik, maar wanneer hy eendag in Graad 10 is, gaan hy beslis nie meer dink sy ouers was oulik nie.
“Daar is ook talle voorbeelde van kuber-agtervolgers (‘cyber stalkers’) wat hierdie foto’s sien en dan die kinders voorberei vir latere kontak. Die vraag is altyd: Sal jy dieselfde foto van die kaal seuntjie teen die lamppaal in jul straat sit? Nie? Hoekom plaas jy dit dan op Facebook waar baie meer mense dit kan sien?”
Marita Rademeyer is ’n kliniese sielkundige in Garsfontein, Pretoria. Haar probleem met hierdie soort gedrag is volgens haar voor die hand liggend. Sy vra bloot aan die ouers: “Hoekom is julle so begaan oor die perfekte foto of video wat julle opsluit moet neem? Só loop julle die waardevolle oomblikke mis, en verbeur julle die kans om betekenisvolle kontak met jul kinders te maak.
“Die sosiale media behoort ’n aanvulling vir menslike kontak te wees; dit is dus problematies as eersgenoemde die vernaamste manier is waarop jy na ander mense uitreik. En wanneer dit die geleentheid vir werklike en betekenisvolle interaksie in die wiele ry.”
Raad om die deel van inhoud te bestuur
Hier is raad en wenke om die deel van inhoud op sosiale media beter te bestuur:
- Deel net foto’s en video’s met mense wat regtig belangstel. Oupas en oumas wat ver bly, sal natuurlik dankbaar wees om op hierdie manier nuus te ontvang. Jou 1998-matriekklas en jou kollegas by die werk hoef egter nie op hoogte te bly van jou kinders se doen en late nie.
- Wees versigtig met inligting wat jy oor jou gesin en familie verklap. In baie gevalle kan vreemdes gemaklik toegang tot foto’s van jou kinders verkry. En baie vinnig vasstel waar julle bly of vakansie hou. En waar jou kinders skoolgaan of wanneer hulle verjaar.
- Moenie foto’s en inligting plaas waaroor jy later spyt gaan wees nie. Dit is welbekend dat werkgewers na aanlyn-profiele gaan kyk wanneer hulle meer inligting oor potensiële werknemers soek. Indien jy staaltjies te vertelle het oor jou kind se vinnige humeur, rebelse optrede of mediese geskiedenis, kan dit daardie kind se toekoms negatief beïnvloed.
- Vra jou kinders of jy foto’s oor hulle mag versprei. Moenie aanvaar dat jou kind wil hê dat jy ’n goeie rapport of sportprestasies aan die groot klok hang nie. Vra: “Kan ons maar vir Ouma hiervan laat weet?” En rig hierdie nuus dan aan spesifieke mense eerder as om dit aan almal te stuur of dit op ’n openbare platform te plaas.
Beheer skermtyd met hierdie wenke vir die hele gesin:
- Die Amerikaanse akademie vir pediatrie sê dat die aanvaarbare hoeveelheid skermtyd per dag vir volwassenes en tieners is nie meer as twee ure per dag nie.
- Wees realisties en begin met klein bereikbare doelwitte vir die hele gesin. Betrek al die lede van die gesin en verduidelik wat die doel daarmee is. Baie toestelle het ook ‘n funksie om die tyd van gebruik te beheer.
- Kies selfoonvrye sones waar geen toestelle toegelaat word.
- Kies ook skermvrye tye wanneer geen skermtyd toegelaat word. Pak dan al die toestelle weg sodat dit nie jou of jou kinders se aandag aflei nie.
- Besluit saam as gesin wanneer selfone, tablette en skootrekenaars toegemaak word om kwaliteit tyd saam met mekaar deur te bring sonder enige onderbrekings. Aandete of stiltetyd in die oggend kan byvoorbeeld goed werk.
- Raak aktief. Wanneer selfone weggepak word, is die hande vry vir oefening en speel. Stap in die natuur of laat die kinders buite hardloop. Die gesondheidsvoordele is voor die hand liggend, en kos nie ‘n sent nie. Los die toestelle in die huis en geniet die kosbare oomblikke saam met jou mense.